Esegiël 17:1-10

Esegiël 17:1-10 AFR20

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, vra 'n raaisel, en vertel 'n gelykenis vir die huis van Israel. Sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “'n Groot arend met groot vlerke, lang penvere, en vol veelkleurige vere, het na die Libanon gekom. Hy het die top van 'n seder geneem, die boonste van sy lote afgepluk. Hy het dit na 'n land van handelaars geneem; in 'n stad van kooplui het hy dit neergesit. Hy het 'n steggie uit die land geneem, dit in 'n saailand geplaas, in 'n weiland by baie water; soos 'n wilgerlat het hy dit ingelê. Dit het uitgespruit en 'n wingerdstok geword, geil groeiend, laag oor die grond, dat sy blare na die arend gedraai is, en sy wortels onder die arend is. So het dit 'n wingerdstok geword, ranke gevorm en lote uitgestoot. “ ‘ “Daar was 'n ander groot arend, met groot vlerke en baie vere. En kyk, hierdie wingerdstok buig toe sy wortels na hom, sy blare stoot hy uit na hom, uit die beddings waar hy geplant was, sodat dié arend hom sou water gee. In 'n goeie stuk grond, by baie water, was dit geplant, sodat dit lootjies kon maak, vrug kon dra, 'n edel wynstok kon word.” ’ “Sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “Sal dit gedy? Sal die arend nie selfs sy wortels uitpluk, sy vrugte afstroop, sodat die wingerdstok verdor, al sy nuwe lote verdroog nie? 'n Magtige arm en 'n groot leërmag is nie nodig om hom van sy wortels af uit te trek nie. Kyk, dit is verplant. Sal dit gedy? Sal dit nie, as 'n oostewind dit tref, heeltemal verdroog, in die bedding waar dit groei, verdor nie?” ’ ”