Lukas 11:1-23

Lukas 11:1-23 DB

Kort daarna het Jesus verder gereis. By een van die plekke waar hulle oorgebly het, het Hy gaan bid. Toe Jesus klaar gebid het, vra een van sy volgelinge Hom: “Here, leer ons asseblief ook om reg met God te praat. Weet U, Johannes die Doper leer sy volgelinge hoe om te bid.” Jesus sê toe vir hom: “Hier is ’n voorbeeld van hoe julle met God moet praat: “Ons Vader, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Gee ons asseblief elke dag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie. En help ons om nooit te swig voor versoekings nie.” Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’ Wel, wat dink julle was die reaksie van hierdie ander vriend toe hy in die middel van die nag wakker geklop is? Dink julle hy het daar uit sy bed geskree: ‘Gee pad! Die deur is gesluit. My vrou en kinders slaap lankal. Ek gaan definitief nie nou opstaan om vir jou ’n brood te gee nie’? “Nee, natuurlik nie. Goeie vriende help mekaar. Ek sê vir julle, hierdie man sal dadelik opstaan en vir sy vriend brood gee. Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek. “Weet julle, God is net soos hierdie vriend. Daarom sê Ek vir julle: vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Wie van julle wat ’n pa is, sal vir julle kind ’n slang gee as hy julle ’n stukkie vis vra om te eet? As hy vir ’n eier vra, gee julle hom mos nie iets boos soos ’n skerpioen nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal selfs die Heilige Gees met sy groot krag gee aan almal wat ernstig tot Hom bid.” Daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van die duiwel was. Hy kon nie ’n enkele woord praat nie. Maar Jesus het die duiwel gou uitgedryf. Toe kon hy weer praat. Dit het die omstanders diep geraak. Party was egter nie beïndruk nie. “Nee wat, moenie julle so maklik laat kul nie. Hierdie man is goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste na hom.” ’n Groep ander mense sê toe vir Jesus: “Doen gou vir ons ’n teken. Ons wil heeltemal seker maak dat jy aan God se kant staan soos jy sê.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Daarom sê Hy toe vir hulle: “Wanneer ’n klomp soldate gedurig onder mekaar aan die baklei is, sal hulle mos nooit ’n oorlog teen ’n ander leër wen nie. Net so sal ’n gesin waarin almal van vroeg tot laat aan die stry is, ook nooit gelukkig bly nie. Die een of ander tyd sal hulle uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie. As Satan teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan hy eindig? Kort voor lank stort sy hele koninkryk in duie. Dit is presies wat sal gebeur as Ek en die duiwel sulke groot vriende is soos julle spul dink. “Maar wag, party van julle dryf ook mos demone uit. As julle nou sê Ek doen dit omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wat dan van julle? Wie se vriende is julle dan? Toe, laat julle mense self vir julle die antwoord gee! As julle die regte antwoord gekry het, sal julle moet erken dat Ek die demone in God se groot krag wegjaag. Dan sal julle ook besef: oral waar Ek onder julle aan die werk is, is God aan die werk. Daar raak God se vinger grond. Daar kan julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk. “Kom Ek verduidelik dit met ’n beeld. Dink julle ’n mens kan sommer by die huis van ’n groot man wat ’n klomp wapens in sy kluis het, instap en sy goed gaan steel? Natuurlik nie. Hy sal jou mos vinnig op jou plek sit. Behalwe natuurlik as jy sterker as hy is. Dan kan jy hom oorrompel en al sy goed vat en dit verdeel. “Wat sê hierdie beeld vir julle? Dít: julle kan mos duidelik sien aan wie se kant Ek staan. Nou moet julle ’n keuse maak: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan my vyand se kant; óf julle help My om mense na God se nuwe wêreld toe te lei óf julle jaag hulle weg.