DANIËL 11:31-36

DANIËL 11:31-36 AFR83

Van die koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die daaglikse offer afskaf en 'n ding oprig wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig. Die koning sal dié wat aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot afvalligheid, maar die mense wat hulle God ken, sal vasstaan. Verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense, maar 'n tyd lank sal hulle doodgemaak, verbrand, gevange geneem en geplunder word. Wanneer dit hulle tref, sal hulle 'n bietjie hulp ontvang, en baie sal vir die skyn by hulle aansluit. Dan sal die vervolging party van die verstandige leiers tref sodat die volk gelouter, gesuiwer en gereinig kan word tot die eindtyd toe, want die einde is klaar bepaal. “Die koning van die noorde sal maak soos hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê. Hy sal daarmee aanhou totdat die tyd van God se toorn oor sy volk verby is, want wat besluit is, sal gebeur.