Numeri 22

22
Bileam en Balak
1 Daarna het die Israeliete weggetrek en kamp opgeslaan in die vlaktes van Moab oorkant die Jordaan, teenoor Jerigo. 2 Balak, seun van Sippor, het alles gesien wat Israel aan die •Amoriete gedoen het. 3 Moab het baie bang geword vir die volk, want hulle was baie. Moab was vreesbevange vir die Israeliete. 4Toe sê Moab vir die oudstes van Midian: “Nou gaan hierdie horde alles rondom ons opeet, soos beeste die groen gras in die veld opvreet.”
Balak, seun van Sippor, was koning van Moab in daardie tyd. 5Hy het boodskappers gestuur na Bileam, seun van Beor, in Petor aan die Rivier, die gebied van sy volksgenote, om hom te ontbied met die woorde: “Kyk, 'n volk het uit Egipte gekom. Die aarde is toe onder hulle en hulle is besig om hulle hier reg teenoor my te vestig. 6Kom asseblief dan nou en vervloek vir my hierdie volk, want hulle is te sterk vir my. Miskien is ek dan in staat om hulle te verslaan, sodat ek hulle uit die land kan verjaag. Ek weet immers dat dié wat jy seën, geseënd is, en dié wat jy vervloek, vervloek is.”
7 Die oudstes van Moab en Midian het toe vertrek met die betaling vir waarsêery by hulle. Toe hulle by Bileam kom, het hulle Balak se woorde aan hom oorgedra. 8Hy het vir hulle gesê: “Bly vannag hier oor, dan gee ek vir julle die antwoord wat die Here my sal meedeel.” Die •hoë amptenare van Moab het toe by Bileam oorgebly.
9God het na Bileam gekom en gevra: “Wie is die manne hier by jou?” 10Bileam het God geantwoord: “Balak, seun van Sippor, die koning van Moab het 'n boodskap vir my gestuur, 11‘Kyk, die volk wat uit Egipte getrek het, die aarde is toe onder hulle. Kom dan nou en vervloek hulle vir my. Miskien is ek dan in staat om teen hulle te veg en hulle te verjaag.’ ” 12 Maar God het vir Bileam gesê: “Jy mag nie saam met hulle gaan nie. Jy mag nie die volk vervloek nie, want hulle is geseënd.”
13Bileam het die oggend opgestaan en vir die hoë amptenare van Balak gesê: “Gaan na julle land toe, want die Here het geweier om my toestemming te gee om saam met julle te gaan.” 14Die hoë amptenare van Moab het hulle gereedgemaak, na Balak gegaan en vir hom gesê: “Bileam weier om saam met ons te kom.”
15Balak het weer 'n keer hoë amptenare gestuur, meer en belangriker as die eerstes. 16Hulle het by Bileam aangekom en vir hom gesê: “So sê Balak, seun van Sippor, ‘Moet jou asseblief nie deur iets laat weerhou om na my te kom nie, 17want ek sal jou beslis ryklik beloon, en alles wat jy vra, sal ek doen. Kom asseblief, vervloek vir my hierdie volk.’ ”
18 Bileam het geantwoord en vir die amptenare van Balak gesê: “Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, kan ek nie teen die bevel van die Here my God ingaan deur enigiets, klein of groot, te doen nie. 19Maar nou, bly julle ook asseblief vannag hier, sodat ek te wete kan kom wat die Here verder vir my wil sê.”
20 God het toe in die nag na Bileam gekom en vir hom gesê: “As die manne gekom het om jou te ontbied, maak jou gereed en gaan saam met hulle; maar slegs dit wat Ek vir jou sê, moet jy doen.” 21Bileam het toe die oggend opgestaan, sy donkiemerrie opgesaal en saam met die hoë amptenare van Moab gegaan.
22Maar die toorn van God het ontbrand omdat hy op pad was. Terwyl Bileam op sy donkie ry, met twee van sy dienaars by hom, het die •Engel van die Here as sy teenstander in die pad gaan staan. 23 Die donkie het die Engel van die Here met sy ontblote swaard in sy hand in die pad sien staan. Die donkie draai toe van die pad af en loop die veld in. Bileam het die donkie geslaan om haar na die pad te laat terugdraai. 24Toe gaan staan die Engel van die Here in 'n smal deurgang tussen die wingerde met 'n tuinmuur aan elke kant. 25Die donkie het die Engel van die Here gesien, sy het haarself teen die muur vasgedruk, en so Bileam se voet teen die muur gedruk. Hy het haar toe weer geslaan. 26Die Engel van die Here beweeg toe verder en gaan staan op 'n nou plek waar daar nie links of regs verbykomkans was nie. 27Toe die donkie die Engel van die Here sien, gaan lê sy onder Bileam. Bileam het kwaad geword en die donkie met sy stok geslaan.
28 Toe maak die Here die donkie se mond oop en sy sê vir Bileam: “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou drie keer geslaan het?” 29Daarop sê Bileam vir die donkie: “Omdat jy my vir die gek hou! Was daar maar 'n swaard in my hand, want dan het ek jou nou doodgemaak!” 30Die donkie sê toe vir Bileam: “Is ek nie jou donkie waarop jy jou lewe lank tot vandag toe gery het nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te maak?” Hy antwoord: “Nee.”
31 Die Here maak toe Bileam se oë oop, sodat hy die Engel van die Here in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand. Bileam het gekniel en met sy gesig teen die grond gebuig. 32Die Engel van die Here het hom gevra: “Waarom het jy jou donkie nou drie maal geslaan? Kyk, Ek het self na vore getree as 'n teenstander, want die pad wat voorlê, is steil. 33Die donkie het My gesien en nou drie keer vir My uitgedraai. As sy nie van My af weggedraai het nie, sou Ek jóú nou doodgemaak het, maar haar laat leef het.”
34 Daarop sê Bileam vir die Engel van die Here: “Ek het gesondig, want ek het nie besef dat dit U is wat teenoor my in die pad staan nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek graag omdraai.” 35 Die Engel van die Here sê toe vir Bileam: “Gaan saam met die manne; maar die woord wat Ek vir jou sê, slegs dit mag jy sê.” Bileam het toe saam met die hoë amptenare van Balak gegaan.
36 Toe Balak hoor dat Bileam aan die kom is, het hy uitgegaan om hom te ontmoet by die Moabitiese dorp wat op die Arnongrens lê, aan die grens van sy grondgebied. 37 Balak het vir Bileam gesê: “Het ek nie aanhoudend mense na jou gestuur om jou na my te ontbied nie? Waarom het jy nie na my gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te beloon nie?” 38 Bileam het vir Balak gesê: “Kyk, ek het na u toe gekom. Maar nou, kan ek hoegenaamd uit myself enigiets sê? Die woord wat God in my mond lê, net dit mag ek sê.”
39Bileam het toe saam met Balak gegaan en hulle het by Kirjat-Gusot gekom. 40Balak het beeste en kleinvee geslag en dit vir Bileam en die leiers by hom gestuur.
41 Die volgende môre het Balak vir Bileam geneem en hy het hom die berg Bamot-Baäl laat uitklim. Daarvandaan het Bileam 'n deel van die volk gesien.

Tans Gekies:

Numeri 22: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan