DANIËL 2:1-18

DANIËL 2:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die tweede regeringsjaar van koning Nebukadnesar het hy 'n droom gehad wat hom so ontstel het dat hy nie kon slaap nie. Toe het hy die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers laat roep om sy droom vir hom uit te lê. Hulle het toe voor die koning kom staan en hy het vir hulle gesê: “Ek is ontsteld oor 'n droom wat ek gehad het en ek wil weet wat die droom beteken.” Die sterrekykers het die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning baie lank lewe! Vertel ons die droom, dan sal ons dit vir u uitlê.” Die koning sê toe vir die sterrekykers: “Ek het klaar besluit: as julle my nie die droom en sy uitleg kan gee nie, sal julle aan stukke gekap word en sal van julle huise puinhope gemaak word. Maar as julle die droom en sy uitleg gee, sal julle baie geskenke en groot eer van my ontvang. Gee my dus die droom en sy uitleg.” Hulle sê toe weer vir die koning: “U Majesteit moet die droom vir ons vertel, dan sal ons dit uitlê.” Toe sê die koning: “Ek weet goed julle wil net tyd wen omdat julle sien ek het klaar besluit dat as julle die droom nie uitlê nie, daar vir julle net een straf voorlê! Daarom het julle afgespreek om vir my 'n klomp leuens te vertel totdat die omstandighede mag verander. Vertel vir my die droom dat ek kan weet of julle sy uitleg kan gee.” Die sterrekykers het die koning geantwoord: “Daar is geen mens op aarde wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie. Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie.” Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring. Daar is toe 'n proklamasie uitgevaardig dat die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Ook Daniël en sy vriende is gesoek om doodgemaak te word. Daniël het toe versigtig navraag gedoen by Arjok, die hoof van die koning se lyfwag, wat op pad was om die koninklike raadgewers dood te maak. Hy het vir Arjok, die offisier van die koning, gevra waarom die proklamasie van die koning so genadeloos is, en Arjok het dit vir hom verduidelik. Daniël het na die koning toe gegaan en uitstel gevra om die uitleg aan die koning te kan gee. Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie.

DANIËL 2:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die tweede jaar van Nebukadnesar se regering het Nebukadnesar drome gedroom. Sy gees was ontsteld, en sy slaap was daarmee heen. Die koning gee toe opdrag dat die waarsêerpriesters, goëlaars, towenaars en Galdeërs ontbied word om vir die koning sy drome uit te lê. Hulle het gekom en voor die koning gaan staan. Die koning het vir hulle gesê: “Ek het 'n droom gehad, en my gees is ontsteld daaroor om te weet wat die droom was.” Die Galdeërs sê toe vir die koning (Aramees): “O koning, leef vir ewig! Vertel die droom vir u dienaars, dan sal ons die uitleg gee.” Die koning antwoord en sê toe vir die Galdeërs: “Die saak staan vas by my. As julle nie aan my die droom en sy uitleg bekend kan maak nie, sal julle ledemate afgekap word, en van julle huise sal vullishope gemaak word. As julle egter die droom en sy uitleg bekend maak, sal julle geskenke, belonings en groot eer van my ontvang. Daarom, maak nou die droom en sy uitleg bekend.” Hulle het 'n tweede keer geantwoord en gesê: “Die koning moet die droom vir sy dienaars vertel, dan sal ons die uitleg gee.” Daarop antwoord die koning en sê: “Ek weet sonder twyfel dat julle probeer tyd wen, omdat julle gesien het dat die saak by my vasstaan, en dat, as julle aan my nie die droom bekend kan maak nie, net een wet vir julle geld! Gevolglik het julle oor 'n vals en leuenagtige verklaring ooreengekom, om dié aan my oor te dra, totdat die tyd gunstiger is. Daarom, vertel vir my die droom! Ek sal dan weet of julle sy uitleg aan my bekend kan maak.” Die Galdeërs het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Daar is nie 'n mens op aarde wat in staat is om aan die koning se versoek te voldoen nie. Daarom het nog geen koning, hoe groot en magtig ook al, so iets van enige waarsêerpriester of towenaar of Galdeër gevra nie. Die saak wat die koning verlang, is moeilik, en daar is niemand wat dit vir die koning kan uitlê nie, behalwe die gode, wie se woning nie by sterflinge is nie.” Hieroor het die koning hom vererg, en hy was baie kwaad. Hy gee toe bevel dat al die wyses van Babilonië om die lewe gebring moet word. Die bevel is uitgevaardig: “Die wyses moet doodgemaak word!” Hulle soek toe ook Daniël en sy metgeselle om hulle dood te maak. Daarop het Daniël met raad en goeie oordeel gereageer teenoor Ariog, die •aanvoerder van die koning se lyfwag, wat uitgetrek het om die wyses van Babilonië dood te maak. In sy reaksie het hy vir Ariog, die gevolmagtigde van die koning, gevra: “Waarom is die bevel van die kant van die koning dan so streng?” Daarop het Ariog die saak aan Daniël verduidelik, waarna Daniël ingegaan en vir die koning gevra het dat tyd aan hom gegun moes word om die uitleg van die droom aan die koning bekend te maak. Toe het Daniël na sy huis gegaan en die saak aan sy metgeselle Gananja, Misael en Asarja meegedeel, sodat hulle om ontferming kon pleit by die God van die hemel oor hierdie geheim, en Daniël en sy metgeselle nie om die lewe gebring sou word saam met die res van die wyses van Babilonië nie.

