Deuteronomium 6:1-15

Deuteronomium 6:1-15 AFR20

“ Dit dan is die gebod, die vaste voorskrifte en beslissings wat die HERE julle God my beveel het om julle te leer, dat julle dit kan uitleef in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem – sodat jy ontsag mag hê vir die HERE jou God, deur al sy vaste voorskrifte en gebooie wat ek jou beveel, na te kom so lank jy leef, jy en jou kinders en jou kleinkinders, en sodat jy 'n lang lewe mag hê. Jy moet luister, Israel; kom dit nougeset na dat dit met jou goed mag gaan en dat julle baie meer mag word soos wat die HERE die God van jou voorouers jou beloof het – 'n land wat oorloop van melk en heuning.” HERE “ LUISTER, ISRAEL, DIE HERE IS ONS GOD, DIE HERE ALLEEN. Jy moet die HERE jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as 'n teken om jou hand en laat dit 'n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. “ Wanneer die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob, met 'n eed beloof het om vir jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, huise vol met alles wat goed is, wat jy nie gevul het nie, uitgekapte opgaarputte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy dan eet en versadig word, moet jy oppas dat jy nie die HERE vergeet wat jou uit Egipteland, uit 'n plek van slawerny, uitgelei het nie. Vir die HERE jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer. “Julle mag nie agter ander gode aanloop nie, gode van die nasies rondom julle; want die HERE jou God wat in julle midde is, is 'n besitlike God. Anders sal die toorn van die HERE jou God teen jou ontbrand, en dan gaan Hy jou van die aardbodem af uitdelg.