Esegiël 14

14
Oordeel oor afgodsdiens
1 Manne uit die oudstes van Israel het by my aangekom en voor my gaan sit. 2Die woord van die Here het tot my gekom: 3“ Mensekind, hierdie manne het aan afgodsbeelde 'n plek gegee in hulle harte. Hulle sien nie af van die struikelblok wat hulle sondeskuld meebring nie. Moet Ek My enigsins deur hulle laat raadpleeg? 4Daarom, spreek hulle aan, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Enige persoon uit die huis van Israel wat aan sy afgodsbeelde 'n plek gee in sy hart en nie afsien van die struikelblok wat sy sonde meebring nie, en dan na 'n profeet toe kom – Ek, die Here, voel Ek moet hom antwoord in ooreenstemming met die omvang van sy afgodery, 5sodat dit die huis van Israel aan die hart sal gryp, hulle wat almal van My vervreemd geraak het oor hulle afgodsbeelde.” ’
6“Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Bekeer julle! Julle moet wegdraai van julle afgodsbeelde, en van al julle afstootlike dade moet julle afsien. 7Wanneer enigiemand uit die huis van Israel of uit die •vreemdelinge wat tydelik in Israel woon, van My vervreemd raak en sy afgodsbeelde 'n plek gee in sy hart, en nie afsien van die struikelblok wat sy sonde meebring nie, en dan na 'n profeet toe kom om by My vir hom antwoorde te soek, sal Ek, die Here, voel Ek moet hom antwoord. 8Ek sal teen daardie man draai en van hom 'n voorbeeld maak, 'n aanleiding tot spotwoorde; Ek sal hom uit die midde van my volk verwyder. Julle sal besef dat Ek die Here is.
9“ ‘ “ En wat die profeet betref – as hy verlei word en 'n uitspraak maak, is dit Ek, die Here, wat daardie profeet verlei het. Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel. 10Hulle sal hulle sondeskuld moet dra. Die straf vir die sondeskuld van die profeet sal dieselfde wees as die straf van die een wat raadpleeg, 11sodat die huis van Israel nie weer van My sal afdwaal nie, en hulleself nie weer verontreinig met al hulle oortredings nie. Dan sal hulle vir My 'n volk wees en Ek sal vir hulle 'n God wees. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”
Jerusalem se lot
12Die woord van die Here het tot my gekom: 13“ Mensekind, as 'n land teen My sou sondig deur troubreuk te pleeg, en Ek dan my hand daarteen uitstrek, sy broodstok breek, hongersnood daarin loslaat, en mens en dier daarin uitroei, 14selfs as hierdie drie manne, Noag, Danel en Job in die land was, sou hulle deur hulle geregtigheid net hulle eie lewens red. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
15“Sê nou Ek laat roofdiere 'n land oorneem en hulle maak dit kinderloos, sodat dit verlate lê en niemand daardeur reis nie, weens die roofdiere, 16en daardie drie manne is in die land, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal hulle nóg die seuns, nóg die dogters red. Hulle alleen sal gered word, en die land sal verlate lê.
17“ Of as Ek 'n swaard oor daardie land bring en sê, ‘'n Swaard moet die land deurkruis,’ en Ek mens en dier daarin uitroei, 18en hierdie drie manne is in die land, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal hulle nie seuns of dogters red nie; nee, hulle alleen sal gered word.
19“Of as Ek pessiekte in daardie land stuur, of Ek stort my woede oor die land uit deur bloedvergieting om mens en dier daar uit te roei, 20en Noag, Danel en Job is in die land, so seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “sal hulle nóg 'n seun, nóg 'n dogter red. Selfs hulle sal deur hulle geregtigheid net hulle eie lewens red.”
21Ja, so sê my Heer, die Here: “Hoeveel te meer as Ek my vier verskriklike oordele – die swaard, hongersnood, roofdiere en 'n epidemie – oor Jerusalem losgelaat het om mens en dier daar uit te roei! 22Maar kyk, daar sal oorlewendes in haar oorbly wat daar uitgebring word, seuns en dogters. Ja, hulle sal na julle uitkom, en julle sal hulle optrede en dade sien. Dan sal julle berusting vind oor die onheil wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek oor haar laat kom het. 23Hulle sal julle laat berus wanneer julle hulle optrede en dade sien, en julle sal besef dat Ek nie sonder rede alles wat Ek in haar gedoen het, gedoen het nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.

Tans Gekies:

Esegiël 14: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan