2 Petrus 3:8-18

2 Petrus 3:8-18 AFR20

Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Die dag van die Here sal egter kom soos 'n dief, 'n dag waarop die hemele met 'n gedruis tot 'n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word. As al hierdie dinge so sal vergaan, watter besondere mense moet julle dan nie wees nie – mense wat 'n heilige lewe lei en godvresend leef, wat na die aanbreek van die dag van God uitsien, en dit probeer bespoedig. Dit is die dag waarop die hemele, deurdat dit verbrand word, sal vergaan, en die elemente sal uitbrand en wegsmelt. Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde, waar •geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, omdat julle hierdie dinge verwag, streef ernstig daarna om deur Hom in vrede, vlekkeloos en onberispelik bevind te word. En beskou die lankmoedigheid van ons Here as 'n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak. Julle dan, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge vooruit weet – wees op julle hoede om nie deur die dwaling van beginsellose mense meegesleur te word, en so julle eie standvastigheid te verloor nie. Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus •Christus.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Petrus 3:8-18