MET betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het — dit is goed vir 'n man om 'n vrou nie aan te raak nie.
Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.
Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.
Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.
Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir 'n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.
Maar dit sê ek by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie.
Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders.
Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek;
maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.
En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie;
en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.
Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder 'n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie;
en as 'n vrou 'n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie.
Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.
Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.
Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?
Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.
Is iemand as 'n besnedene geroep — hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep — hy moet hom nie laat besny nie.
Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.
Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.
Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van.
Want die slaaf wat in die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, 'n slaaf van Christus.
Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.
Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God.