Lukas 9:28-55

Lukas 9:28-55 AFR20

Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy •Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid. En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter. Skielik was daar twee manne wat met Hom gesprek voer. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi 'n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my •Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref. Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie. Nadat hulle die volgende dag van die berg afgekom het, het 'n groot skare mense Hom tegemoet gekom. En skielik het 'n man uit die skare hard uitgeroep: “Meester, ek smeek U, kom kyk asseblief na my seun, want hy is my enigste kind. Kyk, 'n gees pak hom gereeld beet en dan gaan hy skielik aan die skreeu. Hy gee hom stuiptrekkings met skuim om die mond, en verniel hom en wil hom beswaarlik los. Ek het u dissipels gesmeek om hom uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Jesus: “O, ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra? Bring jou seun hier.” En terwyl die seun nader kom, laat die demoon hom val en stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die •onrein gees bestraf, en die kind gesond gemaak en hom aan sy vader teruggegee. Almal was verstom oor die grootheid van God. Terwyl almal nog verbaas was oor al die dinge wat Hy gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Luister goed na hierdie woorde: Die •Seun van die Mens gaan in die hande van mense oorgelewer word. ” Hulle het hierdie uitspraak egter nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle verborge, sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Hom oor hierdie uitspraak uit te vra. 'n Argument het onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het geweet wat hulle in hulle harte dink, en trek toe 'n kindjie nader en laat hom langs Hom staan. Toe sê Hy vir hulle: “Wie hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My. En wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Die geringste onder julle almal, hý is die belangrikste.” Hierop het Johannes gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy U nie saam met ons volg nie.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle. ” Toe die tyd vir Jesus se hemelvaart nader kom, was Hy vasberade om die reis na Jerusalem te onderneem. Hy het boodskappers voor Hom uitgestuur. En hulle het vertrek en by 'n Samaritaanse dorpie aangekom om daar vir Hom voorbereidings te tref. Maar die Samaritane het Hom nie ontvang nie, omdat Hy doelgerig na Jerusalem op pad was. Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig? ” Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys.