1 SAMUEL 2:22-25
1 SAMUEL 2:22-25 Bybel vir almal (ABA)
Eli was baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles gedoen het aan al die Israeliete, en ook dat hulle seks gehad het met die vroue wat gewerk het by die deur van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Eli het vir sy seuns gesê: “Hoekom doen julle hierdie dinge? Ek hoor dat al hierdie mense sleg praat oor julle. Nee, my seuns, ek hoor wat die volk van die Here oor julle sê, en dit is nie goeie dinge nie. Wanneer 'n mens sonde doen teen 'n ander mens, dan kan die regters oordeel, maar wanneer 'n mens sonde doen teen God, wie moet dan oordeel?” Maar die seuns van Eli het nie geluister na hulle pa nie, want die Here wou hulle laat sterf.
1 SAMUEL 2:22-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms, dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor? Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree. As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as 'n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.
1 SAMUEL 2:22-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here. Wanneer een mens teen 'n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as 'n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?” Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak.
1 SAMUEL 2:22-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Eli was al baie oud. Toe hy hoor wat sy seuns alles aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat diens doen by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? Nee, my seuns! Want die gerug wat ek hoor besig is om onder die volk van die HERE te versprei, is nie goed nie. As een mens teen 'n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die HERE is wat 'n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?” Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die HERE wou hulle om die lewe bring.
1 SAMUEL 2:22-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Eli was baie oud en het gehoor alles wat sy seuns aan die hele Israel gedoen het; en hoe hulle saam met die vroue gelê het wat by die ingang van die tent van samekoms vergader het. En Hy sê vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge? Want ek hoor van julle slegte handelinge deur hierdie hele volk. Nee, my seuns; want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie: julle laat die volk van die HERE oortree. As die een teen die ander sondig, moet die regter hom oordeel; maar as iemand teen die HERE sondig, wie sal vir hom smeek? Maar hulle het nie na die stem van o menader geluister nie, want die HERE sou hulle doodmaak.
1 SAMUEL 2:22-25 Die Boodskap (DB)
Eli was al baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles aan die Israeliete doen, en dat hulle selfs by die vroue geslaap het wat by die ingang van die tempel werk. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle dit? Ek moet by al die mense net altyd slegte dinge van julle hoor. Nee, my seuns, dis regtig nie ’n mooi storie wat die volk van die Here rondvertel nie. As ’n mens teen iemand anders iets verkeerds doen, kan die regters jou miskien help. Maar wie sal jou help as jy teen die Here sondig?” Maar hulle het hulle nie aan hulle pa gesteur nie. Die Here was vir seker van plan om hulle dood te maak.
1 SAMUEL 2:22-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eli was al bejaard, maar hy het geweet wat sy seuns besig was om aan die Israeliete te doen. So het hy geweet dat sy seuns die jong vroue by die ingang van die tent van ontmoeting seksueel misbruik. Dan sê Eli vir hulle: “Die mense kom kla by my oor julle bose dade! Hoekom doen julle sulke dinge? My seuns, julle moet ophou daarmee! Wat ek van die mense hoor, is nie goed nie. Julle maak dat die mense teen die HERE oortree. Wanneer iemand teen ’n medemens sondig, kan God oordeel. Maar as iemand teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom intree?” Maar Eli se seuns wou nie na hulle pa luister nie, want die HERE het alreeds besluit dat hulle moet sterf.