1 KORINTIËRS 9:19-27

1 KORINTIËRS 9:19-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Alhoewel ek dus teenoor niemand ’n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen. Onder die Jode het ek soos ’n Jood geword om hulle vir Christus te wen. Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen. Onder die nie-Jode wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie, maar onder die wet van Christus staan. Dit het ek gedoen om die nie-Jode vir Christus te wen. Vir die geringes het ek ’n geringe geword om hulle vir Christus te wen. Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring. Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry. Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ’n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.

1 KORINTIËRS 9:19-27 Bybel vir almal (ABA)

Ek is vry om te doen wat ek wil doen, maar ek het besluit om 'n slaaf van almal te word, sodat meer mense in Christus kan glo. Ek het vir die Jode soos 'n Jood geword, sodat die Jode in Christus kan glo. Ja, die Jode probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê, en ek het vir hulle geword soos iemand wat ook probeer om alles te doen wat die wette sê. In my hart weet ek dat dit nie belangrik is dat ek alles moet doen nie, maar ek doen dit sodat die Jode ook in Christus kan glo, die Jode wat nog probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê. Die heidene ken nie die Wette van Moses nie, en vir húlle het ek geword soos iemand wat ook nie die Wette van Moses ken nie. Maar ek lewe altyd soos God se wette sê, ek lewe soos Christus dit verduidelik het. Ek doen dit omdat ek hoop dat die heidene ook in Christus sal glo, die heidene wat nie die Wette van Moses ken nie. Party gelowiges se geloof is nog swak en hulle dink dat al die Wette van Moses vandag nog belangrik is. Ek het ook soos een van daardie gelowiges geword. Só het ek probeer om hulle sterker in Christus te laat glo. Ek het probeer om soos almal te wees, sodat ek miskien party van hulle kan red. Ek doen dit alles vir die goeie boodskap van Christus, sodat ek self ook kan kry wat Hy in sy boodskap belowe. Julle weet dit baie goed: Wanneer mense resies hardloop, dan is daar baie atlete wat hardloop, maar net één wat wen. Julle moet só hardloop dat julle kan wen. Elkeen wat resies wil hardloop, weet dat daar baie dinge is wat hy nie mag doen nie. As hy daardie verkeerde dinge doen, dan kan hy nie wen nie. En as hy wen, dan kry hy 'n lourier-krans. Hierdie kransie se blare bly nie lank mooi nie, dit verlep gou. Maar óns wat werk vir die goeie boodskap van Christus, ons kry 'n prys wat altyd mooi bly, dit verlep nooit nie. Daarom hardloop ek soos iemand wat baie graag wil wen. Ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie, ek slaan soos iemand wat iets wil raakslaan. Ek oefen baie hard sodat my liggaam alles kan doen wat ek wil hê dit moet doen. As ek dit nie doen nie, dan help dit nie dat ek vir ander mense preek nie. Want dan sê ek wat hulle moet doen, maar wanneer ek dit self moet doen, dan kan ek dit nie doen nie.

1 KORINTIËRS 9:19-27 Die Boodskap (DB)

Ek is met ander woorde nie afhanklik van enige gemeente nie, maar is vry om te doen wat ek dink die beste is. Ek wil graag alle mense help om die Here te leer ken. Ek wil nie net aan een groep mense gebind wees nie. Ek wil in elke geval vry wees om te doen wat in ’n betrokke situasie die beste is om mense na die Here toe te lei. As ek tussen Jode is, wil ek soos een van hulle optree sodat ek hulle kan oorhaal om Christene te word. As hulle stiptelik volgens hulle wet leef, leef ek ook so tussen hulle, al hoef ek nie. As ek dit doen, sal ek ’n kans kry om hulle te oortuig om ook in Jesus te glo. Vir ander mense wat nie eens weet van God se wet nie, maak ek asof ek ook nie so ’n wet het om na te luister nie. Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie, want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet. Ek moet luister na wat Jesus van my vra. As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei. As ek tussen mense is wie se geloof nie sterk is nie en wat nog met allerhande probleme sukkel, probeer ek my gedurig in hulle posisie indink sodat ek hulle kan help om beter Christene te word. Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen. Ek doen dit alles omdat die evangelie soveel vir my beteken. Wanneer die evangelie mense se lewe verander, doen dit net soveel aan my as aan hulle. Julle weet dat al hardloop ’n klomp mense in ’n resies daar net een wenner kan wees. Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie. Leef jou lewe so dat jy wen. As iemand ’n resies wil wen, oefen hy eers hard. Met ’n gewone resies is die prys vir die wenner klein, maar in die resies van hierdie lewe is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd. Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan, om te wen. Ek doen wat nodig is, al vra dit wat ook al van my. Dan vertel ek nie vir ander wat om te doen, maar sak self in die wedloop van die lewe uit nie.