2 KONINGS 7:1-20

2 KONINGS 7:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar Elisa sê: “Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal 'n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria.” Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.” Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan? As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!” Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie! Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en 'n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val.” In die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug. Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle 'n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.” Hulle het by die stad aangekom en na die wagte geroep en vir hulle vertel: “Toe ons by die kamp van die Arameërs gekom het, was daar niemand te sien of te hoor nie. Daar was net vasgemaakte perde en donkies, en die tente net soos hulle gelos is.” Die wagte het die nuus verder oorgedra totdat dit binne in die paleis bekend geword het. Die koning het die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal julle vertel wat die Arameërs met ons wil doen! Hulle weet ons is uitgehonger. Hulle het uit die kamp uit gegaan en in die veld gaan wegkruip met die gedagte: as die Israeliete uit die stad uitgaan, vang ons hulle lewendig en kom so self in die stad.” Een van sy amptenare het hierop geantwoord: “Laat van ons mense vyf van die perde vat wat nog oor is, dan stuur ons hulle met die perde en kyk wat gebeur. Hulle sal dit óf oorleef soos die menigte Israeliete wat nog in die stad oor is, óf hulle sal omkom soos die menigte Israeliete wat hier al aan hulle einde gekom het.” Hulle het twee strydwaens met perde gevat. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aan gestuur met die opdrag: “Gaan kyk.” Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. Die hele pad het vol klere en goed gelê wat die Arameërs in hulle haas om weg te kom, weggegooi het. Die boodskappers het teruggekom en dit aan die koning meegedeel. Toe het die volk uit die stad uit gegaan en die kamp van die Arameërs geplunder. Vyf kilogram meel of nege kilogram gars het net elf gram silwer gekos, soos die Here gesê het. Die koning het die adjudant, wat sy vertroueling was, in bevel van die poort geplaas, maar hy is deur die volk in die poort doodgetrap, net soos die man van God dit vir die koning gesê het toe dié na hom toe gekom het. Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Nege kilogram gars of vyf kilogram meel sal môre hierdie tyd net elf gram silwer kos in die poort van Samaria.” Toe het die adjudant mos die man van God geantwoord: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel dat dit nou reën,” en Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal net nie daarvan eet nie.” Dit is presies wat met die adjudant gebeur het: die volk het hom in die poort doodgetrap.

2 KONINGS 7:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Elisa het vir die koning gesê: “Luister wat sê die Here: Môre, hierdie selfde tyd, sal kos weer goedkoop wees, 'n sea koringmeel sal een sikkel kos, en twee sea gars sal een sikkel kos in die poort van Samaria.” Die offisier wat langs die koning gestaan het, sê toe vir die man van God: “Nee, dit sal nooit gebeur nie, ook nie wanneer die Here vensters in die hemel maak waardeur die reën kan val nie.” Elisa het vir die offisier gesê: “Ek sê vir jou, jy sal sien dat dit gebeur, maar jy sal nie self van daardie meel of gars eet nie.” Daar was vier melaatse mans voor die poort van die stad Samaria. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom moet ons hier sit totdat ons sterf? As ons besluit om in die stad in te gaan, dan sal ons daar sterf, want daar is nie kos nie. En as ons hier bly, dan sal ons hier sterf. Daarom, kom ons loop na die Arameërs toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.” Toe dit begin donker word, staan die vier melaatse mans op om na die Arameërs se kamp te gaan, maar toe hulle by die kamp kom, was hulle baie verbaas, want daar was niemand nie. Die Here het iets laat gebeur. Die Arameërs het gedink hulle hoor dat daar perde en oorlogkarre en baie manne aankom, en toe sê die Arameërs vir mekaar: “Kan julle dit hoor? Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om te kom oorlog maak teen ons.” Dit het begin donker word, en die Arameërs het gevlug. Hulle het hulle tente en hulle perde en donkies alles daar gelos en hulle het gevlug, hulle wou nie sterf nie. Die vier melaatse mans kom toe by die kamp en hulle gaan in 'n tent in en hulle eet en drink. Hulle vat toe ook goud en silwer en klere en hulle gaan begrawe dit. Daarna het hulle teruggekom en in nog 'n tent ingegaan. Hulle het daar ook goed gevat en gaan begrawe. En toe sê hulle vir mekaar: “Ons doen nou verkeerd. Vandag is 'n dag van goeie nuus, maar ons bly stil. Ons moenie wag tot môre nie, dit sal verkeerd wees. Kom ons gaan vertel dit vir die mense by die paleis.” Hulle kom toe by die poort van die stad en hulle skree vir die wagte: “Ons het in die Arameërs se kamp gekom, en daar was niemand nie. Die perde en donkies is daar vasgemaak, en die tente is ook nog daar.” Die wagte het dit by die paleis gaan vertel, en toe die koning dit daardie nag hoor, het hy opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek weet wat die Arameërs met ons wil doen. Hulle weet ons is honger. Hulle het uitgegaan uit die kamp en hulle het in die veld gaan wegkruip. Hulle wil ons lewendig vang wanneer ons uit die stad kom, sodat hulle in die stad kan inkom.” Een van die amptenare van die koning sê toe: “Die perde wat nog oor is in die stad, sal ook doodgaan soos baie van ons mense. Kom ons neem vyf van die perde en ons stuur mense om te gaan kyk.” Hulle het toe twee oorlogkarre en perde geneem, en die koning het manne gestuur om te gaan kyk waar die Arameërs is. Die manne het tot by die Jordaan-rivier gegaan om die Arameërs te soek. Oral op die pad het klere en wapens gelê wat die Arameërs weggegooi het terwyl hulle weggehardloop het. Die manne het teruggegaan en hulle het dit vir die koning vertel. Toe het die mense van die stad uitgegaan en hulle het alles gevat wat in die Arameërs se tente was. Alles het gebeur soos die Here gesê het: Een sea koringmeel het 'n sikkel gekos en twee sea gars het ook 'n sikkel gekos. Die koning het vir die offisier wat langs hom gestaan het, gesê hy moet by die poort staan en kyk dat alles reg gaan. Maar die mense het die offisier doodgetrap in die poort. Dit het gebeur soos die man van God vir die koning gesê het. Hy het gesê: “Môre, hierdie selfde tyd, sal twee sea gars een sikkel kos en een sea koringmeel sal ook een sikkel kos.” Daardie offisier het toe vir die man van God geantwoord en gesê: “Dit wat jy sê, kan nooit gebeur nie, ook nie as die Here vensters in die hemel maak waardeur die reën kan val nie.” En Elisa het gesê: “Jy sal sien dat dit gebeur, maar jy sal nie self van daardie meel of gars eet nie.” En dit het toe so met die offisier gebeur. Die mense het hom doodgetrap in die poort.

2 KONINGS 7:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE sê Elísa: Hoor die woord van die HERE! So spreek die HERE: Môre omtrent sulke tyd sal 'n maat fynmeel 'n sikkel, en twee mate gars 'n sikkel kos in die poort van Samaría. Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê: Al maak die HERE ook vensters in die hemel, sou dit kan gebeur? En hy sê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie. En daar was vier melaatse manne by die ingang van die poort; hulle het die een vir die ander gesê: Wat bly ons hier totdat ons sterwe? As ons sê: Laat ons in die stad ingaan — aangesien daar hongersnood in die stad is — sal ons daar sterwe; en as ons hier bly, sal ons sterwe; kom dan nou en laat ons oorloop na die laer van die Arameërs. As hulle ons laat lewe, dan bly ons lewe; en as hulle ons doodmaak, dan sterwe ons. En hulle het klaargemaak in die aandskemer om in die laer van die Arameërs in te gaan; maar toe hulle aan die buitekant van die laer van die Arameërs kom, was daar niemand nie. Want die HERE het die leër van die Arameërs 'n gedruis van waens en 'n gedruis van perde, 'n gedruis van 'n groot leërmag laat hoor, sodat hulle die een vir die ander gesê het: Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van die Egiptenaars teen ons gehuur om ons te oorval. Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hul lewe gevlug. En toe daardie melaatse manne by die kant van die laer kom, het hulle een tent binnegegaan en geëet en gedrink en daar silwer en goud en klere uit weggeneem en dit gaan begrawe. Daarna het hulle teruggekom en 'n ander tent binnegegaan en ook daaruit weggeneem en dit gaan begrawe. Toe sê hulle die een vir die ander: Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie boodskap, en ons bly stil! As ons vertoef tot die môrelig toe, dan sal ons skuldig staan. Kom dan nou, laat ons gaan en dit in die huis van die koning vertel. En hulle het gekom en na die poortwagters van die stad geroep en aan hulle berig gebring en gesê: Ons het by die laer van die Arameërs gekom, maar kyk, daar was niemand en geen mens se stem nie, maar net vasgemaakte perde en vasgemaakte esels en tente net soos dit was. En die poortwagters het geroep en dit binne-in die huis van die koning vertel. Toe staan die koning in die nag op en sê aan sy dienaars: Laat ek julle vertel wat die Arameërs aan ons gedoen het. Hulle weet dat ons honger ly; daarom het hulle uit die laer getrek om hulle in die veld weg te steek, en gesê: As hulle uit die stad uittrek, sal ons hulle lewendig vang en in die stad inkom. Maar een van sy dienaars antwoord en sê: Laat hulle dan tog vyf van die perde wat hier oorgebly het, neem — kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel wat hier oor is; kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel wat omgekom het — laat ons dié dan stuur en sien. Hulle neem toe twee strydwaens met perde; en die koning het agter die leër van die Arameërs aan gestuur en gesê: Gaan kyk. En hulle het agter hulle aan gegaan tot by die Jordaan; en kyk, die hele pad was vol klere en voorwerpe wat die Arameërs in hulle oorhaastige vlug weggegooi het. Daarop draai die boodskappers om en deel dit aan die koning mee. Toe gaan die volk uit om die laer van die Arameërs te plunder; en 'n maat fynmeel het 'n sikkel gekos, en twee mate gars 'n sikkel, volgens die woord van die HERE. En die koning het die adjudant op wie se arm hy geleun het, oor die poort aangestel; maar die volk het hom in die poort vertrap, sodat hy gesterf het volgens die woord van die man van God, deur hom uitgespreek toe die koning na hom afgekom het. Want toe die man van God met die koning gespreek en gesê het: Môre omtrent sulke tyd sal twee mate gars 'n sikkel, en 'n maat fynmeel 'n sikkel werd wees in die poort van Samaría — het die adjudant die man van God geantwoord en gesê: Al maak die HERE ook vensters in die hemel, sou so iets kan gebeur? En hy het gesê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie. En so het dit met hom gegaan — die mense het hom in die poort vertrap, sodat hy gesterf het.

2 KONINGS 7:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar Elisa het gesê: “Hoor die woord van die HERE! So sê die HERE, ‘Môre teen hierdie tyd sal 'n sea gesifte meel teen 'n sikkel, en twee sea gars teen 'n sikkel verkoop word in die stadspoort van Samaria. ’ ” Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê: “Kyk, al sou die HERE vensters in die hemelruim maak – sou so iets kon gebeur?” Toe sê Elisa: “Kyk, jy gaan dit met jou eie oë sien, maar daarvan sal jy nie eet nie.” Daar was vier mans met 'n velsiekte by die ingang van die stadspoort, en hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons hier bly totdat ons sterf? As ons sê, ‘Ons gaan die stad binne,’ en daar is hongersnood in die stad, dan sterf ons daar, en as ons hier bly, dan sterf ons. Daarom, kom ons loop oor na die Arameërs se kamp. As hulle ons laat lewe, dan leef ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.” Hulle het toe teen skemerdonker gereedgemaak om na die Arameërs se kamp te gaan. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kyk, toe is daar niemand nie! Die Heer het die leër van die Arameërs die geluid van strydwaens en perde, die geluid van 'n groot mag, laat hoor, en hulle het vir mekaar gesê: “Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van Egipte teen ons gehuur om ons te oorval!” Hulle het toe opgespring en in die skemerdonker gevlug. Hulle het hulle tente, hulle perde en donkies – die kamp soos dit was – agtergelaat, en asof vir hulle lewens gevlug. Toe hierdie manne met die velsiekte by die kant van die kamp kom, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het silwer en goud en klere daarvandaan weggedra en dit gaan wegsteek. Hulle het teruggekom, in 'n ander tent ingegaan en ook van wat daar was, weggedra en dit gaan wegsteek. Maar toe sê hulle vir mekaar: “Dit is nie reg wat ons doen nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie nuus en ons hou dit stil. As ons wag tot daglig, sal ons skuldig staan. Kom ons gaan dan nou en bring die nuus aan die koninklike paleis.” Hulle gaan toe, roep na die poortwag van die stad en lig hulle in: “Ons het by die Arameërs se kamp gekom, en kyk, daar was niemand nie, nie die geluid van 'n mens nie; slegs vasgemaakte perde en donkies, en tente, net so agtergelaat.” Die poortwagte roep dit toe uit en maak dit in die koninklike paleis bekend. Die koning het in die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Laat ek tog vir julle vertel wat die Arameërs aan ons wil doen. Hulle weet dat ons honger ly. Hulle het uit die kamp gegaan om in die veld weg te kruip, met die gedagte: Wanneer hulle uit die stad gaan, sal ons hulle lewendig vang en in die stad inkom.” Een van sy amptenare reageer toe daarop en sê: “Laat hulle tog maar vyf van die oorblywende perde neem, van dié wat nog in die stad oor is. Kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel, wat nog in die stad oor is. Kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel, wat op hulle laaste bene is. Laat ons hulle stuur en sien wat aangaan.” Hulle neem toe twee strydwaens met perde. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aangestuur en gesê: “Gaan kyk!” Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. En kyk, die hele pad was besaai met kledingstukke en toerusting wat die Arameërs in hulle haas neergegooi het. Die boodskappers het omgedraai en aan die koning berig gebring, waarop die volk toe uitgaan en die Arameërs se kamp plunder. 'n Sea gesifte meel is teen 'n sikkel, en twee sea gars teen 'n sikkel verkoop, ooreenkomstig die woord van die HERE. Die koning het die adjudant op wie se arm hy geleun het, by die poort laat toesig hou. Maar die mense het hom in die poort vertrap en hy het gesterf, soos die man van God gesê het toe die koning na hom afgegaan en hy met hom gepraat het. Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Twee sea gars sal teen 'n sikkel en 'n sea gesifte meel teen 'n sikkel te koop wees teen hierdie tyd môre in die stadspoort van Samaria.” Die adjudant het toe mos die man van God geantwoord en gesê: “Kyk, al sou die HERE vensters in die hemelruim maak – sou so iets kon gebeur?” En hy het toe geantwoord: “Kyk, jy gaan dit met jou eie oë sien, maar daarvan sal jy nie eet nie.” Dit het toe net so met hom gebeur – die mense het hom in die poort vertrap, en hy het gesterf.

2 KONINGS 7:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê Elísa: Hoor die woord van die HERE; So sê die HERE: Môre omtrent hierdie tyd sal 'n maat fynmeel vir 'n sikkel verkoop word en twee mate gars vir 'n sikkel, in die poort van Samaria. Toe het 'n heer op wie se hand die koning geleun het, die man van God geantwoord en gesê: Kyk, as die HERE vensters in die hemel wil maak, kan hierdie saak wees? En hy sê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie. En daar was vier melaatse manne by die ingang van die poort, en hulle het vir mekaar gesê: Waarom sit ons hier totdat ons sterwe? As ons sê: Ons sal in die stad ingaan, dan is daar hongersnood in die stad, en ons sal daar sterwe; en as ons hier stilsit, sterf ons ook. Kom dan nou en laat ons val voor die leër van die Arameërs; as hulle ons in die lewe hou, sal ons lewe; en as hulle ons doodmaak, sal ons maar sterwe. En hulle het in die skemer opgestaan om na die laer van die Arameërs te gaan; en toe hulle aan die einde van die laer van Aram kom, was daar niemand daar nie. Want die HERE het die leër van die Arameërs laat hoor 'n gedruis van strydwaens en 'n gedruis van perde, ja, die gedruis van 'n groot leër; en hulle het vir mekaar gesê: Kyk, die koning van Israel het die konings teen ons gehuur van die Hetiete en die konings van die Egiptenaars, om oor ons te kom. Daarom het hulle opgestaan en in die skemerte gevlug en hulle tente en hulle perde en hulle esels, die laer soos dit was, verlaat en vir hulle lewe gevlug. En toe hierdie melaatses aan die einde van die laer kom, het hulle in een tent ingegaan en geëet en gedrink en silwer en goud en klere daarvandaan gedra en dit gaan wegsteek; en teruggekom en in 'n ander tent ingegaan en ook daarvandaan gedra en gegaan en dit weggesteek. Toe sê hulle vir mekaar: Dit gaan nie goed met ons nie; hierdie dag is 'n dag van goeie boodskap, en ons swyg; as ons tot die môrelig vertoef, sal 'n onheil oor ons kom; kom dan nou, dat ons kan gaan en vertel die koning se huisgesin. Hulle het toe gekom en die portier van die stad geroep, en hulle het hulle meegedeel en gesê: Ons het by die laer van die Arameërs gekom, en kyk, daar was niemand daar nie, ook geen stem van 'n mens nie, maar vasgemaakte perde en vasgemaakte esels, en die tente soos hulle was. En hy het die poortwagters geroep; en hulle het dit in die huis van die koning vertel. En die koning het in die nag opgestaan en aan sy dienaars gesê: Ek sal julle nou vertel wat die Arameërs ons aangedoen het. Hulle weet dat ons honger is; daarom het hulle uit die laer gegaan om hulle in die veld weg te kruip en te sê: As hulle uit die stad uitkom, sal ons hulle lewendig vang en in die stad ingaan. En een van sy dienaars het geantwoord en gesê: Laat sommige tog vyf van die perde neem wat in die stad oorgebly het, kyk, hulle is soos die hele menigte van Israel wat daarin oorgebly het; Ek sê, hulle is soos die hele menigte van die Israeliete wat verteer is: en laat ons stuur en kyk. Hulle het toe twee strydwaperde geneem; en die koning het die leër van die Arameërs agtervolg en gesê: Gaan kyk! En hulle het agter hulle aan gegaan tot by die Jordaan, en kyk, die hele pad was vol klere en voorwerpe wat die Arameërs in hulle haas weggegooi het. En die boodskappers het teruggekom en dit aan die koning meegedeel. En die manskappe het uitgegaan en die tente van die Arameërs geplunder. So is dan 'n maat fynmeel vir 'n sikkel verkoop, en twee mate gars vir 'n sikkel, volgens die woord van die HERE. En die koning het die heer op wie se hand hy geleun het aangestel om die bevel van die poort te neem; en die volk het hom in die poort getrap, en hy het gesterf, soos die man van God gesê het wat gespreek het toe die koning na hom afkom. En soos die man van God met die koning gespreek het en gesê het: Twee mate gars vir 'n sikkel en 'n maat fynmeel vir 'n sikkel, sal môre omtrent hierdie tyd in die poort van Samaria wees. En daardie heer het die man van God geantwoord en gesê: Nou kyk, as die HERE vensters in die hemel maak, kan so iets wees? En hy sê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien, maar nie daarvan eet nie. En so het dit oor hom geval, want die volk het hom in die poort getrap, en hy het gesterf.

2 KONINGS 7:1-20 Die Boodskap (DB)

Elisa het hom geantwoord: “Luister ’n bietjie wat sê die Here: ‘Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.’” “Jy is verspot, man!” het die offisier wat saam met die koning was, vir Elisa gesê. “Selfs al maak die Here die hemel se vensters nóú oop, kan jou storie nie waar word nie!” Elisa het hom geantwoord: “Jy sal dit self sien gebeur, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Vier melaatse mans, mense met ’n ernstige velsiekte, het buite die poort van Samaria gebly. Hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons nou hier bly sit om dood te gaan? In die stad is daar nie redding nie, die hongersnood is te erg en ons sal daar doodgaan. As ons net hier bly, sal ons ook sterf! Dus, kom ons loop oor na die Arameërs toe. As hulle ons lewe spaar, dan leef ons ten minste. As hulle ons doodmaak, is dit tog maar net wat hier ook met ons sou gebeur het.” Hulle het toe teen die aand oorgeloop na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle daar aankom, was daar nie ’n mens nie. Dit is wat gebeur het: Die Here het die Aramese soldate ’n geluid laat hoor wat geklink het soos ’n groot leërmag wat hulle aanval. Dit het geklink soos ’n geweldige klomp strydwaens en perde. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Israel se koning het die Hetiete en die Egiptiese leërs gehuur om teen ons te kom veg.” Die Arameërs het bang geword en vir hulle lewe gevlug. Hulle is teen skemer daar weg en het die hele kamp met tente, perde, donkies en voorrade net so laat staan. Dit is hoe die vier melaatse Israeliete die kamp gevind het. Hulle het by die eerste die beste tent ingegaan en geëet en gedrink tot hulle genoeg gehad het. Hulle het al die silwer, goud en klere gevat wat hulle kon kry en dit buite die kamp gaan wegsteek. Toe het hulle dit by ’n tweede tent ook gedoen. Maar toe het hulle vir mekaar gesê: “Eintlik maak ons nie reg nie. Hierdie is baie goeie nuus, maar ons het dit nog vir niemand vertel nie! As ons dit tot môre vir onsself hou, kan daar dalk iets slegs met ons gebeur. Kom ons gaan terug. Dan kan ons die goeie nuus vir almal by die paleis gaan vertel.” Hulle is toe terug stad toe. Hulle het die stad se poortwagters geroep en vertel wat in die vyand se kamp gebeur het. Hulle het gesê: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, was daar geen mens in sig nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente wat daar staan.” Die poortwagters het die boodskap oorgedra tot by die koning in sy paleis. Toe die koning die nuus kry, het hy in die middel van die nag opgestaan. Hy het vir sy offisiere gesê: “Laat ek julle vertel wat die Arameërs se plan is. Hulle weet tog dat ons hier in die stad van die honger vergaan. Nou het hulle hulle kamp ontruim en in die veld gaan wegkruip. Hulle probeer ons uit die stad uitlok om ons gevange te neem en die stad dan in te neem.” Een van die offisiere het gevra: “Moet ons nie tog maar verkenners uitstuur om te gaan kyk wat gebeur het nie? Laat hulle vyf van die perde wat oor is, vat en gaan kyk. As hulle iets oorkom, is dit nie veel erger as wanneer hulle hier bly en saam met ons doodgaan nie.” Die koning het toe twee strydwaens laat inspan. Hy het ’n paar verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk wat aangaan.” Hulle is toe daar weg en het die spoor van die Aramese leër gevolg tot by die Jordaanrivier. Die pad waarlangs hulle gevlug het, was besaai met klere en goed wat die Aramese soldate neergegooi het om vinniger te kan vlug. Die verkenners het teruggekom en vir die koning vertel wat hulle gesien het. Die mense van Samaria het uit die stad uitgestorm om die Aramese kamp te gaan plunder. Só het dit waar geword dat ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel net ’n paar gram silwer gekos het. In die chaos het die koning die offisier wat saam met hom was, aangestel om orde in die poortgebied van die stad te handhaaf. Die skare het hom egter daar op die plein by die poort doodgetrap. So het alles gebeur soos Elisa voorspel het toe die koning die vorige dag na sy huis toe gekom het. Die man van God het toe vir die koning gesê: “Môre, omtrent hierdie tyd, sal ses liter fynmeel of twaalf liter garsmeel op Samaria se mark net ’n paar gram silwer kos.” Die offisier wat saam met die koning was, het toe vir Elisa gesê: “Jy is verspot, man! Selfs al maak die Here die hemel se vensters nóú oop, kan jou storie nie waar word nie!” Elisa het hom toe geantwoord: “Jy sal dit self sien gebeur, maar jy sal nie daarvan eet nie.” Dit het net so gebeur. Die mense het hom op die plein by die poort doodgetrap.

2 KONINGS 7:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Elisa het geantwoord: “Luister na hierdie boodskap van die HERE! Dis wat die HERE sê: ‘Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.’” Die adjudant, vertroueling van die koning, sê vir die man van God: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die HERE die vensters van die hemel oopmaak!” Maar Elisa antwoord hom: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!” Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. “Hoekom moet ons hier sit en wag om dood te gaan?” vra hulle vir mekaar. “As ons die stad ingaan, sal ons sterf weens die hongersnood; en as ons hier bly, sal ons ook sterf. Ons kan maar netsowel oorgaan na die Arameërs se kamp toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons. As hulle ons doodmaak, dan is ons dood.” Skemerdonker gaan hulle na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kry hulle ’n groot verrassing: Daar was niemand nie! Die HERE het dit so bewerk dat die leër van Aram die gedreun van strydwaens, die galop van perde en die gedruis van ’n naderende leër gehoor het. “Die koning van Israel het seker die konings van die Hetiete en die Egiptenaars gehuur om ons aan te val!” roep hulle uit. Dit was skemeraand toe hulle halsoorkop gevlug het. Hulle tente, perde, donkies en al hulle besittings het hulle net so agtergelaat en vir hulle lewens gevlug. Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp aankom, het hulle by ’n tent ingegaan. Hulle het geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daar gekry en dit gaan wegsteek. Hulle het ook by ’n ander tent ingegaan, goed gevat en dit begrawe. Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.” Hulle gaan toe na die stad, roep na die poortwagters en vertel hulle wat gebeur het: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, ontdek ons daar was nie ’n mens te sien of te hoor nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente het almal nog net so daar gestaan.” Die poortwagters het geskreeu en die nuus oorgedra aan die koning in die paleis. In die middel van die nag het die koning opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal vir julle sê wat die Arameërs se plan met ons is! Hulle weet ons het nie kos nie. Daarom het hulle die kamp verlaat en êrens in die veld gaan wegkruip. Hulle dink: ‘Kom ons wag dat hulle uitgaan uit die stad. Dan sal ons hulle lewendig vang en self die stad binnegaan.’” Een van sy amptenare antwoord: “Laat ’n paar manne vyf van die perde wat oorgebly het, vat en gaan vasstel wat is wat. As daar iets met hulle gebeur, sal dit nie ’n groter verlies wees as wanneer hulle hier bly en saam met ons sterf nie.” Twee strydwaens met hulle perde is toe gereedgemaak. Die koning het hulle gestuur om te kyk wat van die Aramese leër geword het. Hulle het tot by die Jordaanrivier agter hulle aangegaan. Die hele pad was besaai met klere en ander goedere wat die Arameërs weggegooi het in hulle haas om te vlug. Die verkenners het teruggekom en dit vir die koning vertel. Toe het die inwoners van Samaria uit die stad gestorm en die Arameërs se kamp geplunder. So het dit dan gebeur dat vyf kilogram meel of dubbel die hoeveelheid gars net ’n sikkel silwer gekos het, net soos die HERE belowe het. Die koning stel toe die adjudant, sy vertroueling, aan om die oorvloed bedrywighede by die poort te beheer. Maar die inwoners het hom in die poort doodgetrap. Alles het net so gebeur soos wat die man van God gesê het toe die koning na sy huis toe gekom het. Die man van God het mos vir die koning gesê: “Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.” Die koning se adjudant het toe vir die man van God gesê: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die HERE die vensters van die hemel oopmaak!” En die man van God het geantwoord: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!” Dit het presies so gebeur, want die menigte het hom in die stadspoort doodgetrap.