NEHEMIA 2:1-20

NEHEMIA 2:1-20 NLV

Vier maande later, nog in die twintigste jaar van koning Artasasta, was ek besig om wyn vir die koning te skink. Nooit tevore was ek so swaarmoedig in sy teenwoordigheid nie. Die koning vra my toe: “Hoekom lyk jy so hartseer? Jy is mos nie siek nie. Jy lyk diep bekommerd.” Toe het groot vrees my beetgepak, maar ek het geantwoord: “Mag die koning lank lewe! Ek het rede om hartseer te wees. Die stad waar my voorouers begrawe lê, is verwoes. ’n Vuur het ook die poorte afgebrand.” Toe vra die koning: “Hoe kan ek jou help?” Ek bid toe tot die God van die hemel, en antwoord die koning: “As dit reg is met u, en u is tevrede met my as u dienskneg, stuur my dan na Juda toe. Ek sal dan kan gaan na die stad waar my voorouers begrawe lê, en dit herbou.” Die koning, met die koningin wat langs hom sit, vra toe: “Hoe lank sal jy weg wees? Wanneer sal jy terugkom?” Nadat ek vir hom ’n aanduiding van die tyd gegee het, het die koning ingestem om my te stuur. Ek het ook vir die koning gesê: “As u dit goedvind, gee vir my briewe saam vir die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier. Beveel hulle om my veilig deur hulle gebiede te laat trek op pad na Juda toe. Gee my ook asseblief ’n brief vir Asaf, die toesighouer van die staatsbos. Beveel hom om hout aan my te voorsien. Ek het dit nodig vir die balke van die deure van die vesting wat by die tempel is, vir die stadsmure en die huis waarin ek sal woon.” Die koning het hierdie versoeke toegestaan, want God was my goedgesind. Met my aankoms by die provinsie wes van die Eufraatrivier het ek die briewe van die koning aan die goewerneurs oorhandig. Vir my beskerming het die koning ook offisiere en ruiters saamgestuur. Maar toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar van my aankoms te hore kom, was hulle baie kwaad dat iemand van plan was om die Israeliete te help. Drie dae ná my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar ander mense in die nag uitgesluip. Ek het toe nog vir niemand vertel van die planne wat God oor Jerusalem in my wakker gemaak het nie. Ons het geen pakdiere saam met ons gevat nie, behalwe die donkie waarop ek gery het. Dié nag het ek by die Valleipoort uitgegaan, verby die Jakkalsfontein tot by die Mispoort. Ek het die beskadigde mure van Jerusalem en die afgebrande hekke gaan ondersoek. Daarna het ek na die Fonteinhek en die Koningsdam gery, maar my donkie kon nie deur die bourommel loop nie. Ek het toe in plaas daarvan in die Kidronvallei op beweeg. Ek het die muur ondersoek en daarna teruggedraai en weer deur die Valleipoort die stad binnegegaan. Die amptenare van die stad het nie geweet dat ek uitgegaan het of waarmee ek besig was nie. Ek het nog nie die Jode oor my planne ingelig nie. Ek het ook nog nie met die godsdienstige of die politieke leiers daaroor gepraat nie, ook nie met die amptenare of die mense wat die werk sou doen nie. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in hoe ’n benarde posisie ons is. Jerusalem is verwoes en die stadshekke is verbrand! Maar kom ons begin die mure van Jerusalem herbou sodat ons nie langer verleë hoef te wees nie.” Toe het ek hulle begin vertel hoe goed God vir my voorsien het en van my gesprek met die koning. Hulle het dadelik reageer en gesê: “Dit is reg so. Kom ons bou die muur weer op!” Hulle het toe met die goeie werk begin. Maar toe Sanballat, Tobija die Ammonitiese amptenaar en die Arabier Gesem van ons planne hoor, het hulle ons minagtend gekoggel en gevra: “Wat dink julle doen julle om so teen die koning in opstand te kom?” Ek het hulle geantwoord: “Ons sal met die hulp van die God van die hemel suksesvol wees. Ons is sy diensknegte, ons sal die mure begin herstel. Julle het geen aandeel aan of historiese aanspraak op Jerusalem nie.”