Esegiël 40

40
Visioen van die tempel
1 In die vyf-en-twintigste jaar van ons ballingskap, aan die begin van die jaar, op die tiende dag van die maand, in die veertiende jaar nadat die stad verslaan is, op presies daardie dag, was die hand van die Here op my, en Hy het my na die stad geneem. 2 In visioene van God het Hy my na die land Israel geneem en my neergesit op 'n baie hoë berg waarop daar aan die suidekant iets soos 'n geboude stad was. 3 Hy het my daarheen geneem, en kyk, daar was 'n man wat gelyk het asof hy van brons was. Daar was 'n toutjie van vlas in sy hand, en ook 'n maatstok. Hy het in die poort gestaan. 4 Die man praat toe met my: “Mensekind, jy moet stip kyk en aandagtig luister, jou aandag rig op alles wat ek jou gaan wys, want jy is hierheen gebring met die doel om dit vir jou te wys. Maak alles wat jy sien, bekend aan die huis van Israel.”
5 Kyk, daar was 'n muur buite reg rondom die •tempel. In die man se hand was die maatstok van ses el – hierdie el is 'n el en 'n handbreedte. Hy het die breedte van die muur gemeet, dit was een maatstok, en die hoogte was ook een maatstok.
6Hy kom toe by die poort wat oos front, klim met die trappe op, en meet die drumpel van die poort. Dit was een maatstok breed. 7Die dienskamers vir die wagte was een maatstok lank en een maatstok breed, en tussen die dienskamers was dit vyf el. Die drumpel van die poort aan die binnekant van die poort se portaal was ook een maatstok.
8Toe meet hy die portaal van die poort aan die binnekant. 9Dit was agt el lank, en die afskortingsmure was twee el dik. Die portaal van die poort was aan die tempel se kant. 10Wat betref die dienskamers in die poort wat oos front, was daar drie aan die een en drie aan die ander kant; die drie van hulle aan elke kant het dieselfde afmetings gehad. Die afskortingsmure aan elke kant het dieselfde afmetings gehad. 11Toe meet hy die breedte van die opening na die poort: dit was tien el. Die breedte van die poort self was dertien el. 12Daar was 'n keermuurtjie van een el hoog voor die dienskamers, ook een van een el aan die teenoorgestelde kant. Die dienskamers was ses el diep, ook ses el diep aan die teenoorgestelde kant. 13Hy meet toe die poort van die dakhoek van een dienskamer tot by die dakhoek van 'n ander: dit was vyf-en-twintig el. Die ingange was regoor mekaar. 14 Toe doen hy dieselfde met die afskortingsmure: dit was sestig el tot by die afskortingsmuur na die voorhof – die poort reg rondom. 15Van die voorkant van die poort af waar mens ingaan, tot aan die voorkant van die portaal van die poort aan die binnekant was dit vyftig el. 16Daar was vensters met luike in die dienskamers en hulle afskortingsmure aan die binnekant van die poort, reg rondom. So was dit ook in die portaal – die vensters was reg rondom aan die binnekant. Op die afskortingsmure was daar palmette.
17 Die man het my toe na die buitenste voorhof geneem. Kyk, daar was vertrekke, en 'n plaveisel was reg rondom in die voorhof aangebring. Daar was dertig vertrekke langs die plaveisel. 18Die plaveisel was langs die kante van die poortgeboue en het ooreengekom met die lengte van die poortgeboue. Dit was die laer plaveisel. 19Hy meet toe die afstand vanaf die voorkant van die laer liggende poort tot aan die buiterand van die binneste poort: Dit was honderd el. Dit was die oostekant. Nou volg die noordekant.
20Wat die poort betref wat noord front, aan die buitenste voorhof – hy het die lengte en breedte gemeet. 21Die drie dienskamers aan albei kante, die afskortingsmure en sy portaal het dieselfde afmetings gehad as dié van die eerste poort: vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. 22Sy vensters, sy portaal en die palmette het dieselfde afmetings gehad as dié van die poort wat oos front. Met sewe trappe kon mens daarheen opklim, en sy portaal was aan die voorkant. 23'n Poort na die binneste voorhof was geleë teenoor die poort aan die noordekant en so ook aan die oostekant. Hy het van poort tot poort gemeet – honderd el.
