Nehemia 2:1-20

Nehemia 2:1-20 DB

Op ’n dag, vier maande later, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, was hy besig om te eet en ek het wyn aan hom bedien. Hy het my nog nooit voorheen bedruk gesien nie. Daarom het hy vir my gevra: “Wat is fout? Ek kan sien jy is nie siek nie! Maar dan moet jy baie hartseer wees oor iets, of hoe?” Ek was uit die veld geslaan dat die koning dit raakgesien het en sê toe vir hom: “Lank lewe die koning! Ek kan nie anders as om hartseer te wees nie. Die stad waar my voorouers begrawe is, is een groot puinhoop. Al die mure rondom die stad lê plat en die stad se hekke is verbrand.” “Hoe kan ek jou help?” wou die koning weet. Op daardie oomblik het ek ’n vinnige skietgebed opgestuur na die God van die hemel toe. Toe sê ek vir die koning: “As U Majesteit my toelaat om ’n guns te vra: laat my asseblief dan toe om na die landgebied van Juda terug te gaan sodat ek die stad waarin my voorvaders begrawe is, kan gaan herbou.” Die koningin het langs die koning aan tafel gesit. Hy vra toe vir my: “Hoe lank sal dit jou vat en wanneer sal jy terug wees?” Nadat ek hom geantwoord het, het hy vir my toestemming gegee om te gaan. Ek sê toe vir hom: “Ek sal bly wees as U Majesteit vir my briewe gee om vir die goewerneurs van die provinsies wes van die Eufraatrivier te verduidelik dat ek met u goedkeuring terugkeer. Dan kan ek sonder probleme deur hulle gebied na Juda toe reis. Ek het ook ’n brief nodig aan Asaf, die voorman van die staatsbos. Hy moet my van hout voorsien om balke te maak vir die hekke van die fort wat naby die tempel is en ook vir die muur rondom die stad en vir die huis waarin ek gaan bly.” Die koning het toe al hierdie dinge vir my gedoen omdat God in sy goedheid sy hand oor my gehou het. Die koning het ’n klompie van sy offisiere en ruiters saam met my gestuur om my te beskerm. Toe ek by die provinsies wes van die Eufraatrivier aankom, het ek die koning se briewe vir die goewerneurs gegee. Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was hulle baie kwaad dat iemand op pad was om die Israeliete te gaan help. Drie dae na my aankoms in Jerusalem het ek en ’n paar van my vertrouelinge een nag stil-stil daar weggesluip. Ek het nog nie vir almal vertel watter planne God in my kop gesit het oor Jerusalem nie. Behalwe die donkie waarop ek gery het, het ons geen ander diere by ons gehad nie. Onder die dekmantel van die nag is ek deur die Valleihek by die stad uit, verby by die Jakkalsfontein tot by die Vullishek. So ver as wat ek gegaan het, het ek inspeksie gedoen van die mure van Jerusalem en ook van die hekke wat afgebrand het. Toe ek by die Fonteinhek en die Koningsdam kom, kon my donkie nie verder gaan nie, so baie puin en rommel het daar gelê. Ek is toe met die Kedronvallei op al langs die muur om die skade te bekyk voordat ek weer deur die Valleihek die stad in is. Niemand het geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie; nie die amptenare of selfs die Jode, die priesters, die vooraanstaande inwoners, die beamptes of die ander wat die werk sou moes doen nie. Ek het tot hiertoe nog al my planne vir myself gehou. Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in watter haglike posisie ons is solank Jerusalem se mure vernietig is en die hekke van die stad afgebrand is. Kom ons herbou Jerusalem se mure. Dan kan ons weer trots wees op ons stad!” Ek het hulle vertel dat hierdie sending God se goedkeuring wegdra en hoe Hy my gehelp het, en ook wat die koning gesê het. Hulle reaksie was: “Uitstekend! Kom ons begin dadelik bou!” Hulle het dadelik begin gereedmaak om die werk te doen. Toe Sanballat, Tobija en Gesem hoor wat ons beplan, het hulle ons uitgelag en spottend gevra: “Wat dink julle doen julle? Hoekom waag julle dit om in opstand te kom teen die koning?” My antwoord aan hulle was: “Die God van die hemel sal ons help om suksesvol te wees. Ons is sy dienaars en ons sal die bouwerk doen. Maar julle het geen plek of reg hier nie. Julle moet ook nie dink dat julle in Jerusalem onthou sal word nie.”