2 Konings 4:1-7

2 Konings 4:1-7 AFR20

'n Sekere vrou, die vrou van iemand uit die profetegroep, het die hulp van Elisa ingeroep: “U dienaar, my man, is dood; en u weet self dat u dienaar ontsag gehad het vir die HERE. Die skuldeiser het nou gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem. ” Toe sê Elisa vir haar: “Wat kan ek vir jou doen? Vertel my wat jy in jou huis het.” Sy het geantwoord: “U slavin het niks in die huis nie, net 'n kruikie met olie.” Hy sê toe: “Gaan vra houers by al jou bure in die straat, leë houers. Moet net nie te min vra nie. Gaan daarna in en sluit die deur agter jou en jou seuns. Gooi dan die olie in al hierdie houers. Dié wat vol is, moet jy eenkant neersit.” Sy het toe van hom af weggegaan. Sy het die deur agter haar en haar seuns gesluit. Hulle het vir haar die houers aangegee, en sy het ingegooi. Toe die houers vol was, het sy vir haar seun gesê: “Gee nog 'n houer vir my aan.” Maar hy het vir haar gesê: “Daar is nie nog 'n houer nie.” Die olie het toe ophou vloei. Sy het gegaan en dit vir die man van God vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oor is.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 4:1-7