Eksodus 31

31
Die Here kies vir Besaleël en Oholiab om die werk te doen
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Ek het vir Besaleël gekies om die werk te doen. Hy is die seun van Uri, en Uri is die seun van Gur. Besaleël is van die Juda-stam. 3Ek het vir Besaleël wysheid en 'n goeie verstand gegee sodat hy baie soorte werk goed kan doen. 4Hy kan planne teken en dinge maak van goud en silwer en brons. 5Hy kan juwele maak van edelstene en hy kan houtwerk doen. Hy kan baie soorte werk doen. 6Ek het vir Oholiab gekies om hom te help. Hy is die seun van Agisamak van die Dan-stam. Ek het ook al die ander ambagsmanne vaardig gemaak, sodat hulle alles kan doen wat Ek vir julle sê. 7Hulle moet die tent maak waar Ek aan julle sal verskyn, die kis waarin die tien gebooie moet kom en die deksel wat daarop moet kom, en alles wat by die tent moet wees. 8Hulle moet ook die tafel maak en alles wat by die tafel moet wees, die lampstaander van skoon goud en alles wat daarby moet wees, die wierook-altaar, 9die brandoffer-altaar en alles wat daarby moet wees, die was-skottel en sy voetstuk, 10die gewyde klere vir die priester Aäron, en die priester-klere wat sy seuns moet aantrek. 11Hulle moet ook die salf-olie en die wierook vir die tempel maak. Ek hou daarvan. Hulle moet dit alles maak soos Ek vir jou gesê het.”
Die Sabbatdag
12Die Here het vir Moses gesê: 13“Sê vir die Israeliete: ‘Julle moet altyd die Sabbatdag vier. Julle moet dit doen, want dit sal 'n bewys wees van die verbond tussen My en julle. As julle nageslag sien julle doen dit, dan sal hulle weet dat Ek die Here is wat julle gekies het om aan My te behoort. 14Daarom moet julle die Sabbatdag vier. Dit moet vir julle 'n gewyde dag wees. As iemand die Sabbatdag ontwy, dan moet julle hom doodmaak. Ja, julle moet elkeen wat op die Sabbatdag werk, afsny van sy volk. 15Julle moet ses dae werk, maar die sewende dag is die Sabbatdag. Dit is 'n dag wanneer julle heeltemal moet rus, want hierdie dag is gewy aan My. Julle moet elkeen doodmaak wat op die Sabbatdag werk. 16Die Israeliete moet op die Sabbatdag doen wat Ek gesê het. Julle nageslag moet ook altyd die Sabbatdag vier. 17Dit sal altyd 'n bewys wees van die verbond tussen My en die Israeliete. Ek het die hemel en die aarde in ses dae gemaak, maar op die sewende dag het Ek nie gewerk nie. Ek het toe gerus.’ ”
18Toe die Here klaar met Moses gepraat het op Sinai-berg, het Hy vir Moses die twee klippe gegee waarop Hy die tien gebooie geskryf het. Dit was plat klippe, en God het die tien gebooie met sy vinger daarop geskryf.

Tans Gekies:

Eksodus 31: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan