2 Konings 20

20
Hiskia se siekte en herstel
1 In dié tyd het Hiskia dodelik siek geword. Jesaja, seun van Amos, die profeet, het by hom aangekom en vir hom gesê: “So sê die Here, ‘Gee die laaste opdragte oor jou huisgesin, want jy gaan sterf, jy sal nie leef nie.’ ” 2Hiskia het sy gesig na die muur gedraai, en tot die Here gebid en gesê: 3“Ag, Here, dink tog daaraan dat ek voor U geleef het in getrouheid en met 'n onverdeelde hart, dat ek gedoen het wat goed is in u oë. ” Hiskia het toe bitterlik gehuil.
4Jesaja was nog nie by die middelste voorhof uit nie, toe die woord van die Here tot hom kom en sê: 5“Draai om en sê vir Hiskia, die leier van my volk, ‘So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek gaan jou gesond maak. Op die derde dag sal jy weer opgaan na die huis van die Here. 6Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg, en jou en hierdie stad sal Ek uit die greep van die koning van Assirië red. Ek sal hierdie stad afskerm om my ontwil en ter wille van Dawid, my dienskneg. ” ’ ”
7 Toe sê Jesaja: “Bring saamgeperste droë vye!” Hulle het dit gebring en op die sweer gesit; en hy het bly leef. 8Daarop vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die Here my gesond sal maak, en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van die Here?9Jesaja het geantwoord: “Dit sal vir jou van die Here af die teken wees dat die Here die woord wat Hy gespreek het, sal uitvoer: Moet die skaduwee tien eenhede vorentoe skuif, of moet dit tien eenhede terugskuif?” 10Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien eenhede vooruit te skuif. Nee, die skaduwee moet eerder tien eenhede terugskuif.” 11Toe het Jesaja, die profeet, die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds op die sonwyser van Agas afgesak het, tien eenhede laat terugskuif.
Gesante uit Babel
12 In daardie tyd het Merodag-Baladan, seun van Baladan, die koning van Babilonië, briewe en 'n geskenk na Hiskia gestuur, want hy het gehoor dat Hiskia siek is. 13Hiskia het die boodskappers te woord gestaan en hulle sy hele skatkamer gewys – die silwer, die goud, die speserye en die kosbare olie – ook sy arsenaal en alles wat in sy voorraadkamers te vinde was. Daar was niks in sy paleis of in sy hele koninkryk wat Hiskia hulle nie gewys het nie.
14Jesaja, die profeet, het na koning Hiskia gekom en hom gevra: “Wat het hierdie manne gesê, en van waar af het hulle na jou toe gekom?” Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land het hulle gekom, uit Babilonië.” 15Jesaja vra toe: “Wat het hulle in jou paleis gesien?” Hiskia het geantwoord: “Alles wat in my paleis is, het hulle gesien. Daar is niks in my voorraadkamers wat ek nie vir hulle gewys het nie.” 16Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hoor die woord van die Here, 17 ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, weggedra sal word na Babel; daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê. 18‘En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, en hulle sal paleisamptenare word in die paleis van die koning van Babilonië.’ ” 19Hiskia sê toe vir Jesaja: “Die woord van die Here wat jy gespreek het, is goed.” Hy het gedink: Sal daar dan nie tog maar net vrede en bestendigheid in my tyd wees nie?
Hiskia se dood
20 Die verdere geskiedenis van Hiskia, al sy magtige dade, dat hy die dam en die tonnel gemaak, en die water na die stad gebring het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 21Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Manasse het in sy plek koning geword.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan