2 Konings 16

16
Agas koning van Juda
1In die sewentiende regeringsjaar van Peka, seun van Remalja, het Agas, seun van Jotam, die koning van Juda, koning geword. 2 Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here sy God, soos sy voorvader Dawid nie. 3 Hy het die pad van die konings van Israel gevolg. Hy het selfs sy seun in die vuur geoffer, soos die afstootlike gebruike was van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het. 4Hy het geslag en offers verbrand by die offerhoogtes, op die heuwels en onder elke skaduryke boom.
5 In dié tyd het Resin, die koning van Aram, en Peka, seun van Remalja, die koning van Israel, opgetrek na Jerusalem vir 'n geveg. Hulle het Agas beleër, maar hulle kon nie 'n geveg afdwing nie. 6In daardie tyd het Resin, die koning van Aram, Elat herower vir Aram, en die Judeërs uit Elat uitgedryf. Die Edomiete het toe Elat binnegegaan en daar gaan woon; dit is vandag nog so.
7 Agas het boodskappers na Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gestuur om vir hom te sê: “Ek is u dienaar en u seun. Trek op en verlos my uit die greep van die koning van Aram en uit die greep van die koning van Israel wat teen my opstaan.” 8 Agas het die silwer en goud wat te vinde was in die huis van die Here en in die skatkamers van die koninklike paleis, geneem en as 'n geskenk aan die koning van Assirië gestuur. 9Die koning van Assirië het toe aan sy versoek voldoen.
Die koning van Assirië het teen Damaskus opgetrek en dit verower. Die stad se inwoners het hy weggevoer na Kir, en Resin het hy doodgemaak. 10Toe koning Agas gegaan het om Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, in Damaskus te ontmoet, het hy die altaar gesien wat in Damaskus was. Koning Agas het toe vir Urija, die priester, 'n model van die altaar gestuur, asook 'n volledige plan vir die oprigting daarvan. 11Urija, die priester, het die altaar gebou. Net soos koning Agas dit vir hom uit Damaskus gestuur het, het Urija, die priester, dit gemaak, nog voor die koms van koning Agas uit Damaskus. 12 Die koning het van Damaskus af daar aangekom en die altaar gesien. Die koning gaan toe nader aan die altaar, klim daarop, 13verbrand sy brandoffer en sy •graanoffer, en giet sy •drankoffer uit. Hy het die bloed van sy •maaltydoffer teen die altaar gesprinkel. 14Die bronsaltaar wat voor die Here was, het hy voor die •tempel verwyder, waar dit tussen die nuwe altaar en die huis van die Here gestaan het, en dit aan die noordekant van dié altaar geplaas.
15Koning Agas het Urija, die priester, opdrag gegee: “Op die groot altaar moet jy die brandoffer van die oggend en die graanoffer van die aand verbrand, asook die brandoffer van die koning en sy graanoffer, en die brandoffer van die hele volk van die land en hulle graanoffers en drankoffers. Al die bloed van brandoffers en al die bloed van maaltydoffers moet jy daarteen sprinkel. Die bronsaltaar sal egter tot my beskikking wees om 'n godspraak te verkry. ” 16Urija, die priester, het toe gemaak net soos koning Agas opdrag gegee het.
17Koning Agas het die rame van die verskuifbare staanders verwyder en die waskomme daarvan afgehaal. Die see het hy afgetel van die bronsbeeste wat daaronder was, en dit op 'n klipvloer neergesit. 18Die baldakyn wat hulle vir die Sabbat by die tempel aangebou het en die buitenste ingang vir die koning, het hy van die huis van die Here verwyder, ter wille van die koning van Assirië.
19 Die verdere geskiedenis van Agas, wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 20Agas het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hiskia, sy seun, het in sy plek koning geword.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan