DANIËL 2:1-18

DANIËL 2:1-18 AFR53

EN in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar 'n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was. Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan, sê die koning vir hulle: Ek het 'n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan. Toe het die Chaldeërs met die koning gespreek (Aramees): Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee. Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê: Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word. Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te kenne. Hulle het vir die tweede maal geantwoord en gesê: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee. Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan; want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om 'n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee. Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie. Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie. Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring. Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word. Daarop het Daniël aan Áriog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, 'n slim en verstandige antwoord gegee. Hy antwoord en sê vir Áriog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Áriog aan Daniël die saak meegedeel. Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend, en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.