NUMERI 23

23
1Bileam het vir Balak gesĂȘ: “Bou vir my sewe altare op hierdie plek. Jy moet sewe bulle en sewe ramme voorberei om te offer.” 2Balak het gemaak soos Bileam gevra het. Hy en Bileam het ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer.
3Bileam sĂȘ toe vir Balak: “Bly hier staan by die offers wat jy gebring het. Laat ek gaan kyk of die Here my nie miskien wil ontmoet nie. Ek sal vir jou kom sĂȘ wat Hy my laat sien het en aan my geopenbaar het.”
Bileam het toe op ’n kaal koppie geklim. 4God het Bileam daar ontmoet. Hy het vir God gesĂȘ: “Ek het sewe altare gebou en op elkeen ’n bul en ’n ram geoffer.”
5Die Here het toe vir Bileam gesĂȘ wat hy vir Balak moet sĂȘ. Hy het gesĂȘ: “Gaan terug na Balak toe en gee vir hom hierdie boodskap.” 6Toe hy by Balak terugkom, het die koning en al die amptenare van Moab by die brandoffers gestaan. 7Hy het die boodskap oorgedra:
“Van Aram af het Balak
my laat kom.
Die koning van Moab
het my laat kom
vanaf die berge in die ooste.
Hy het gesĂȘ: Kom!
Kom vervloek Jakob vir my!
Kom kondig
Israel se ondergang aan!
8Hoe kan ek hulle vervloek
vir wie God
nie vervloek het nie?
Hoe kan ek ondergang voorspel
vir hulle vir wie die Here
dit nie gedoen het nie?
9Ek sien hulle
van bo van die kranse af.
Bo van die heuwels af
hou ek hulle dop.
Ek sien ’n volk wat op hulle eie is,
wat by die nasies
nie getel word nie.
10Wie kan Jakob
se nageslag#23:10 Of stof. tel?
Wie kan selfs ’n kwart van Israel tel?
Mag ek as ’n regverdige sterf.
Mag my dae soos hulle s’n eindig.”
11Balak vra toe vir Bileam: “Wat maak jy met my? Ek het jou gebring om my vyand te vervloek, maar jy staan en seĂ«n hulle!”
12Bileam het geantwoord: “Ek kan net dit sĂȘ wat God my meegedeel het.”
Bileam se tweede uitspraak vanaf Pisgaberg
13Balak sĂȘ toe vir hom: “Kom saam met my na ’n ander plek toe. Jy sal van daar af ’n deel van die Israeliete kan sien. Vervloek hulle vir my van daar af.” 14Hy het hom na die top van die Pisgaberg in die vlakte van Sofim toe gevat. Daar het hy sewe altare gebou. Op elkeen het hy ’n bul en ’n ram geoffer.
15Bileam sĂȘ toe vir Balak: “Staan net so hier by jou brandoffers. Ek sal die Here daar anderkant ontmoet.”
16Die Here het Bileam ontmoet. Hy het vir hom nog ’n boodskap gegee. Hy het vir hom gesĂȘ: “Gaan terug na Balak en gee vir hom hierdie boodskap.”
17Hy is toe terug na Balak toe. Hy het saam met sy amptenare by sy brandoffer gestaan. “Wat sĂȘ die Here?” het Balak vir hom gevra.
18Hy het toe die boodskap gebring:
“Staan op, Balak! Luister!
Hoor mooi wat ek vir jou sĂȘ,
seun van Sippor!
19God is nie ’n mens
dat Hy sal lieg nie.
Hy is nie ’n mens
wat ‘ekskuus’ sal sĂȘ nie.
Het Hy al ooit iets gesĂȘ
wat Hy nie gedoen het nie?
Het Hy iets belowe
wat Hy nie nagekom het nie?
20Ek het die opdrag gekry
om te seën.
Hy het geseën
en ek kan dit nie omdraai nie.
21Hy het vir Jakob
nie teëspoed in gedagte nie.
Hy het nie moeilikheid
in die vooruitsig vir Israel nie.
Die Here sy God is by hulle.
Hy is koning oor hulle.
22Hy het hulle uit Egipte bevry.
Hy is vir Israel
soos die brute krag
van ’n bees.
23Geen voorspelling
kan iets doen aan Jakob nie.
Geen waarsĂȘery het
krag teen Israel nie.
Van Jakob sal gesĂȘ word:
‘Watter wonderlike dinge
het God vir Israel gedoen.’
24Die volk staan op en rek hom uit
soos ’n leeu.
Hy gaan nie lĂȘ
voor hy sy prooi
opgevreet het nie,
voor hy die bloed gedrink het
van die een
wat hy gevang het nie.”
Bileam se derde uitspraak vanaf Peorberg
25Balak sĂȘ toe vir Bileam: “As jy hulle nie gaan vervloek nie, mag jy hulle ook nie seĂ«n nie!”
26Bileam het Balak geantwoord: “Het ek dan nie vir jou gesĂȘ dat ek alles moet doen wat die Here vir my sĂȘ nie?”
27Balak sĂȘ vir Bileam: “Kom laat ek jou na nog ’n ander plek toe vat. Miskien is dit reg vir God om hulle van daar af te vervloek.”
28Balak het Bileam toe na die piek van Peorberg gevat wat oor die woestyn uitkyk#23:28 Of oor die vlakte van Jesimon.. 29Bileam het weer vir Balak gesĂȘ: “Bou vir my hier sewe altare. Jy moet sewe bulle en sewe ramme voorberei om daarop te offer.” 30Hy het gemaak soos Bileam vir hom gesĂȘ het. Hy het die beeste en ramme op die altare geoffer.

Tans Gekies:

NUMERI 23: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hĂȘ? Teken in of teken aan