DANIËL 2:1-18 Die Boodskap (DB)

In sy tweede regeringsjaar het koning Nebukadnesar ’n droom gehad wat hom so omgekrap het dat hy nie kon slaap nie. Hy laat roep toe sy towenaars, toekomsvoorspellers, besweerders en sterrevoorspellers om vir hom te kom sê wat hy gedroom het. Toe hulle voor hom staan, sê hy vir hulle: “Ek het ’n droom gehad wat my baie omkrap. Ek wil nou by julle weet wat dit beteken.” Die sterrevoorspellers het in Aramees vir die koning gesê: “Lank lewe die koning! As u net vir ons sê wat u gedroom het, sal ons vir u presies kan sê wat dit beteken.” Maar die koning antwoord hulle: “Kyk, ek het besluit julle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie kan doen nie, sal ek julle stadig laat doodmaak en julle huise sal verwoes word sodat die mense wat daar verbyloop, sal dink dis ’n ashoop. Aan die ander kant, as julle wel vir my kan sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle vereer en vir julle baie geskenke gee. Dit is mos eenvoudig: al wat ek wil hê, is dat julle vir my moet sê wat ek gedroom het en wat dit beteken.” Hulle sê toe weer vir die koning: “Asseblief, U Majesteit, vertel ons net wat u gedroom het, dan verduidelik ons vir u wat dit beteken.” “Dis nes ek gedink het!” het Nebukadnesar gebulder. “Julle is besig om vir tyd te speel omdat julle weet ek is ernstig oor wat ek gesê het. As julle nie my droom onmiddellik uitlê nie, is dit verby met julle. Julle het saam besluit om aan te hou om vir my leuens te vertel in die hoop dat iets dalk kan verander. Ek wil nóú by julle weet wat ek gedroom het sodat ek kan sien dat julle ook die droom kan uitlê!” Toe sê die sterrevoorspellers vir die koning: “Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat kan doen wat u van ons verwag nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook al was, het nog ooit so iets van sy towenaars, toekomsvoorspellers of sterrevoorspellers verwag nie. Dit is onmoontlik vir ’n mens om te doen wat u vra. Net die gode sou so iets kon doen, maar ongelukkig bly hulle nie hier op aarde tussen die mense nie.” Die koning was buite homself van woede oor hierdie antwoord. Daarom het hy beveel dat al die koninklike raadgewers in Babel doodgemaak moes word. Hierdie koninklike opdrag, dat al die koning se raadgewers doodgemaak moes word, het ook vir Daniël en sy vriende ingesluit. Hulle is gesoek. Toe Arjok, die bevelvoerder van die koning se lyfwagte, kom om hulle dood te maak, het Daniël met hom gepraat. Hy het sy woorde versigtig gekies en sonder om aanstoot te gee vir Arjok gevra waarom die koning so ’n wrede opdrag gegee het. Arjok het toe vir hom vertel wat presies gebeur het. Daniël het toe dadelik na die koning toe gegaan en vir hom gevra om nie die opdrag te laat uitvoer nie, sodat hy die koning se droom vir hom kon uitlê. Daniël is toe terug huis toe, waar hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel het wat gebeur het. Hy het hulle gevra om tot die God van die hemel te bid om vir hulle goed te wees en om vir hulle te sê wat die geheim van die droom was sodat hulle nie saam met al die ander raadgewers van Babel doodgemaak sou word nie.

DANIËL 2:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die tweede jaar wat Nebukadnesar as koning regeer het, het hy een nag ’n droom gehad. Dit het hom so ontstel dat hy nie verder kon slaap nie. Hy het sy towenaars, voorspellers, besweerders en sterrekykers laat kom om sy droom te verklaar. Hulle het toe gekom en voor die koning kom staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n droom gehad wat my baie ontstel het. Ek wil weet wat die droom beteken.” Die sterrekykers het toe die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning lank leef! Sê vir ons wat u gedroom het en ons sal dit uitlê.” Die koning het vir hulle gesê: “Ek het vas besluit dat as julle nie sowel die droom as sy verklaring vir my gee nie, julle liggame in stukke gekap sal word en van julle huise ashope gemaak sal word. As julle wel vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle met geskenke beloon en julle vereer. Sê vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken!” Hulle sê toe weer vir die koning: “Sê net vir u dienaars wat u gedroom het, dan sal ons kan sê wat dit beteken.” Die koning sê toe: “Dis vir my duidelik dat julle probeer tyd wen. Julle het gesien dat my besluit vasstaan. As julle nie vir my sê wat ek gedroom het nie, bly daar net een ding vir julle oor. Julle sweer saam om aan my leuens te verkoop in die hoop dat ek die besluit sal verander. Sê vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet dat julle ook kan verklaar wat dit beteken.” Die sterrekykers het toe reguit vir die koning gesê: “Daar is nie ’n mens op aarde wat kan doen wat die koning vra nie. Geen koning, hoe sterk en magtig ook al, het al ooit so iets van enige towenaar, besweerder of sterrekyker vereis nie. Wat die koning eis, is onmoontlik. Daar bestaan niemand behalwe die gode wat kan sê wat die koning gedroom het nie. En die gode woon nie tussen mense nie.” Die koning het toe so kwaad geword dat hy opdrag gegee het dat al sy raadgewers in Babel tereggestel moet word. ’n Wet is toe uitgevaardig dat hulle almal doodgemaak moet word. Daniël en sy vriende is ook gesoek om tereggestel te word. Daniël het toe Arjok, hoof van die koning se lyfwag, taktvol en diplomaties genader. Arjok se opdrag was om al die raadgewers in Babel dood te maak. Hy het vir Arjok uitgevra: “Waarom is die opdrag van die koning so onverbiddelik?” Arjok het vir Daniël verduidelik waaroor dit gaan. Daniël het toe dadelik na die koning gegaan en uitstel gevra om die koning se droom te verklaar. Toe is Daniël na sy huis toe waar hy sy vriende Gananja, Misael en Asarja hiervan vertel het. Hy het hulle gevra om saam met hom by die God van die hemel te pleit vir hulp om die geheim van die droom te ontrafel sodat Daniël en sy vriende nie saam met die res van die raadgewers in Babel doodgemaak word nie.

DANIËL 2:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Koning Nebukadnesar het gedroom. Dit was in die tweede jaar nadat hy koning geword het. Hy het bekommerd geword. Hy kon nie weer slaap nie. Die koning het toe al die slim mense laat roep sodat hulle vir hom kon sê wat hy gedroom het. Hulle het gekom en hulle het voor die koning gaan staan. Die koning het vir hulle gesê: “Ek het gedroom en ek is bekommerd oor wat ek gedroom het. Ek wil weet wat die droom beteken.” Die slim mense het toe in die Aramese taal gepraat en vir die koning gesê: “Ons hoop die koning sal lank lewe. Sê vir ons wat jy gedroom het, dan sal ons vir jou sê wat dit beteken.” Maar die koning het vir die slim mense gesê: “Nee, ek het besluit júlle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie doen nie, dan sal my manne julle doodmaak en in stukke kap en julle huise afbreek. Maar as julle vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, dan sal ek vir julle baie presente gee, en julle sal baie belangrike mense word. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken.” Die slim mense het weer gesê: “Koning, jy moet eers vir ons sê wat jy gedroom het, dan sal ons sê wat dit beteken.” Toe sê die koning vir hulle: “Ek weet julle wil eers dink wat julle moet doen. Julle weet ek het klaar besluit wat ek met julle sal doen as julle nie vir my kan sê wat ek gedroom het nie. Julle wil eers saam besluit om vir my iets te vertel wat nie waar is nie. Julle hoop daar gebeur iets wat julle sal help. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet julle kan ook vir my sê wat dit beteken.” Die slim mense het vir die koning gesê: “Niemand op die aarde kan doen wat die koning wil hê nie. Daar is nie een ander belangrike koning wat so iets vir 'n slim mens gevra het nie. Die koning wil hê ons moet iets doen wat ons nie kan doen nie. Niemand anders kan dit doen nie. Net die gode kan dit doen, en hulle woon nie hier by die mense nie.” Die koning word toe baie kwaad, en hy sê sy soldate moet al die wyse mense in Babel doodmaak. Toe die koning sê hulle moet die wyse mense doodmaak, het die soldate vir Daniël en sy vriende ook gesoek om hulle dood te maak. Arjok was die hoof van die soldate wat die koning moes oppas, en die koning het gesê hy moet die wyse mense van Babel doodmaak. Arjok het gegaan om dit te doen, maar toe het Daniël met hom gaan praat. Daniël was slim om met Arjok te gaan praat. Hy het vir Arjok gevra: “Hoekom is die koning so kwaad? Hoekom het hy besluit om ons dood te maak?” Arjok het vir Daniël vertel wat gebeur het. Daniël het na die koning toe gegaan en gevra die koning moet 'n bietjie wag, dan sal hy vir die koning sê wat die droom beteken. Daniël het huis toe gegaan en vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat gebeur het. Hy het gebid die God van die hemel moet vir hulle goed wees en vir hom sê wat die koning gedroom het. Dan sal die koning se manne nie vir Daniël en sy vriende doodmaak saam met die ander wyse mense van Babel nie.

DANIËL 2:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar 'n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was. Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan, sê die koning vir hulle: Ek het 'n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan. Toe het die Chaldeërs met die koning gespreek (Aramees): Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee. Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê: Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word. Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te kenne. Hulle het vir die tweede maal geantwoord en gesê: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee. Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan; want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om 'n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee. Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie. Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie. Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring. Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word. Daarop het Daniël aan Áriog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, 'n slim en verstandige antwoord gegee. Hy antwoord en sê vir Áriog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Áriog aan Daniël die saak meegedeel. Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend, en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.

DANIËL 2:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar het Nebukadnésar drome gedroom, waardeur sy gees ontsteld en sy slaap van hom afgebreek het. Toe het die koning bevel gegee om die towenaars en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep om aan die koning sy drome te wys. Hulle het toe gekom en voor die koning gaan staan. Toe sê die koning vir hulle: Ek het 'n droom gedroom, en my gees was ontsteld om die droom te leer ken. Toe het die Chaldeërs in Sirië met die koning gespreek, o koning, leef vir ewig; vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee. Die koning het geantwoord en vir die Chaldeërs gesê: Die saak is van my af weg; as julle die droom met die uitlegging daarvan nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gesny word, en julle huise sal 'n mishoop gemaak word. Maar as julle die droom en die uitlegging daarvan te kenne gee, sal julle geskenke en belonings en groot eer van My ontvang; laat my daarom die droom en die uitlegging daarvan bekend maak. Hulle het weer geantwoord en gesê: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel, en ons sal die uitlegging daarvan te kenne gee. Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd sal wen, want julle sien dat die ding van my weg is. Maar as julle die droom nie aan my bekend maak nie, is daar net een bevel vir julle: want julle het leuenagtige en verdorwe woorde voorberei om voor my aangesig te spreek totdat die tyd verander het; vertel my dan die droom, en ek sal weet dat julle kan my die uitlegging daarvan wys. Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen man op die aarde wat die saak van die koning kan vertel nie; En dit is 'n seldsame ding wat die koning eis, en daar is niemand anders wat dit voor die koning kan toon nie, behalwe die gode wie se woning nie by vlees is nie. Daarom was die koning kwaad en baie woedend, en hy het bevel gegee om al die wyse manne van Babel te vernietig. En die bevel het uitgegaan dat die wyse manne gedood moes word; en hulle het Daniël en sy maats gesoek om gedood te word. Toe het Daniël met raad en wysheid geantwoord aan Ariog, die owerste van die lyfwag van die koning, wat uitgegaan het om die wyse manne van Babel dood te maak. Hy het geantwoord en vir Ariog, die owerste van die koning, gesê: Waarom is die bevel van die koning so haastig? Toe het Ariog die saak aan Daniël bekend gemaak. Toe het Daniël ingegaan en van die koning gevra dat hy hom tyd sou gee en dat hy die uitlegging aan die koning sou wys. Toe het Daniël na sy huis gegaan en die saak aan Hanánja, Misael en Asarja, sy metgeselle, bekend gemaak. Dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel sou begeer oor hierdie geheim; dat Daniël en sy maats nie saam met die res van die wyse manne van Babel sou omkom nie.