Daniël 4:1-18

Daniël 4:1-18 AFR20

“ Koning Nebukadnesar aan alle volke, nasies en taalgroepe wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees! “ Dit is vir my goed om die tekens en wonders wat die Allerhoogste God aan my gedoen het, openlik bekend te maak. “Sy tekens – hoe groot is hulle nie, en sy wonders – hoe magtig is hulle nie! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag. “ Ek, Nebukadnesar, was sorgeloos in my huis en voorspoedig in my paleis. Ek het 'n droom gehad, en dit het my verskrik. Die droombeelde in my bed en die visioene in my kop het my ontstel. 'n Bevel is deur my uitgevaardig dat al die wyses van Babilonië voor my gebring moes word, sodat hulle die uitleg van die droom aan my bekend kon maak. Toe die waarsêerpriesters, die towenaars, die Galdeërs en voorspellers gekom het, het ek die droom aan hulle vertel, maar sy uitleg kon hulle nie aan my bekend maak nie. Oplaas het voor my verskyn Daniël, wie se naam Beltsasar is – na aanleiding van die naam van my god – en in wie die gees van die heilige gode is. Ek het toe die droom aan hom vertel, ‘Beltsasar, hoof van die waarsêerpriesters, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en geen geheim jou onderkry nie; die visioene in die droom wat ek gehad het – vertel wat die uitleg daarvan is. Wat die visioene in my kop daar in my bed betref: Ek het gesien, kyk, daar was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was geweldig. Die boom het gegroei en sterk geword. Sy hoogte het tot aan die hemel gereik, en hy was sigbaar tot aan die einde van die hele aarde. Sy blare was mooi en sy vrugte baie. Daar was kos aan hom vir almal. Onder hom het die diere van die veld skaduwee gevind, en in sy takke was die voëls van die hemel tuis – al wat leef, is deur hom gevoed. Daar in my bed het ek in die visioene in my kop gesien: Kyk, 'n boodskapper, 'n heilige, was besig om uit die hemel neer te daal. Terwyl hy hardop uitroep, het hy die volgende gesê: “ ‘ “Vel die boom, en kap sy takke af! Stroop sy blare af, en verstrooi sy vrugte! Die diere moet onder hom uit vlug en die voëls uit sy takke. Maar sy penwortel – laat dit in die grond, vasgeketting met yster en brons in die groenigheid van die veld. Van die dou van die hemel sal hy nat word, en met die diere sal hy die gras van die aarde deel. Sy hart sal verander weg van dié van 'n mens, en die hart van 'n dier sal aan hom gegee word. Sewe tydperke sal oor hom heen gaan. Die bevel berus op die beslissing van boodskappers, en die saak is in opdrag van heiliges, met die doel dat lewendes sal erken dat die Allerhoogste mag het oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil. 'n Nederige onder die mense sal Hy daaroor aanstel.” “ ‘Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. En jy, Beltsasar, vertel wat die uitleg is, aangesien geeneen van die wyses in my koninkryk daarin kon slaag om die uitleg aan my bekend te maak nie. Maar jy is in staat daartoe, omdat die gees van die heilige gode in jou is.’ ”