Daniël 1:8-21

Daniël 1:8-21 AFR20

Daniël was egter vas van voorneme dat hy homself nie sou besoedel met die koning se kos en die wyn wat die koning gedrink het nie. Hy het toe die toesighouer oor die paleisamptenare vergunning gevra dat hy homself nie hoef te besoedel nie. God het gesorg dat daar by die toesighouer oor die paleisamptenare 'n goeie gesindheid en ontferming was teenoor Daniël. Die toesighouer oor die paleisamptenare het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir my heer die koning, wat vir julle kos en drank voorgeskryf het. Waarom moet hy sien dat julle gesigte maerder is as dié van die ander jong seuns van julle ouderdom? Julle sal maak dat die koning my kop eis.” Daniël sê toe vir die oppasser wat die toesighouer oor die paleisamptenare oor hom, Daniël, en oor Gananja, Misael en Asarja aangestel het: “Toets asseblief u dienaars tien dae lank. Hulle moet ons van die groente gee, sodat ons dit eet, en water, sodat ons dit drink. Laat dan in u teenwoordigheid ons voorkoms en die voorkoms van die ander jong seuns wat die koning se kos eet, nagegaan word. Handel dan met u dienaars volgens wat u sien.” Hy het na hulle geluister wat hierdie saak betref, en hulle tien dae lank getoets. Aan die einde van die tien dae was hulle voorkoms beter en het hulle liggame voller vertoon as al die jong seuns wat die koning se kos bly eet het. Die oppasser het toe hulle kos en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en vir hulle groente bly gee. En hierdie jong seuns, hulle vier – aan hulle het God oordeelsvermoë gegee, en ook insig in allerlei geskrifte en wysheid. Daniël kon alle visioene en drome begryp. Aan die einde van die tydperk wat die koning bepaal het dat hulle ingebring moes word, het die toesighouer oor die paleisamptenare hulle voor Nebukadnesar gebring. Die koning het met hulle gepraat, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle het by die koning in diens getree. En in verband met enige saak wat wysheid en insig geverg het waaroor die koning hulle uitgevra het, het hy hulle tien maal beter gevind as al die waarsêerpriesters en goëlaars in sy hele koninkryk. Daniël was daar tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Daniël 1:8-21