DANIËL 4:18-27

DANIËL 4:18-27 NLV

“‘Dit was die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Beltsasar, jy moet nou vir my sê wat dit beteken. Nie een van die ander raadgewers in my koninkryk kan dit vir my verklaar nie. Jy kan dit doen, want die gees van die heilige gode is in jou.’” “Daniël, ook genoem Beltsasar, was vir ’n ruk lank verbysterd. Hy was ontsteld oor wat in sy gedagtes opgekom het. Die koning sê toe: ‘Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou omkrap nie.’ “Beltsasar het geantwoord: ‘U Majesteit, ek wens die droom en sy betekenis het eerder met u vyande gebeur. Die boom wat u gesien groei en grootword het sodat almal oor die hele wêreld dit kon sien, met sy groen blaredak en sy baie vrugte waarvan almal kon eet, sy skaduwee waaronder al die diere van die veld kon skuil en sy takke waarin die voëls van die lug kon nes maak, is u self. U Majesteit, u het groot en sterk geword. U aansien het hemelhoog geword. U regeer tot by die uithoeke van die aarde. “‘U Majesteit, u het ’n heilige bo-aardse wese gesien wat afkom uit die hemel. Hy het gesê: Kap die boom af! Vernietig dit! Laat staan net sy stam en wortels, met ’n band van yster en koper om, in die grond tussen die gras van die veld! Laat die dou uit die lug op hom kom en laat hy by die diere van die veld bly totdat sewe tydperke verbygegaan het. “‘U Majesteit, die droom beteken dat God die Allerhoogste oor u ’n besluit geneem het. U sal van die mense af weggejaag word en tussen die wilde diere van die veld moet gaan bly. U sal gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug sal op u val. Sewe tydperke sal vir u verbygaan totdat u erken dat dit God die Allerhoogste is wat oor die koninkryke van mense regeer en dit gee vir wie Hy wil. Dat hulle gesê het die boomstomp en sy wortels moet in die grond oorbly, beteken dat u u koningskap weer sal terugkry sodra u erken het dat dit die hemele is wat eintlik regeer. “‘O Koning, luister tog na my raad. Breek met u sondes en doen wat reg is. Los u onregverdigheid en sorg vir dié wat behoeftig is. Miskien hou u voorspoed dan nog ’n bietjie langer.’