Deuteronomium 3

3
Og word oorwin
1“Toe het ons in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan en sy weermag het teen ons uitgetrek en ons by Edreï ingewag. 2Die Here het egter gesê: ‘Moenie vir Og bang wees nie. Julle sal hom en sy volk verslaan en sy land vir julle vat. Maak met hom soos julle met Sihon, die Amoritiese koning van Gesbon, gemaak het.’ 3Die Here het ons gehelp om Og en sy mense te oorwin. Ons het die volk uitgewis. Niemand het oorgebly nie. 4Ons het ook al die stede ingeneem. Daar was nie ’n plek wat ons nie oorwin het nie. Altesaam 60 stede en die hele Argobgebied waar Og regeer het, was binne ’n kort tyd ons s’n. 5Al hierdie stede het hoë mure en versterkte ingange gehad. Dan was daar ook nog baie kleiner plekkies sonder mure om wat ons ingeneem het. 6Ons het al hierdie dorpe en stede se mense uitgewis. Ons het met hulle gemaak soos ons met Sihon die koning van Gesbon gemaak het. 7Al die vee en waardevolle artikels in die stede het ons vir ons gevat.”
Die verdeling van die gebied oos van die Jordaan
8“So het ons die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die berg Hermon oorwin. Daarmee saam het ons ook die twee sterk Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan vernietig. 9(Die mense van Sidon het die berg Hermon Sirion genoem en die Amoriete het daarna verwys as Senir.) 10Ons het al die stede van koning Og van Basan oorwin. Dit is nou al daardie stede in die Hoogvlakte, die hele Gilead en die hele Basan tot by Salka en Edreï. 11(Og die koning van Basan was die laaste van die Refaïete. Hy was ’n groot kêrel en sy bed was van yster gemaak: vier meter lank en twee meter breed. ’n Mens kan dit nou nog in Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, sien.)
12“Nadat ons hierdie land ingeneem het, het ek dit begin verdeel. Vir Ruben en Gad het ek die hele gebied van Aroër naby die Arnonrivier af tot by sekere gedeeltes van die Gileadberge gegee. Dit het ook ’n aantal stede ingesluit. 13Vir die helfte van die stam van Manasse het ek die res van Gilead gegee, asook die hele Basan waar Og regeer het. Dit is die hele Argobstreek. Basan is ook soms Refaïeteland genoem. 14Jaïr die seun van Manasse, het die hele gebied van Argob tot aan die grens van Gesur en Maäkat vir hom geneem. En hy het al die plekke na homself vernoem. Vandag nog staan dit as Jaïrsdorpe bekend. 15Vir Magir van die stam van Manasse het ek Gilead gegee. 16Vir Ruben en Gad het ek die hele Gilead tot by die Arnonrivier gegee, asook die gebiede tot by die Jabbokrivier. Dit het tot aan die grens van die Ammoniete gestrek. 17Aan die westekant het hulle gebied tot aan die Jordaan gestrek; van Gennesaret in die noorde af tot by die Dooie See in die suide en die Pisgaberge in die ooste.
18“Toe het ek vir die stamme aan die oostekant van die Jordaan gesê: ‘Die Here het julle hierdie wonderlike land aan die Oos-Jordaan gegee, maar gaan help nou eers julle broers om die Wes-Jordaan te oorwin. Stel ’n weermag saam en trek voor hulle deur die Jordaan. 19Julle vroue en kinders en die vee, waarvan julle baie het, kan maar solank in die Oos-Jordaanse gebied woon. 20Julle moet hulle help totdat hulle die hele Wes-Jordaan oorwin het en die Here vir hulle ook rus en vrede gegee het. Dan kan julle weer na julle plekke oos van die Jordaan terugkeer.’”
Josua word as opvolger aangewys
21“Toe het ek vir Josua gesê: ‘Jy het nou self gesien wat die Here met Og en Sihon gedoen het. So sal Hy met elke volk aan die Wes-Jordaan maak. 22Moet nooit bang wees vir hulle nie, want die Here sal saam met jou teen hulle veg.’
23“In dié tyd het ek vir die Here gesê: 24‘Here, oor baie jare het U vir my u grootheid en krag laat sien. En dit was nog maar net die begin van wat U gaan doen. Geen god in die hemel of op die aarde kan sulke dinge doen nie. 25Nou vra ek U, Here, om my ook die mooi land aan die ander kant van die Jordaan te laat sien. Die pragtige bergland en die hoë berge van die Libanon.’
26“Maar die Here wou nie. Hy was kwaad vir my omdat julle so baie verkeerde dinge gedoen het. Hy het gesê: ‘Dit is nou genoeg. Ons het al baie daaroor gesels en ons gaan nie weer daaroor praat nie. 27Gaan klim die Pisgaberg tot heel bo. Dan kyk jy noord en suid, oos en wes. Kyk mooi na alles, want jy sal nie die land aan die oorkant van die Jordaan intrek nie. 28Praat Josua moed in, want hy is die een wat hierdie volk deur die Jordaan na die Beloofde Land sal lei.’ 29En ons het in die vlakte teenoor die dorp Bet-Peor gebly.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan