Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.
Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
Hy het nie geweet wat hy sê nie.
Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”
Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is.
Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.
Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het 'n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom. Meteens roep daar 'n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind. 'n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie. Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.”
Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.”
Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee. Almal was verslae oor die grootheid van God.
Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.”
Maar hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle bedek sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Jesus daaroor uit te vra.
Daar het 'n stryery onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek 'n kindjie nader om langs Hom te kom staan. Toe sê Hy vir hulle: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.”
Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”
Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.”
Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.
Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”
Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys.