In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na 'n dorp in Juda. Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet.
Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul en het hardop uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue!
Geseënd is die vrug van jou moederskoot!
Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?
Kyk, net toe ek jou groet hoor,
het die kindjie in my moederskoot
van uitbundige blydskap opgespring.
En gelukkig is sy wat geglo het
dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. ”
Maria het toe gesê:
“My siel loof die Here,
my gees jubel oor God my Verlosser,
want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien.
Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem,
want die Magtige het groot dinge vir my gedoen –
ja, heilig is sy Naam.
Hy bewys ontferming van geslag tot geslag
aan hulle wat vir Hom ontsag het.
Kragtige dade verrig Hy met sy arm.
Die denke van hoogmoediges verwar Hy,
heersers ruk Hy van hulle trone af,
en geringes verhoog Hy.
Hongeriges versadig Hy met goeie gawes,
en rykes stuur Hy met leë hande weg.
Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan,
deur sy ontferming in gedagte te hou,
soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het,
aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.”
Maria het ongeveer drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.
Toe die tyd aanbreek dat Elisabet geboorte moes gee, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here Hom uitsonderlik oor haar ontferm het, en hulle was saam met haar bly.
Op die agtste dag het mense toe gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom vernoem na sy vader Sagaria. Maar sy moeder het gesê: “Nee, hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê toe vir haar: “Maar daar is niemand in jou familie met dié naam nie.” Hulle het ook met behulp van gebare aan sy vader gevra wat hy wou hê die kindjie genoem moet word. Hy het 'n skryfbordjie gevra en geskryf: “Sy naam is Johannes.” En almal was verbaas. Skielik kon Sagaria sy mond en sy tong weer onbelemmerd gebruik, en hy het God begin prys.
Almal wat in die omgewing woon, is toe met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea het die mense oor al hierdie gebeure gepraat. Almal wat hiervan gehoor het, het in hulle harte daaroor bly nadink en gewonder: “Waarvoor is hierdie kindjie bestem?” Die hand van die Here was werklik met hom.
Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê:
“Lofwaardig is die Here, die God van Israel,
want Hy het omgesien na sy volk
en hulle bevryding bewerkstellig.
'n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk
uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg,
soos Hy reeds lank gelede
by monde van sy heilige profete beloof het –
verlossing van ons vyande
en uit die hand van almal wat ons haat.
Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys
en sy heilige verbond in gedagte te hou,
die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het ,
sodat ons, gered uit die hand van ons vyande,
Hom sonder vrees sou dien,
en al ons dae voor Hom
in heiligheid en •geregtigheid kan leef.
En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uitloop
om sy paaie gereed te maak,
en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word
deur die vergewing van hulle sondes,
danksy ons God se innige ontferming,
waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom,
om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis
en in die skadu van die dood bevind,
en om ons voete op die pad van vrede te plaas.”
Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.