2 Konings 11

11
Atalia se dood
1 Toe Atalia, Ahasia se moeder, sien dat haar seun dood is, het sy daartoe oorgegaan om die hele koninklike geslag om die lewe te bring. 2Jehoseba, 'n dogter van koning Jehoram, Ahasia se suster, het egter vir Jehoas, seun van Ahasia, gesteel tussen die koning se seuns uit wat doodgemaak sou word, en hom en sy oppasser na 'n slaapkamer geneem. Sy het hom weggesteek vir Atalia, sodat hy nie doodgemaak is nie. 3Saam met haar is hy ses jaar lank versteek in die huis van die Here, terwyl Atalia oor die land regeer het. 4Maar in die sewende jaar het Jojada iemand gestuur en die •aanvoerders van honderd van die Kariërs en die hardlopers laat haal. Hy het hulle by hom in die huis van die Here ingeneem, met hulle 'n ooreenkoms gesluit en hulle 'n eed laat aflê in die huis van die Here. Daarna het hy hulle die koning se seun gewys. 5Hy het hulle beveel: “Dit is wat julle moet doen: Van julle wat op die Sabbat aan diens is – dit is die derde wat gewoonlik wagstaan by die koninklike paleis, 6die derde wat by die Surpoort is, asook die derde wat in die poort agter die hardlopers is – moet om die beurt wag hou by die paleis. 7Die ander twee afdelings van julle, almal wat op die Sabbat van diens af is, moet wag hou by die huis van die Here, by die koning. 8Julle moet rondom die koning stelling inneem, elkeen met sy wapens in sy hand. Enigeen wat deur die kordon wil breek, moet doodgemaak word. Julle moet by die koning wees, wanneer hy uitgaan en wanneer hy ingaan.”
9Die aanvoerders van honderd het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manne geneem, dié wat op die Sabbat aan diens was en dié wat op die Sabbat van diens af was, en na die priester Jojada gegaan. 10Die priester het toe die vegspiese en rondeskilde wat aan koning Dawid behoort het en in die huis van die Here was, vir die aanvoerders van honderd gegee. 11Die hardlopers het elkeen met sy wapens in sy hand vanaf die regterkant van die •tempel tot aan die linkerkant van die tempel gaan staan, voor die altaar en voor die tempelgebou, rondom die koning.
12Toe bring Jojada die seun van die koning uit en plaas die kroon en koninklike simbole op hom. So het hulle hom koning gemaak, hom gesalf, hande geklap en uitgeroep: “Lank lewe die koning!”
13Toe Atalia die uitroepe van die hardlopers en die volk hoor, het sy na die volk in die huis van die Here gegaan. 14Sy sien toe, sowaar, daar staan die koning by die pilaar, soos dit die gebruik was, en die aanvoerders met die trompette by die koning, terwyl die hele volk van die land verheug is, op trompette blaas! Toe skeur Atalia haar klere en roep uit: “Verraad! Verraad!”
15Die priester Jojada gee toe die aanvoerders van honderd, die bevelvoerders van die leër, opdrag en sê vir hulle: “Neem haar buite die kordon. Dié wat haar volg, moet met die swaard doodgemaak word.” Ja, die priester het gesê: “Sy moet nie in die huis van die Here doodgemaak word nie.” 16Hulle het haar beetgepak, en toe sy die koninklike paleis met die ingang waardeur die perde gaan, bereik, is sy daar doodgemaak.
17 Daarop het Jojada 'n verbond gesluit tussen die Here aan die een kant en die koning en die volk aan die ander kant, dat hulle die volk van die Here sou wees; asook 'n verbond tussen die koning en die volk. 18 Die hele volk van die land het toe die tempel van Baäl binnegegaan en dit afgebreek. Sy altare en sy beelde het hulle heeltemal stukkend gebreek. Vir Mattan, die priester van Baäl, het hulle voor die altare doodgemaak.
Daarna het die priester Jojada opsigters oor die huis van die Here aangestel. 19Hy het die aanvoerders van honderd, die Kariërs, die hardlopers en die hele volk van die land geneem, en hulle het die koning uit die huis van die Here afgebring. Hulle het met die pad deur die poort van die hardlopers die koninklike paleis binnegegaan. Hy het toe op die koninklike troon gaan sit. 20Die hele volk van die land was verheug, en die stad was rustig, al het hulle Atalia met die swaard doodgemaak in die koninklike paleis. 21 Jehoas was sewe jaar oud toe hy koning geword het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan