Numeri 24

24
1Bileam het nou geweet dat die Here wil hê hy moet die Israeliete seën, en hy het nie soos voorheen gesoek na 'n teken nie. Hy het na die woestyn gekyk 2en toe hy sien dat elke stam van Israel op sy eie plek langs die ander stamme woon, het die Gees van God in hom gekom 3en hy het begin praat. Hy het gesê:
“Dit is Bileam seun van Beor
wat praat,
God wys vir my dinge.
4Ek is 'n man wat hoor
wat God vir my sê,
en wat sien wat die Almagtige
vir my wys.
Wanneer ek gaan lê en ek bid,
dan wys God vir my dinge.
5Israeliete, julle tente
is baie mooi,
julle woonplekke is mooi.
6Hulle lyk soos lang valleie,
soos tuine langs 'n rivier,
soos aalwyne wat die Here
geplant het,
soos sederbome langs die water.
7Die Israeliete se waterkruike
loop oor,
hulle saai koring by baie water.
Hulle koning is sterker
as koning Agag,
en hulle land word altyd groter.
8God het hulle uit Egipte gebring,
Hy is vir hulle soos die horings
van 'n oer-os.
Hulle sal die volke oorwin
wat hulle vyande is,
hulle sal die vyande
se bene breek
en hulle sal die vyande
met pyl en boog skiet.
9Die Israeliete is soos 'n leeu.
Wie sal 'n leeu opjaag
as hy gaan lê het?
Israeliete, die Here seën
die mense wat vir julle seën,
en Hy vervloek die mense
wat vir julle vervloek.”
10Balak was baie kwaad vir Bileam. Hy het sy hande teen mekaar geslaan en hy het vir Bileam gesê: “Ek het jou laat roep om my vyande te vervloek, maar jy het hulle nou drie maal geseën. 11Nou moet jy loop, terug na jou plek. Ek het gesê ek sal jou baie ryk maak, maar die Here het dit gekeer, jy sal nie ryk word nie.”
12Bileam het vir Balak gesê: “Jy het jou boodskappers na my toe gestuur. Ek het vir hulle gesê: 13‘Ek moet altyd doen wat die Here vir my sê, ook as Balak vir my sy huis vol silwer en goud gee. Ek kan niks self besluit nie, nie goed of sleg nie. Ek sal net sê wat die Here vir my sê.’ 14Nou gaan ek terug na my mense toe. Maar ek sal nou vir jou sê wat hierdie volk eendag aan jou volk sal doen.”
Bileam praat die vierde maal
15Bileam het toe begin praat en gesê:
“Dit is Bileam seun van Beor
wat praat,
God wys vir my dinge.
16Ek is 'n man wat gehoor het
wat God vir my sê,
wat weet wat die Hoogste God
vir my leer,
wat sien wat die Almagtige
vir my wys.
Wanneer ek gaan lê en ek bid,
dan wys God vir my dinge.
17Ek sien iemand kom,
maar nie nou nie,
Ek sien hom, maar hy is nie
naby nie.
Daar sal 'n ster uit die volk
Israel kom,
'n koning sal uit
die Israeliete kom,
en hy sal trap op die grense
van die land Moab,
hy sal die nageslag
van Set verwoes.
18Die Israeliete sal die land Edom
vir hulleself vat,
die land Seïr sal behoort
aan die vyande van die land.
Maar Israel sal 'n sterk
volk wees.
19Iemand van die nageslag
van Jakob sal regeer,
en hy sal die mense doodmaak
wat wegvlug uit die stad Ir.”
20Toe kyk Bileam na die Amalekiete, en hy begin weer praat en hy sê:
“Die Amalekiete was
die belangrikste volk,
maar eendag sal hulle
vir altyd verdwyn.”
21Toe kyk hy na die Keniete, en hy begin praat en hy sê:
“Julle het 'n plek waar julle
altyd woon,
julle woon op 'n rots,
22maar wanneer die Assiriërs
julle vang en wegvat,
dan sal hulle die woonplek
van Kain verbrand.”
23Bileam het weer begin praat. Hy het gesê:
“Wie sal kan lewe wanneer God
al hierdie dinge laat gebeur?
Niemand.
Dit sal sleg gaan met julle.
24Daar sal skepe
van die Kittiërs kom,
en hulle sal die Assiriërs
en die Hebreërs oorwin,
maar die skepe sal self sink
vir altyd.”
25Daarna het Bileam gereedgemaak en hy het teruggegaan na sy plek, en Balak het ook huis toe gegaan.

Tans Gekies:

Numeri 24: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan