Esra 3

3
Herbou van die tempel
1 Met die aanbreek van die sewende maand was die Israeliete al in hulle dorpe. Die volk het toe soos een man in Jerusalem byeengekom. 2 Jesua, seun van Josadak en sy medepriesters, en Serubbabel, seun van Sealtiël en sy ampsgenote, het gereedgemaak en die altaar van die God van Israel gebou om •brandoffers daarop te bring soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, die man van God.
3Alhoewel hulle bang was vir die mense in die omgewing, het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en hulle het daarop offers vir die Here geoffer, die oggend en die aand se brandoffers . 4Hulle het ook die Huttefees gevier soos voorgeskryf, en die aantal daaglikse brandoffers soos voorgeskryf vir elke dag, 5en ook die gereelde brandoffers: die offers met nuwemaan, die offers by al die gewyde •feeste van die Here, sowel as dié by al die vrywillige gawes aan die Here. 6Vanaf die eerste dag van die sewende maand het hulle die brandoffers vir die Here begin offer. Die fondament van die •tempel van die Here was egter nog nie gelê nie.
7 Toe het hulle die klipkappers en vakmanne met silwer betaal. Die Sidoniërs en Tiriërs is met kos, drank en olyfolie betaal, om met die magtiging van Kores, die koning van Persië, vir hulle sederhout vanaf die Libanon tot by die see by Jafo te bring. 8 In die tweede maand van die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, het Serubbabel, seun van Sealtiël, en Jesua, seun van Josadak, en die res van hulle ampsgenote, naamlik die priesters en Leviete, asook almal wat uit die ballingskap in Jerusalem aangekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om oor die daaglikse werk aan die huis van die Here toesig te hou. 9 Jesua, sy seuns en sy ampsgenote, Kadmiël en sy seuns, afstammelinge van Hodauja, moes gesamentlik toesig hou oor diegene wat die werk gedoen het aan die huis van God. Hulle was die nageslag van Genadad; hulle seuns en broers was Leviete. 10 Toe die bouers die fondamente van die tempel van die Here gelê het, het die toesighouers die priesters in ampsdrag gereed laat staan met trompette, en die Leviete, die nageslag van Asaf, met simbale, om die Here te loof volgens die voorskrifte van Dawid, koning van Israel. 11Terwyl hulle die Here loof en dank, het hulle gesing: “Want Hy is goed, ja, sy troue liefde oor Israel is vir altyd!” Die hele volk het baie hard gejuig toe die Here geloof is, omdat die fondament van die huis van die Here gelê is. 12 Baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, die oumense wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondamente van hierdie huis voor hulle oë gelê is, maar baie ander het hardop uitgeroep van vreugde.
13 Niemand van die volk kon die klank van die vreugdekrete onderskei van die klank van die volk se gehuil nie, want die volk het so hard geskreeu dat dit baie ver gehoor kon word.

Tans Gekies:

Esra 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan