2 Konings 22

22
Josia koning van Juda
1Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jedida, dogter van Adaja, uit Boskat. 2Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het in alle opsigte die pad van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie.
3In die agttiende regeringsjaar van koning Josia het die koning vir Safan, seun van Asalja, seun van Mesullam, die sekretaris, na die huis van die Here gestuur met die opdrag: 4 “Gaan op na Gilkija, die hoëpriester, en laat hy die geld gereedkry wat in die huis van die Here ingebring is, die geld wat die deurwagters by die volk ingesamel het. 5Hulle moet dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel is by die huis van die Here, sodat hulle dit op hulle beurt vir die manne kan gee wat die werk doen, dié wat in die huis van die Here is om die bouvallige plekke in die •tempel te herstel, 6aan die skrynwerkers, die bouers en die messelaars, om hout en gekapte klip te koop vir die herstel van die tempel.”
7 Daar is egter nie van hulle rekenskap geëis oor die geld wat aan hulle oorhandig is nie, want hulle was betroubaar in hulle werk.
8Gilkija, die hoëpriester, sê toe vir Safan, die sekretaris: “Dié •boekrol met die wet het ek in die huis van die Here gevind.” Gilkija het die boekrol vir Safan gegee, en hy het dit gelees. 9Toe Safan, die sekretaris, by die koning kom, het hy aan die koning verslag gedoen en gesê: “U dienaars het die geld wat in die tempel gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan die werksmense wat aangestel is by die huis van die Here.10Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Hier is 'n boekrol wat Gilkija, die priester, vir my gegee het.” Safan lees dit toe vir die koning.
11Toe die koning die woorde van die boekrol met die wet hoor, het hy sy klere geskeur. 12Die koning het Gilkija, die priester, en ook Agikam, seun van Safan, Agbor, seun van Miga, Safan, die sekretaris, en Asaja, die koning se dienaar, hierdie opdrag gegee: 13“Gaan raadpleeg die Here namens my en die volk en die hele Juda oor die woorde van hierdie boekrol wat gevind is, want die Here se woede wat teen ons ontvlam het, is groot, omdat ons voorouers nie gehoorsaam was aan die woorde van hierdie boekrol deur nie op te tree ooreenkomstig alles wat daarop geskryf is nie.”
14Gilkija, die priester, Agikam, Agbor, Safan en Asaja het toe na Gulda, die profetes, gegaan. Sy was die vrou van Sallum, seun van Tikwa, seun van Gargas, die toesighouer oor die priesterklere. Sy het in Jerusalem, in die nuwe stadsdeel gebly. Hulle het met haar gaan praat, 15en sy het vir hulle gesê: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het, 16so sê die Here: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek en sy inwoners – al die woorde van die boekrol wat die koning van Juda gelees het – 17 omdat hulle My verlaat het, en vir ander gode offers verbrand en My gevolglik uitgetart het met al hulle handewerk. My woede het teen hierdie plek ontvlam en dit sal nie geblus word nie.” ’ 18En vir die koning van Juda, wat julle gestuur het om die Here te raadpleeg, vir hom moet julle so sê, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Wat die woorde betref wat jy gehoor het – 19 omdat jou hart sag is, en jy jouself voor die Here verootmoedig het toe jy gehoor het wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners gesê het, dat hulle 'n skrikbeeld en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor My gehuil het, sal Ek ook luister,” is die uitspraak van die Here. 20“ Daarom, kyk, Ek gaan jou met jou voorouers verenig; jy sal in vrede in jou graf met hulle verenig word, en jou oë sal nie al die onheil sien wat Ek oor hierdie plek gaan bring nie.” ’ ”
Hulle het toe aan die koning verslag gedoen.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan