DEUTERONÓMIUM 6:1-15

DEUTERONÓMIUM 6:1-15 AFR53

DIT is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem; dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou — jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word. Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met 'n eed beloof het om jou te gee — groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie — en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer. Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie — want die HERE jou God is 'n jaloerse God by jou — sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.