Esegiël 13

13
Oordeel oor vals profete
1 Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat besig is om te profeteer. Sê vir die profete wat uit hulle eie harte praat, ‘Hoor die woord van die Here! 3So sê my Heer, die Here: “Wee die dwase profete wat hulle eie gees volg, maar niks gesien het nie. 4Soos jakkalse tussen puinhope het jou profete geword, Israel. 5 Hulle het nie opgeklim na die bresse en 'n klipmuur gepak ter verdediging van die huis van Israel, sodat hy staande kan bly in die stryd op die dag van die Here nie. 6 Hulle visioene is vals, 'n leuenagtige voorspelling, hulle wat telkens sê, ‘Dit is die uitspraak van die Here.’ Die Here het hulle egter nie gestuur nie. En dan wag hulle nog dat die woord vervul sal word! 7Het julle nie valse visioene gesien en 'n leuenagtige godspraak gelewer toe julle gesê het, ‘Dit is die uitspraak van die Here,’ terwyl Ek nie iets aangekondig het nie?” 8Daarom, so sê my Heer, die Here: “Omdat julle valse uitsprake maak en bedrieglike visioene sien, daarom is dit nou Ek teen julle.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
9“ ‘ “My hand sal gekeer wees teen die profete wat valse visioene sien en leuenagtige voorspellings maak. In die binnekring van my volk sal hulle nie wees nie, in die boek van die huis van Israel sal hulle nie opgeskryf word nie, en op die grond van Israel sal hulle nie kom nie. Julle sal besef dat Ek, die Heer, die Here, is, 10 omdat, ja, omdat hulle my volk mislei het deur te sê, ‘Vrede!’ toe daar geen vrede was nie. Wanneer iemand 'n klipmuur pak, kyk, dan pleister hulle dit met kalk. 11Sê vir hulle wat met kalk pleister, ‘Die muur gaan val!’ 'n Geweldige stortreën kom, Ek sal groot haelstene gee, hulle sal val. 'n Stormwind sal losbreek – 12en kyk, die muur het geval! Daar sal sekerlik vir julle gevra word, ‘Waar is die klei waarmee julle gepleister het?’ ” 13Daarom, so sê my Heer, die Here, “Ek laat 'n stormwind losbreek in my woede; in my toorn sal stortreën val, ook groot haelstene met vernietigende venyn. 14Ek sal die muur wat julle met kalk gepleister het, afbreek en dit op die grond neergooi, sodat sy fondament ontbloot word. Dit sal val en julle sal daarin omkom. Julle sal besef dat Ek die Here is. 15Ek sal my woede laat uitwoed op die muur en op hulle wat dit met kalk pleister. Dan sal Ek vir julle sê, ‘Die muur is nie meer daar nie, en ook nie hulle wat dit pleister nie – 16daardie profete van Israel wat vir Jerusalem profeteer en vir haar visioene van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie.’ ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
17“En jy, mensekind, rig jou tot die dogters van jou volk wat uit hulle eie harte profeteer. Profeteer teen hulle 18en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Ellende wag vir hulle wat towerbande maak vir almal se polse, en hoofbedekkings maak vir koppe van alle groottes, om so op lewens jag te maak. Sal julle op die lewens van my volk jag maak, maar julle eie lewens behou? 19 Julle het my heiligheid aangetas by my volk, vir 'n paar hande vol gars en 'n paar stukkies brood, deur lewens te vernietig van mense wat nie moes sterf nie, en lewens te behou van mense wat nie moes bly leef nie, toe julle vir my volk wat na leuens luister, gelieg het.” 20Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek is teen julle towerbande waarmee julle daar in Jerusalem op lewens jag maak asof hulle voëls is. Ek sal dit van julle voorarms afskeur. Ek sal die lewens wat julle vang asof hulle voëls is, vrylaat. 21Ek sal julle hoofbedekkings afskeur en my volk red uit julle hand. Hulle sal nie meer as 'n vangs in julle hand wees nie. Julle sal besef dat Ek die Here is. 22Omdat julle deur leuens die harte van regverdiges laat ineenkrimp, terwyl Ek hulle nie pyn wil aandoen nie, en omdat julle die hande van goddeloses sterk, sodat hulle hulle nie bekeer van hulle bose optrede en gevolglik bly leef nie – 23 daarom: Valse visioene sal julle nie sien nie, en voorspellings sal julle nie meer maak nie. Ek sal my volk uit julle hand red. Julle sal besef dat Ek die Here is.” ’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan