2 Konings 21

21
Manasse koning van Juda
1 Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gefsiba. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. In ooreenstemming met die afstootlike gebruike van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, 3het hy die offerhoogtes wat sy vader, Hiskia, afgebreek het, weer opgebou. Hy het altare opgerig vir Baäl en 'n asjera gemaak, soos wat Agab, die koning van Israel, gemaak het; en hy het voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en hulle gedien. 4 Hy het selfs altare in die huis van die Here gebou, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem sal Ek my Naam vestig.” 5In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare gebou vir al die hemelliggame. 6 Hy het sy seun in die vuur geoffer, voortekens gelees, wiggelary beoefen en dodebesweerders en waarsêers aangestel. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, om Hom uit te tart. 7Hy het die gesnede beeld van Asjera wat hy gemaak het, in die •tempel geplaas, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie tempel en in Jerusalem, wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. 8Ek sal nie meer die voete van Israel laat rondswerf, weg van die grond wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie, as hulle maar net nougeset alles doen wat Ek hulle beveel het – die hele wet wat my dienskneg Moses hulle beveel het.”
9Maar hulle het nie geluister nie, en Manasse het hulle verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die Here voor die Israeliete uitgedelg het. 10Die Here het by monde van sy diensknegte, die profete, gesê: 11“ Omdat Manasse, die koning van Juda, hierdie afstootlike dinge gedoen het – hy het meer kwaad gedoen as alles wat die Amoriete voor hom gedoen het, en hy het ook Juda laat sondig met sy afgodsbeelde – 12daarom, so sê die Here, die God van Israel,
“ ‘Kyk, Ek gaan so 'n onheil
oor Jerusalem en Juda bring,
dat elkeen wat daarvan hoor,
se twee ore sal tuit.
13Ek gaan oor Jerusalem
die maatlyn van Samaria span,
en die skietlood van die huis
van Agab.
Ek gaan Jerusalem skoonvee
soos mens 'n skottel skoonvee –
as dit skoongevee is,
word dit omgekeer.
14Ek sal wat oorgebly het
van my erfenis, verstoot;
Ek sal hulle oorgee
in die hand van hulle vyande.
Hulle sal buit word en oorlogsroof
vir al hulle vyande,
15omdat hulle gedoen het
wat verkeerd is in my oë
en My bly uittart het,
van die dag dat hulle voorouers
uit Egipte getrek het
tot vandag toe.’ ”
16Boonop het Manasse so baie onskuldige bloed vergiet dat hy Jerusalem daarmee van hoek tot kant gevul het. Dit was afgesien van sy sonde waarmee hy Juda laat sondig het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here.
17 Die verdere geskiedenis van Manasse, alles wat hy gedoen het, en die sonde wat hy gepleeg het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 18Manasse het by sy voorouers gaan rus, en hy is begrawe in die tuin van sy paleis, in die tuin van Ussa. Sy seun Amon het in sy plek koning geword.
Amon koning van Juda
19Amon was twee-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Mesullemet, dogter van Garus, uit Jotba. 20Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, soos sy vader Manasse gedoen het. 21Hy het die pad wat sy vader geloop het, volledig gevolg. Hy het die afgodsbeelde gedien wat sy vader gedien het, en voor hulle in aanbidding gebuig. 22Hy het die Here, die God van sy voorouers, verlaat. Hy het nie die pad van die Here gevolg nie. 23Amon se amptenare het toe 'n komplot teen hom gesmee. Hulle het die koning in sy paleis doodgemaak. 24Maar die volk van die land het almal wat teen koning Amon 'n komplot gesmee het, doodgemaak. Toe het die volk van die land Josia, sy seun, in sy plek koning gemaak.
25Die verdere geskiedenis van Amon, wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 26Hy is begrawe in sy graf in die tuin van Ussa. Sy seun Josia het in sy plek koning geword.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan