ESEGIËL 38

38
’n Boodskap vir Gog
1Die Here het met my gepraat: 2“Mensekind, kyk na Gog van die land Magog, die prins wat oor die nasies van Mesek en Tubal regeer. Profeteer teen hom. 3Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Ek is jou vyand, Gog, grootkoning van Mesek en Tubal! 4Ek draai teen jou en sit hake in jou kakebeen om jou en al jou soldate, perde en ruiters, soldate met klein en groot skilde, almal met swaarde, na julle vernietiging te lei. 5Persië, Kus en Put, almal met skilde en swaarde, sal saam met hulle wees. 6So ook Gomer en sy baie mense, Bet-Togarma uit die verre noorde en sy mense saam met baie nasies.
7“Maak reg! Wees gereed, jy en al jou soldate. Neem beheer oor hulle almal. 8Oor ’n lang tyd sal jy opgeroep word. Dan sal jy na ’n land gaan wat van oorlog herstel het. Daardie land se mense is bymekaargemaak uit al die nasies om op die berge van Israel, wat lank verlate gelê het, te bly. Hulle is tussen die nasies uitgebring en bly nou veilig. 9Dan sal jy en jou bondgenote en baie soldate soos ’n storm oor hulle aanrol en die land soos ’n wolk toemaak.
10“So sê die oppermagtige Here: Daardie tyd sal jy ’n bose plan uitdink. 11Jy sal sê: ‘Ek gaan die land wat oop lê, aanval. Ek gaan hierdie mense wat so onbesorgd lewe, sonder hoë mure en poorte, vernietig! 12Ek gaan die puinhope wat herbou is, plunder. Die mense het teruggekom uit die nasies en is nou ryk met hulle groot kuddes en besittings. Hulle bly in die middel van die aarde!’ 13Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis sal vra: ‘Het jy kom plunder? Het jy jou soldate bymekaargemaak om die vee weg te dryf en die besittings te vat, die goud en silwer as buit weg te dra?’
14“Daarom, mensekind, profeteer teen Gog. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Die dag as my volk in vrede leef, sal jy jouself gereedmaak. 15Dan kom jy met al jou ruiters en soldate van jou land af in die verre noorde, jy en baie ander nasies. 16Jy sal die land soos ’n wolk toemaak. Dit gebeur in die verre toekoms. Ek gaan jou teen my land bring terwyl almal kyk, Gog, sodat die nasies sal sien hoe Ek Myself as die Heilige deur jou openbaar.
17“So sê die oppermagtige Here: Jy is die een van wie Ek lankal deur my profete gepraat het. Toe het Ek gesê dat Ek jou in die toekoms teen my volk sal laat optrek. 18Daardie dag, as Gog die land Israel binneval, sal Ek baie kwaad word, sê die oppermagtige Here. 19In my brandende woede belowe Ek dat daar ’n groot aardbewing in die land Israel sal wees. 20Die vis, voëls en diere, alles wat beweeg en al die mense sal voor My bewe. Berge sal omgegooi word, kranse sal inmekaarstort en mure sal omval. 21Ek stuur ’n swaard teen Gog op my berge, sê die oppermagtige Here. Elkeen sal teen sy broer baklei. 22Dan straf Ek jou met siekte en dood. Ek stort wolkbreuke, hael, vuur en brandende swael uit oor jou en jou soldate en die baie nasies saam met jou. 23So wys Ek hoe groot en heilig Ek is. Baie nasies sal My leer ken. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 38: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan