Daardie dag is daar ten aanhore van die volk voorgelees uit die boek van Moses, en daar is geskryf gevind dat 'n Ammoniet of Moabiet nooit in die gemeente van God mag kom nie. Dit was omdat hulle nie brood en water aan die Israeliete wou gee nie en vir Bileam gehuur het om 'n vloek oor Israel uit te spreek. Ons God het die vloek in seën laat verander. Toe die volk dié wet hoor, het hulle almal wat van gemengde herkoms was, van Israel afgeskei.
Tevore het die priester Eljasib, wat in beheer was van die opslagplek by die huis van ons God en familie van Tobija was, vir Tobija 'n groot kamer ingerig wat tevore gebruik was vir die graanoffer, die wierook, die offergereedskap, die tiendes van koring, wyn en olie, die aandeel van die Leviete, die sangers en die poortwagte, en die offergawe vir die priesters. Ek was nie in Jerusalem toe dit alles gebeur het nie, want in die twee en dertigste regeringsjaar van koning Artasasta van Babel is ek terug na die koning toe. Ek kon eers met verloop van tyd van die koning verlof vra en na Jerusalem toe kom. Toe ek uitvind watter verkeerde ding Eljasib gedoen het deur vir Tobija 'n kamer in die voorhof van die tempel in te rig, was ek baie kwaad. Ek het al Tobija se huisraad uit die kamer gegooi en opdrag gegee dat die kamer gereinig moet word. Daarna het ek die goed wat in die tempel gebruik is, en die graanoffer en die wierook daar teruggesit.
Verder het ek uitgevind dat die Leviete nie hulle aandeel aan onderhoud ontvang het nie, en dat hulle en die sangers wat dienswerk moes doen, weg is, elkeen na sy eie grond toe. Ek het die ampsdraers sterk aangespreek en gesê: “Waarom is die tempel verwaarloos?” Daarna het ek die Leviete weer bymekaargemaak en in hulle poste teruggeplaas. Die hele Juda het daarna die tiendes van koring, wyn en olie ingebring na die voorraadkamers toe. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die voorraadkamers geplaas, en hulle is bygestaan deur Ganan seun van Sakkur, seun van Mattanja. Hulle is as betroubaar beskou, en dit was hulle taak om die uitdeling aan hulle ampsgenote te doen.
Onthou tog wat ek gedoen het, my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir sy diens gedoen het, vergeet raak nie.
Daardie tyd het ek in Juda gesien dat mense die wynpers op die sabbat trap, en vragte koring en ook wyn, druiwe, vye en allerhande pakke op donkies laai en in Jerusalem inbring op die sabbat. Ek het hulle gewaarsku om nie op dié dag kos te verkoop nie.
Die Tiriërs wat in Jerusalem gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die sabbat aan die Judeërs en in Jerusalem verkoop. Ek het die vooraanstaande burgers van Juda sterk aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so 'n verkeerde ding doen dat julle die sabbat ontheilig? Dit is presies wat julle voorvaders gedoen het, sodat ons God al hierdie onheil oor ons en oor hierdie stad gebring het! Nou vererger julle die toorn wat op Israel rus deur die sabbat te ontheilig!”
Ek het toe opdrag gegee dat die poorte van Jerusalem gesluit moes word sodra dit daar begin donker word op die aand voor die sabbat en dat die poorte nie oopgesluit moes word voor ná die sabbat nie. Ek het van my eie dienaars by die poorte geplaas, sodat daar geen vrag op die sabbat sou inkom nie. Toe het die handelaars en smouse 'n keer of twee net buite Jerusalem geslaap. Ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: “Waarom slaap julle hier teen die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle straf.” Daarna het hulle nie weer op die sabbat gekom nie. Ek het die Leviete opdrag gegee om hulle te reinig en die poorte te kom bewaak sodat die sabbatdag heilig gehou sou word.
Onthou tog ook dit, my God, ontferm U oor my in u groot liefde!
Daardie tyd het ek ook nog Judeërs gesien wat getroud was met vrouens uit Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens. Van hulle kinders het die helfte Asdods gepraat of die taal van 'n ander volk. Judees kon hulle nie praat nie. Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God 'n eed laat aflê: “Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns nie en hulle dogters nie met julle seuns of met julleself nie. Dit was tog hiermee dat koning Salomo van Israel gesondig het! Onder die groot nasies was daar nie 'n koning soos hy nie. Sy God het hom liefgehad en hom koning laat word oor die hele Israel, maar vreemde vrouens het ook vir hom laat sondig. En nou moet ons hoor dat julle hierdie groot kwaad begaan het en ontrou aan ons God geword het deur vreemde vrouens te trou!”
'n Seun van Jojada seun van die hoëpriester Eljasib was die skoonseun van Sanballat die Goroniet. Ek het hom van my af weggejaag.
Onthou hulle, my God; hulle het die priesterskap en die plegtige onderneming van die priesters en die Leviete besoedel.
Ek het hulle gesuiwer van al wat vreemd was en diensbeurte vir die priesters en Leviete vasgestel, elkeen vir sy werk, en ook die heffings van hout op die vasgestelde tye, en die eerstelinge.
Onthou dit tot my voordeel, my God!