Daniël 2:1-18

Daniël 2:1-18 ABA

Koning Nebukadnesar het gedroom. Dit was in die tweede jaar nadat hy koning geword het. Hy het bekommerd geword. Hy kon nie weer slaap nie. Die koning het toe al die slim mense laat roep sodat hulle vir hom kon sê wat hy gedroom het. Hulle het gekom en hulle het voor die koning gaan staan. Die koning het vir hulle gesê: “Ek het gedroom en ek is bekommerd oor wat ek gedroom het. Ek wil weet wat die droom beteken.” Die slim mense het toe in die Aramese taal gepraat en vir die koning gesê: “Ons hoop die koning sal lank lewe. Sê vir ons wat jy gedroom het, dan sal ons vir jou sê wat dit beteken.” Maar die koning het vir die slim mense gesê: “Nee, ek het besluit júlle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie doen nie, dan sal my manne julle doodmaak en in stukke kap en julle huise afbreek. Maar as julle vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, dan sal ek vir julle baie presente gee, en julle sal baie belangrike mense word. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken.” Die slim mense het weer gesê: “Koning, jy moet eers vir ons sê wat jy gedroom het, dan sal ons sê wat dit beteken.” Toe sê die koning vir hulle: “Ek weet julle wil eers dink wat julle moet doen. Julle weet ek het klaar besluit wat ek met julle sal doen as julle nie vir my kan sê wat ek gedroom het nie. Julle wil eers saam besluit om vir my iets te vertel wat nie waar is nie. Julle hoop daar gebeur iets wat julle sal help. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet julle kan ook vir my sê wat dit beteken.” Die slim mense het vir die koning gesê: “Niemand op die aarde kan doen wat die koning wil hê nie. Daar is nie een ander belangrike koning wat so iets vir 'n slim mens gevra het nie. Die koning wil hê ons moet iets doen wat ons nie kan doen nie. Niemand anders kan dit doen nie. Net die gode kan dit doen, en hulle woon nie hier by die mense nie.” Die koning word toe baie kwaad, en hy sê sy soldate moet al die wyse mense in Babel doodmaak. Toe die koning sê hulle moet die wyse mense doodmaak, het die soldate vir Daniël en sy vriende ook gesoek om hulle dood te maak. Arjok was die hoof van die soldate wat die koning moes oppas, en die koning het gesê hy moet die wyse mense van Babel doodmaak. Arjok het gegaan om dit te doen, maar toe het Daniël met hom gaan praat. Daniël was slim om met Arjok te gaan praat. Hy het vir Arjok gevra: “Hoekom is die koning so kwaad? Hoekom het hy besluit om ons dood te maak?” Arjok het vir Daniël vertel wat gebeur het. Daniël het na die koning toe gegaan en gevra die koning moet 'n bietjie wag, dan sal hy vir die koning sê wat die droom beteken. Daniël het huis toe gegaan en vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat gebeur het. Hy het gebid die God van die hemel moet vir hulle goed wees en vir hom sê wat die koning gedroom het. Dan sal die koning se manne nie vir Daniël en sy vriende doodmaak saam met die ander wyse mense van Babel nie.