Deuteronomium 8

8
Die Israeliete moenie die Here vergeet nie
1Moses het gesê: “Julle moet gehoorsaam wees aan al die wette wat ek vandag vir julle gee. As julle dit doen, dan sal julle lewe en julle sal baie word. Julle sal die land vir julleself gaan vat, die land wat die Here vir julle voorvaders belowe het. 2En julle moet alles onthou wat julle God die Here met julle laat gebeur het toe julle 40 jaar in die woestyn was. Hy wou julle verneder, want Hy wou weet hoe julle voel. Hy wou weet of julle sal doen wat sy wette sê. 3Hy het julle verneder en honger laat word en toe het Hy vir julle die manna gegee om te eet. Julle en julle voorvaders het voorheen nie manna geken nie. Die Here wou hê dat julle moet verstaan dat 'n mens nie net van brood kan lewe nie, 'n mens lewe van elke woord wat uit die mond van die Here kom. 4In hierdie 40 jaar het julle klere nie stukkend geword nie en julle voete het nie geswel nie. 5Julle moet weet dat die Here vir julle wil leer om reg te lewe, dit is dieselfde soos wanneer 'n pa vir sy kind wil leer om reg te lewe. 6Julle moet doen wat die wette van die Here sê, julle moet lewe soos Hy wil hê en julle moet Hom dien. 7Want julle God die Here bring julle na 'n goeie land. Dit is 'n land waar daar baie water is, daar is riviere en fonteine en diep water wat uit die berge én uit die valleie kom. 8Daar is koring en gars, wingerde en vyebome en granaatbome. Dit is 'n land waar daar olyfbome en heuning is. 9Dit is 'n land waar julle nie min kos sal hê nie, daar sal genoeg wees van alles. Dit is 'n land waar daar yster in die klippe is en waar julle koper uit die berge sal kan uitgrawe. 10En wanneer julle eet en genoeg het, dan moet julle vir julle God die Here prys en vir Hom dankie sê vir die goeie land wat Hy vir julle gegee het. 11Julle moet versigtig wees, julle moenie julle God die Here vergeet nie, julle moet doen wat sy wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee. 12Wanneer julle eet en genoeg kry en mooi huise bou en daarin woon, 13en julle het baie beeste en skape en bokke, en julle silwer en goud word baie, alles wat julle het, word baie, 14dan moet julle nie hoogmoedig word en julle God die Here vergeet nie. Hy het julle uit die land Egipte gebring, die land waar julle slawe was. 15Hy het julle deur die groot en gevaarlike woestyn gelei, die woestyn waar slange op die grond seil en ook vlieg, waar daar skerpioene is en waar alles droog is, daar is niks water nie. Hy het vir julle water laat uitkom uit die kliprots. 16Hy het vir julle manna in die woestyn gegee om te eet, manna is iets wat julle voorvaders nie geken het nie. Hy wou julle verneder om julle te toets, maar Hy wou later goed doen aan julle. 17Wanneer julle eet en genoeg het, dan moet julle nie sê dat julle dit alles self gedoen het nie, moenie sê julle het al hierdie goed bymekaargemaak met julle eie krag nie. 18Nee, julle moet onthou dat dit julle God die Here is wat vir julle die krag gegee het om alles bymekaar te maak. Hy het dit gedoen sodat die verbond altyd daar sal wees, die verbond wat Hy met julle voorvaders gemaak het. 19As julle nou regtig julle God die Here vergeet en julle gaan dien ander gode en julle buig voor hulle, dan waarsku ek nou vir julle: Julle sal almal sterf, dit is seker. 20As julle ongehoorsaam is aan julle God die Here, dan sal julle sterf soos die volke wat Hy laat sterf het om plek te maak vir julle.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan