1 Korintiërs 9:19-27

1 Korintiërs 9:19-27 DB

Ek is met ander woorde nie afhanklik van enige gemeente nie, maar is vry om te doen wat ek dink die beste is. Ek wil graag alle mense help om die Here te leer ken. Ek wil nie net aan een groep mense gebind wees nie. Ek wil in elke geval vry wees om te doen wat in ’n betrokke situasie die beste is om mense na die Here toe te lei. As ek tussen Jode is, wil ek soos een van hulle optree sodat ek hulle kan oorhaal om Christene te word. As hulle stiptelik volgens hulle wet leef, leef ek ook so tussen hulle, al hoef ek nie. As ek dit doen, sal ek ’n kans kry om hulle te oortuig om ook in Jesus te glo. Vir ander mense wat nie eens weet van God se wet nie, maak ek asof ek ook nie so ’n wet het om na te luister nie. Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie, want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet. Ek moet luister na wat Jesus van my vra. As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei. As ek tussen mense is wie se geloof nie sterk is nie en wat nog met allerhande probleme sukkel, probeer ek my gedurig in hulle posisie indink sodat ek hulle kan help om beter Christene te word. Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen. Ek doen dit alles omdat die evangelie soveel vir my beteken. Wanneer die evangelie mense se lewe verander, doen dit net soveel aan my as aan hulle. Julle weet dat al hardloop ’n klomp mense in ’n resies daar net een wenner kan wees. Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie. Leef jou lewe so dat jy wen. As iemand ’n resies wil wen, oefen hy eers hard. Met ’n gewone resies is die prys vir die wenner klein, maar in die resies van hierdie lewe is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd. Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan, om te wen. Ek doen wat nodig is, al vra dit wat ook al van my. Dan vertel ek nie vir ander wat om te doen, maar sak self in die wedloop van die lewe uit nie.