1 Kronieke 13

13
Verskuiwing van die ark
(2 Sam 6:2-11)
1Nadat Dawid met die •aanvoerders van duisend en van honderd, met elke leier, beraadslaag het, 2 sê hy vir die hele geloofsgemeenskap van Israel: “As julle dit goedvind, en as dit van die Here ons God af kom, kom ons versprei die nuus en stuur die berig deur na ons volksgenote wat nog oor is in al die gebiede van Israel, en saam met hulle ook na die priesters en Leviete in die dorpe waar hulle weiregte het, sodat hulle hier by ons kan byeenkom. 3 Kom ons bring dan die ark van ons God na ons toe, want in Saul se tyd het ons nie daarvoor gesorg nie.” 4Die hele geloofsgemeenskap het ingestem om dit so te doen, want die saak was reg in die oë van die hele volk.
5 Daarop het Dawid die hele Israel, van Sigor in Egipte af tot by Lebo-Hamat, byeen laat kom om die ark van God uit Kirjat-Jearim te bring. 6Dawid en die hele Israel het hierna opgetrek na Baäla, na Kirjat-Jearim wat in Juda geleë is, om van daar af die ark van God, die Here wat troon op die gerubs waaroor die Naam uitgeroep is, te bring. 7 Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa van Abinadab se huis af vervoer, en Ussa en Agjo het die wa begelei. 8 Dawid en die hele Israel was in algehele oorgawe uitbundig voor God, met liedere, harpe, liere, tamboeryne, simbale en trompette.
9Toe hulle by die dorsvloer van Kidon kom, het Ussa sy hand uitgesteek om die ark vas te hou, want die osse het gestruikel. 10 Die toorn van die Here het teen Ussa ontbrand en Hy het hom getref, omdat hy sy hand na die ark uitgesteek het. Hy het net daar voor God gesterf.
11 Dawid was ontsteld dat die Here Ussa uitmekaar geslaan het, en hy het daardie plek Peres-Ussa genoem. Dit is die naam tot vandag toe. 12 Dawid het daardie dag bang geword vir God en gesê: “Hoe kan ek die ark van God na my toe bring?” 13 Dawid het die ark toe nie na hom, na die •Stad van Dawid, laat afdraai nie, maar dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom, 'n man uit Gat. 14Die ark van God het drie maande lank by die huis van Obed-Edom, in sy huis, gebly, en die Here het die huishouding van Obed-Edom en alles wat hy besit, geseën.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan