Esegiël 35

35
Die Here praat met die mense van Edom
1Die Here het toe weer met my gepraat. 2“Mens, kyk in die rigting van die berg Seïr. Dit is die land waar die mense van Edom bly. Sê vir hierdie mense die Here, die God van Esegiël, dink só oor hulle. 3Jy moet vir hulle sê: Ek is jou vyand, Seïrberg. En Ek is ’n gedugte vyand! Ek slaan jou met die vuis tot daar niks van jou oorbly nie. 4Ek vee jou stede plat. Ek maak jou land ’n woestyn waarin niks kan lewe nie. Dan sal jy weet dat Ek die Here is. 5Want jy het nie opgehou om my volk, Israel, te haat nie. Toe hulle vyande hulle agtervolg het, het julle vir hulle gelê en wag. Julle het hulle voor die voet doodgemaak. Jy het dit gedoen aan hulpelose, desperate mense. Ek het my volk gestraf oor hulle slegte dade. En toe Ek klaar was daarmee, het jy aangehou om hulle dood te maak. 6So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek maak julle dood. Julle het nie geskrik vir die mense van Israel se bloed nie. Julle sal julle eie bloed sien spat. Dis nou julle beurt om doodgemaak te word! 7Die Seïrberg sal ’n woestyn word. Ek maak elkeen dood wat dink hy kan ontsnap. En elkeen wat wil terugkom, maak Ek ook dood. 8Jou berge sal vol lyke lê. Waar jy kyk, op die heuwels en in die valleie en langs die riviere, sal daar net lyke wees. 9Ja, Ek maak jou ’n woestyn, vir altyd. Niemand sal jou stede herbou nie. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.
10“Julle het mos gesê: ‘Israel en Juda is nou uit hulle lande verdryf. Hulle is gevangenes in ver lande. Hulle lande word nou ons eiendom. Wat maak dit saak dat die Here daar is? Ons steur ons nie aan Hom nie!’
11“So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “luister mooi: Ek betaal jou met gelyke munt terug vir wat jy gedoen het. Jy het Israel gehaat. Jy het hom sleg behandel. Ek straf jou daarom vir die slegte dade wat jy gedoen het omdat jy kwaad was vir my volk. Die dag as Ek jou straf, sal jy weet wie Ek is. 12Dan sal jy agterkom dat Ek elke woord gehoor het wat jy gesê het. Jy het mos na die berge van Israel gekyk en gesê: ‘Hulle is platgevee. Kom ons gaan en verwoes die land verder!’
13“Jou mond was groot oor wat jy alles gaan doen. Min het jy geweet Ek het alles gehoor wat jy sê!”
14Daarom sê die Here, Esegiël se God, nou vir jou: “Die hele wêreld sal hande klap en skree, so bly sal hulle wees as Ek jou platvee en jou ’n woestyn maak. 15Jy het mos hande geklap, so bly was jy toe Israel se land verwoes is. Nou doen Ek presies dieselfde met jou. Niemand sal meer in jou land kan bly nie, want dit sal ’n woestyn word. Ek vee die mense wat op die Seïrberg bly en al die mense wat in Edom bly, van die aarde af. Daardie dag sal jy erken dat Ek die Here is.”

Tans Gekies:

Esegiël 35: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan