EN Naómi het 'n bloedverwant gehad van haar man se kant, 'n vermoënde man, uit die geslag van Eliméleg, wie se naam Boas was. En Rut, die Moabitiese, het vir Naómi gesê: Laat ek tog die land ingaan en are optel agter dié een in wie se oë ek genade sal vind. Toe antwoord sy haar: Gaan, my dogter. Daarop het sy heengegaan, en gekom en are opgetel op die land agter die snyers. En gelukkig kom sy op 'n stuk land af wat behoort aan Boas, uit die geslag van Eliméleg. En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle het hom geantwoord: Mag die HERE u seën! Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie jong vrou? En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naómi uit die veld van Moab teruggekom het; en sy het gesê: Kan ek maar are optel en insamel by die gerwe agter die snyers? Sy het toe gekom en gebly van vanmôre af tot nou toe; sy het maar min daar in die huis gesit. Toe sê Boas vir Rut: Luister tog, my dogter: jy moenie op 'n ander land gaan are optel nie, en jy mag ook nie hiervandaan weggaan nie; maar jy moet jou by my diensmeisies aansluit. Met die oë op die land wat hulle afsny, moet jy agter hulle aan loop. Het ek die dienaars nie bevel gegee om jou nie aan te raak nie? En as jy dors het, gaan dan na die kanne en drink van wat die dienaars skep. Toe val sy op haar aangesig en buig na die aarde toe en sê vir hom: Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek 'n vreemdeling is? En Boas antwoord en sê vir haar: Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man, en dat jy jou vader en jou moeder en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk getrek het wat jy gister en eergister nie geken het nie. Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.
Lees RUT 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: RUT 2:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's