24Hy laat my toe na die suidekant gaan, en kyk, daar was 'n poort aan die suidekant. Hy het die afskortingsmure en die portaal daarvan gemeet; dit was soos die ander afmetings. 25Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad, soos die ander vensters. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. 26 Sewe trappe het toegang daartoe verleen, en die portaal was aan die voorkant. Dit het palmette gehad, een aan hierdie en een aan daardie kant van die afskortingsmure. 27Die binneste voorhof het 'n poort na die suide gehad. Hy het van poort tot poort na die suide gemeet; dit was honderd el.
28Toe neem hy my na die binneste voorhof, deur die suidpoort. Hy het die suidpoort gemeet: dit was soos die ander afmetings. 29Die dienskamers, die afskortingsmure en die portaal was soos die ander afmetings. Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed.
30 Daar was portale reg rondom, vyf-en-twintig el lank en vyf el breed.
31Sy portaal was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure. Sy buitetrap het agt trappe gehad.
32Toe neem hy my na die binneste voorhof aan die oostekant. Hy het die poort gemeet; dit was soos die ander afmetings. 33Die dienskamers, die afskortingsmure en die portaal was soos die ander afmetings. Die poort en sy portaal het vensters reg rondom gehad. Die poort was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. 34Sy portaal was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure aan hierdie en aan daardie kant. Sy buitetrap het agt trappe gehad.
35Toe neem hy my na die noordpoort. Hy het gemeet, en dit was soos die ander afmetings – 36die dienskamers, afskortingsmure en die portaal. Dit het vensters reg rondom gehad. Dit was vyftig el lank en vyf-en-twintig el breed. 37Die portaal daarvan was aan die buitenste voorhof, met palmette teen die afskortingsmure aan hierdie en aan daardie kant. Die buitetrap daarvan het agt trappe gehad.
38 Daar was 'n vertrek waarvan die toegang by die buitenste afskortingsmure van die poort was. Daar het hulle die •brandoffers afgespoel. 39 In die portaal van die poort was daar twee tafels aan hierdie en aan daardie kant om die brandoffers, •reinigingsoffers en •hersteloffers op te slag. 40Daar langsaan, aan die buitekant, waar 'n mens opklim na die ingang van die noordpoort, was daar twee tafels. En langsaan, aan die ander kant van die poort se portaal, was daar ook twee tafels, 41altesaam vier tafels aan die een kant en vier tafels aan die ander kant langs die poort – agt tafels waarop geslag kon word. 42Daar was ook vier tafels van gekapte klip vir die brandoffers, elkeen een en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een el hoog. Daarop is die gereedskap neergesit waarmee die brandoffers en ander offers geslag is. 43Dubbelhake van een handbreedte is oral in die gebou aangebring. Op die tafels sou die vleis vir die offers wees.
44Buite die binneste poort was daar twee vertrekke in die binneste voorhof – een wat suid front, langs die noordpoort, en een wat noord front, langs die suidpoort. 45Die man praat toe met my: “Hierdie vertrek wat suid front, is vir die priesters wat verpligtinge by die tempel nakom; 46 en die vertrek wat noord front, is vir die priesters wat verpligtinge by die altaar nakom. Hulle is Sadokiete, uit die geslag van Levi, wat mag nader kom na die Here om vir Hom diens te verrig.”
47Hy meet toe die voorhof. Dit was vierkantig, honderd el lank en honderd el breed. Die altaar was voor die tempel.
48 Toe neem hy my na die portaal van die tempel, en hy meet die afskortingsmure van die portaal. Dit was vyf el dik aan albei kante. Die breedte van die poort was veertien el, en die sykante van die poort was drie el aan albei kante. 49Die lengte van die portaal was twintig el, en die breedte elf el. Met tien trappe kon 'n mens daarheen opklim. Daar was pilare by die afskortingsmure, een aan elke kant.

Tans Gekies:

Esegiël 40: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan