Daniël 4:18-27

Daniël 4:18-27 AFR20

“ ‘Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. En jy, Beltsasar, vertel wat die uitleg is, aangesien geeneen van die wyses in my koninkryk daarin kon slaag om die uitleg aan my bekend te maak nie. Maar jy is in staat daartoe, omdat die gees van die heilige gode in jou is.’ ” Daarop was Daniël, wie se naam Beltsasar was, vir 'n kort tydjie verbysterd, en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning sê toe: “Beltsasar, moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie!” Beltsasar het geantwoord en gesê: “My heer, was die droom maar vir u haters en sy uitleg vir u teenstanders bedoel! Die boom wat u gesien het, “wat gegroei en sterk geword het, waarvan die hoogte tot aan die hemel reik, wat oor die hele aarde sigbaar is, waarvan die blare mooi en sy vrugte baie is, met kos aan hom vir almal, onder wie die diere van die veld woon, en in wie se takke die voëls van die hemel tuis is, “is u, o koning, wat gegroei en sterk geword het. U grootheid het gegroei en tot aan die hemel gereik, en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. En dat die koning 'n boodskapper, 'n heilige, gesien het wat uit die hemel neerdaal en sê, ‘Vel die boom en vernietig dit, maar laat die penwortel in die grond, vasgeketting met yster en brons in die groenigheid van die veld, en deur die dou van die hemel sal hy benat word en saam met die diere van die veld deel hê aan die gras totdat sewe tydperke oor hom heen gegaan het, – dit is die uitleg, o koning, en die dekreet van die Allerhoogste wat oor my heer die koning uitgevaardig is: U sal uitgedryf word, weg van mense af, en by die diere van die veld sal u woning wees. U sal gras gevoer word, soos vir beeste, en van die dou van die hemel sal u nat word. Sewe tydperke sal oor u heen gaan, totdat u erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil. Dat daar bevel gegee is om die penwortel van die boom te laat staan, beteken dat u koningskap vir u behoue sal bly, sodra u erken dat die hemel heers. Daarom, o koning, mag my raad vir u aanvaarbaar wees: Breek deur die regte optrede met u sonde en met u ongeregtigheid, deur guns te betoon aan armes – miskien sal u voorspoed lank duur.”