Esegiël 17:10-24

Esegiël 17:10-24 AFR20

Kyk, dit is verplant. Sal dit gedy? Sal dit nie, as 'n oostewind dit tref, heeltemal verdroog, in die bedding waar dit groei, verdor nie?” ’ ” Die woord van die HERE het tot my gekom: “ Sê tog vir die rebelse huis, ‘Weet julle nie wat dit beteken nie?’ Sê, ‘Kyk, die koning van Babilonië het na Jerusalem gekom, haar koning en •hoë amptenare weggeneem en hulle na hom in Babel geneem. Hy het een uit die koninklike familie geneem, met hom 'n verdrag gesluit en hom onder 'n vervloeking geplaas. Die ander maghebbers van die land het hy weggeneem, sodat die koninkryk laag sou bly, homself nie sou verhef nie en sy verdrag moes nakom, ten einde so staande te bly. “ ‘ Maar die man het in opstand gekom teen die koning van Babilonië deur sy gesante na Egipte te stuur, sodat dié vir hom perde en 'n groot leërmag sou gee. Sal hy sukses behaal? Sal hy wat dit gedoen het, vrykom? Sal hy die verdrag verbreek en vrykom? “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die HERE: “in die plek van die koning wat hom koning gemaak het, wie se vervloeking hy geminag het en wie se verdrag hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterf. Die farao sal hom nie met 'n groot leër en baie afdelings soldate bystaan in die oorlog wanneer 'n beleëringswal opgehoop en beleëringswerke opgerig word om baie lewens te vernietig nie. Hy het 'n vervloeking geminag deur 'n verdrag te verbreek. Kyk, hy het sy hand gegee, en tog al hierdie dinge gedoen. Hy sal nie vrykom nie.” Daarom, so sê my Heer, die HERE: “So seker as wat Ek leef, dit is 'n vervloeking deur My wat hy geminag het, en my verdrag wat hy verbreek het. Ek sal dit op sy kop laat neerkom. Ek sal my vangnet oor hom uitsprei; hy sal gevang word in my jagnet. Ek sal hom na Babel neem en hom daar voor die gereg daag oor sy troubreuk wat hy teen My gepleeg het. Sy hele keurkorps onder al sy troepe – deur die swaard sal hulle val. Dié wat oorbly, sal in alle windrigtings versprei word. Dan sal julle besef dat Ek, die HERE, gepraat het.” “ ‘ So sê my Heer, die HERE: “Ek sal self die boonste top van 'n seder neem en dit inlê. Van die bopunt van sy lote sal Ek 'n sagte deel afpluk, en Ek sal dit self plant op 'n hoë en verhewe berg. Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal lote maak en vrug dra. Dit sal 'n luisterryke seder word, en al die voëls, al die gevleueldes, sal onder hom tuis wees. In die skadu van sy blare sal hulle 'n tuiste vind. Dan sal al die bome in die veld besef dat Ek, die HERE, die hoë boom laag maak, en die lae boom hoog. Ek laat groen bome verdroog en Ek laat droë bome bloei. Ek, die HERE, het gepraat, en Ek sal dit doen.” ’ ”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Esegiël 17:10-24