Eksodus 31

31
Besaleël en Oholiab
1 Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“ Kyk, Ek het Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, by die naam geroep. 3Ek het hom met die Gees van God vervul – met wysheid, insig en kennis, en met al die nodige vakmanskap, 4om vindingryke planne te beraam vir die werk met goud, silwer en brons, 5en vir die bewerking van edelstene vir monterings, en die bewerking van hout, om dit te doen met al die nodige vakmanskap.
6“En Ek, kyk, Ek het Oholiab, seun van Agisamag, van die stam van Dan, as sy bystand gegee; en in die hart van elkeen wat vaardig is, het Ek wysheid gegee, sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het: 7die Tent van Ontmoeting, die ark vir die Getuienis, die versoendeksel wat daarop kom, al die toebehore van die tent, 8die tafel en sy toebehore, die menora van suiwer goud en al sy toebehore, die altaar vir die reukwerk, 9die brandofferaltaar en al sy toebehore, die waskom en sy voetstuk, 10 die geweefde klere – dit is die heilige klere vir Aäron, die priester, en die klere van sy seuns, vir die priesterdiens – 11die salfolie en die geurige reukwerk vir die heiligdom. Net soos Ek jou beveel het, moet hulle dit maak.”
Sabbat van volkome rus
12Die Here het vir Moses gesê: 13 “Jy self moet vir die Israeliete sê, ‘My Sabbatte moet julle beslis onderhou, want dit dien as 'n teken tussen My en julle vir al julle komende geslagte, sodat julle kan weet dat Ek, die Here, die Een is wat julle heilig. 14Julle moet die Sabbat onderhou, want dit is heilig vir julle. Wie dit ontheilig, moet beslis sterf. As enigiemand op dié dag werk, moet daardie persoon onder sy volk uitgeroei word. 15Ses dae lank mag daar gewerk word, maar op die sewende dag is dit 'n buitengewone Sabbat, gewy aan die Here. Elkeen wat op die Sabbatdag werk doen, moet beslis sterf. 16Die Israeliete moet die Sabbat onderhou deur die Sabbat in hulle komende geslagte te vier as 'n ewige verbond. 17Dit dien as 'n ewige teken tussen My en die Israeliete. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en is Hy verkwik.’ ”
18 Nadat die Here klaar met Moses gepraat het, het Hy vir hom op die berg Sinai die twee tafels met die Getuienis gegee – kliptafels waarop daar deur die vinger van God geskryf is.

Tans Gekies:

Eksodus 31: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan