2 Kronieke 36

36
Jehoagas koning van Juda
1 Die volk van die land het Jehoagas, seun van Josia, geneem en hom in Jerusalem koning gemaak in die plek van sy vader. 2Jehoagas was drie-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank as koning geheers in Jerusalem. 3Die koning van Egipte het hom in Jerusalem afgesit en die land 'n boete opgelê van honderd kikkar silwer en een kikkar goud. 4Die koning van Egipte het toe Eljakim, sy broer, koning gemaak oor Juda en Jerusalem. Hy het sy naam verander na Jojakim. Nego het sy broer Jehoagas weggevat en hom na Egipte geneem.
Jojakim koning van Juda
5Jojakim was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God. 6 Teen hom het Nebukadnesar, die koning van Babilonië, opgetrek en hom met bronsboeie geboei om hom na Babel te neem. 7Van die toebehore in die huis van die Here is deur Nebukadnesar na Babel geneem. Hy het dit in sy paleis in Babel neergesit. 8 Die verdere geskiedenis van Jojakim, sy afstootlike dinge wat hy gedoen het, en wat teen hom gevind is, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het in sy plek koning geword.
Jojagin koning van Juda
9 Jojagin was agttien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande en tien dae lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 10 Teen die jaarwending het koning Nebukadnesar mense gestuur, en hy het hom na Babel laat neem, saam met kosbare voorwerpe uit die huis van die Here. Hy het toe sy broer Sedekia koning gemaak oor Juda en Jerusalem.
Sedekia koning van Juda
11Sedekia was een-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. 12Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here sy God. Hy het hom nie verootmoedig voor Jeremia, die profeet, wat die mondstuk van die Here was nie. 13 Selfs teen koning Nebukadnesar, wat hom by God 'n eed laat aflê het, het hy in opstand gekom. Hy was hardnekkig en het sy hart verhard, en nie na die Here, die God van Israel, teruggekeer nie. 14Ook al die leiers van die priesters en die volk het, in navolging van die afstootlike gebruike van die nasies, al hoe meer ontrou opgetree. Hulle het die huis van die Here wat Hy in Jerusalem geheilig het, verontreinig.
15 Die Here, die God van hulle voorouers, het telkens weer aan hulle boodskappe gestuur by monde van sy boodskappers, want Hy het omgegee vir sy volk en sy woonplek. 16 Hulle het egter telkens die gek geskeer met die boodskappers van God en sy woorde versmaai, terwyl hulle met sy profete die spot gedryf het, totdat die Here se woede teen sy volk opgelaai het, totdat geen herstel meer moontlik was nie.
17God het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek. Hy het hulle jong manne binne-in hulle heiligdom met die swaard doodgemaak. Hy het geen jong man of maagd, oumens of verswakte gespaar nie. Almal is in sy hand gegee. 18Al die toebehore in die huis van God, groot en klein, die skatte van die huis van die Here en van die koning en sy •hoë amptenare, alles het hy na Babel geneem. 19 Hulle het die huis van God afgebrand, die stadsmure van Jerusalem afgebreek, al die stad se vestings verbrand en so alle kosbare voorwerpe daarin vernietig. 20 Hy het dié wat oorgebly het ná die gevegte, in ballingskap weggevoer na Babilonië, waar hulle slawe was vir hom en sy nageslag, totdat die koninkryk van Persië aan die bewind gekom het. 21Dit het gebeur, sodat die woord van die Here, aangekondig by monde van Jeremia, vervul is. Totdat die land sy verlore Sabbatsjare ingehaal het, het dit gerus, die hele tyd wat dit onbewerk gelê het, om die profesie van sewentig jaar te vervul.
Kores se oproep
22 In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die Here die gees van Kores, koning van Persië, aangevuur. Dit het Hy gedoen om sy woord, aangekondig by monde van Jeremia, te vervul. Hy het 'n boodskap dwarsdeur sy hele koninkryk gestuur en dit selfs op skrif gestel:
23“So sê Kores, koning van Persië, ‘Al die koninkryke op aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee. Hy is die Een wat dit aan my opgedra het om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigiemand onder julle uit enige deel van sy volk – die Here sy God is met hom – laat hy optrek!’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan