DANIËL 6:1-11

DANIËL 6:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem toe hy twee en sestig jaar oud was. Hy het besluit om honderd en twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer. Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word. Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.” Die ministers en die goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning baie lank lewe! Al u ministers en al die goewerneurs, goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word. Stel dan nou so 'n dekreet op en vaardig dit skriftelik uit sodat dit nie verander kan word nie; dit moet onherroeplik wees, 'n wet van Mediërs en Perse.” Koning Darius het toe so 'n dekreet uitgevaardig. Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.

DANIËL 6:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Darius die Meder het die koningskap ontvang toe hy twee-en-sestig jaar oud was. Darius het dit goedgedink om honderd-en-twintig satrape oor die koninkryk aan te stel, wat oor die hele koninkryk verspreid sou wees. Oor hulle was daar drie toesighouers, waarvan Daniël een was, aan wie hierdie satrape rekenskap moes gee, sodat die koning nie skade sou ly nie. Hierdie Daniël het homself onderskei van die toesighouers en satrape, omdat 'n buitengewone gees in hom was; en die koning het beplan om hom oor die hele koninkryk aan te stel. Daarop het die toesighouers en satrape na 'n rede vir 'n aanklag teen Daniël gesoek in verband met die koninkryk, maar hulle kon geen rede of fout vind nie, omdat hy betroubaar was. Geen nalatigheid of fout is by hom gevind nie. Dié manne sê toe: “Ons sal nie enigiets vind teen hierdie Daniël nie, behalwe as ons iets teen hom vind in die wet van sy God.” Daarna het hierdie toesighouers en satrape by die koning ingestorm en die volgende vir hom gesê: “O koning Darius, leef vir ewig! Al die toesighouers van die koninkryk, die landvoogde, die satrape, die raadsmanne en die •streekgoewerneurs het met mekaar ooreengekom dat die koning 'n verordening moet uitvaardig en 'n verbod moet bekragtig, dat enigiemand wat vir dertig dae 'n bede rig tot enige god of mens, behalwe tot u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word. O koning, vaardig dan nou die verbod uit, en stel 'n bevelskrif op wat nie verander kan word nie, wat as 'n wet van Mede en Perse nie herroep mag word nie.” Om dié rede het koning Darius die bevelskrif en die verbod op skrif gestel. Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op 'n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het.

DANIËL 6:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Darius was koning in die land van die Mediërs. Hy het koning geword toe hy 62 jaar oud was. Hy het 120 goewerneurs gekies om te regeer oor al die lande wat aan hom behoort. Koning Darius het ook drie hoof-amptenare gekies. Hulle moes kyk dat die goewerneurs hulle werk goed doen soos die koning wil hê. Een van die hoof-amptenare was Daniël. Daniël het sy werk beter gedoen as die ander twee hoof-amptenare en die goewerneurs, want hy was baie slim. Die koning het toe besluit hy wil vir Daniël kies om die belangrikste hoof-amptenaar te wees. Die ander twee hoof-amptenare en die goewerneurs wou by die koning gaan kla oor Daniël. Hulle wou vir die koning sê hy doen nie sy werk nie en hy werk nie reg nie. Maar hulle kon niks kry wat Daniël verkeerd gedoen het nie, want hy het alles goed en reg gedoen. Die ander twee hoof-amptenare en die goewerneurs sê toe vir mekaar: “Ons sal net by die koning oor Daniël kan gaan kla wanneer Daniël iets doen wat sy God wil hê.” Die twee hoof-amptenare en die goewerneurs het vinnig na die koning toe gegaan en gesê: “Koning, ons hoop jy sal lank lewe. Al jou belangrike amptenare het saam besluit dat jy 'n wet moet maak: Al die mense moet 30 dae lank net tot jou bid, en jy sal almal wat dit nie doen nie en tot 'n ander mens of god bid, vir die leeus gooi. Koning, jy moet nou hierdie wet maak, en dit moet 'n wet wees van Medië en Persië, 'n wet wat niemand kan verander nie.” Koning Darius het toe die wet gemaak. Daniël het gehoor van die nuwe wet, maar hy het in sy huis gegaan en hy het elke dag drie maal gekniel en gebid en sy God geprys soos hy altyd gedoen het. Hy het gebid voor die oop vensters van die kamer op die dak. Die vensters was oop na Jerusalem toe.

DANIËL 6:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Daríus, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het. Dit het Daríus behaag om oor die koninkryk honderd-en-twintig landvoogde aan te stel wat in die hele koninkryk sou wees; en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie. Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat 'n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel. Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om 'n grond vir 'n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir 'n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie. Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir 'n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens. Toe het hierdie ministers en landvoogde die koning bestorm en só vir hom gesê: Mag koning Daríus vir ewig lewe! Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning 'n verordening moet uitvaardig en 'n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word. Stel nou 'n verbod vas, o koning, en laat 'n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is. Hierom het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe. En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.

DANIËL 6:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dit het Daríus behaag om honderd-en-twintig vorste oor die koninkryk aan te stel, wat oor die hele koninkryk sou wees; En oor hierdie drie presidente; van wie Daniël eerste was, sodat die vorste aan hulle rekenskap sou gee, en die koning geen skade sou hê nie. Toe is hierdie Daniël bo die presidente en vorste verkies, omdat 'n voortreflike gees in hom was; en die koning het gedink om hom oor die hele ryk aan te stel. Toe het die presidente en vorste gesoek om aanleiding te vind teen Daniël oor die koninkryk; maar hulle kon geen aanleiding of fout vind nie; omdat hy getrou was, is daar ook geen dwaling of fout by hom gevind nie. Toe sê hierdie manne: Ons sal geen aanleiding teen hierdie Daniël vind nie, tensy ons dit teen hom vind oor die wet van sy God. Toe het hierdie presidente en vorste by die koning bymekaargekom en so vir hom gesê: Koning Darius, leef vir ewig! Al die presidente van die koninkryk, die goewerneurs en die vorste, die raadgewers en die owerstes, het saam beraadslaag om 'n koninklike insetting vas te stel en om 'n vaste besluit te maak, dat elkeen wat 'n versoek van enige God of mens vra vir dertig dae, behalwe u, o koning, sal hy in die leeukuil gewerp word. Stel nou die bevel in, o koning, en teken die skrif, dat dit nie verander word nie, volgens die wet van die Meders en Perse, wat nie verander nie. Daarom het koning Darius die skrif en die bevel onderteken. En toe Daniël verneem dat die skrif geteken was, het hy in sy huis ingegaan; en sy vensters wat oop was in sy kamer in die rigting van Jerusalem, het drie maal op 'n dag op sy knieë gekniel en gebid en gedank voor sy God, soos hy tevore gedoen het. Toe het hierdie manne bymekaargekom en Daniël gevind terwyl hy bid en smeek voor sy God.

DANIËL 6:1-11 Die Boodskap (DB)

Darius, die Mediër, het op die ouderdom van 62 in Belsasar se plek koning geword. Hy het besluit om die koninkryk in 120 provinsies te verdeel en het vir elkeen ’n goewerneur aangestel. Verder het hy ook drie ministers aangestel, van wie Daniël een was. Hulle moes kyk dat die goewerneurs hulle werk reg doen en ook dat die koning se belange beskerm word. Daniël het gou bewys dat hy baie bekwamer was as enige van die ander ministers of goewerneurs. Die koning was so beïndruk met hom dat hy dit oorweeg het om die hele koninkryk onder sy bestuur te plaas. Die ander ministers en goewerneurs het jaloers geword en begin fout soek met die manier waarop Daniël die koninkryk bestuur het. Hulle kon egter geen fout kry nie, aangesien Daniël betroubaar was en niks oneerliks gedoen het nie. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons enigste kans om Daniël vas te trek is as ons hom aankla oor die manier waarop hy sy godsdiens beoefen.” Hulle is toe weg na die koning toe. By hom aangekom, het hulle hom gegroet: “Lank lewe koning Darius! Al die ministers, adjunkministers, goewerneurs en ander administrateurs het besluit om met u te praat. Ons dink U Majesteit moet ’n koninklike bevel uitvaardig wat sê dat enige persoon wat in die volgende 30 dae enige ander persoon of god buiten U Majesteit aanbid, in ’n hok vol leeus gegooi moet word. Gee nou dadelik so ’n bevel skriftelik en onderteken dit sodat dit onmiddellik in werking tree en niemand dit kan verander nie. Maak dit ’n wet van Meders en Perse wat nie teruggetrek kan word nie.” Koning Darius het toe so ’n bevel opgestel en geteken. Toe Daniël hoor dat die bevel onderteken is, het hy huis toe gegaan. In een van die boonste kamers van sy huis was daar vensters wat in die rigting van Jerusalem gekyk het. Daar het hy, soos sy gewoonte was, voortgegaan om by die oop vensters te kniel en drie maal per dag tot God te bid en Hom te prys.

DANIËL 6:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Mediër Darius het koning geword toe hy 62 jaar oud was. Darius het dit goedgedink om 120 amptenare oor sy koninkryk aan te stel. Oor hulle het hy drie hoofde aangestel as toesighouers wat na die koning se belange moes omsien. Daniël was een van die drie. Daniël was besonder bekwaam en het homself van die amptenare en die ander hoofde onderskei. Die koning het selfs oorweeg om hom oor sy hele ryk aan te stel. Die amptenare en hoofde het toe begin fout soek om iets oor sy werk teen Daniël in te bring. Hulle kon nêrens enige fout kry nie. Daniël was betroubaar en daar kon niks gekry word waarin hy nalatig was nie. Omdat hulle niks teen hom kon kry nie, het hierdie mense toe besluit dat hulle op grond van sy godsdiens iets teen hom sou kry. ’n Groep van die amptenare en hoofde is toe na die koning toe. Hulle sê vir hom: “Koning Darius, mag u nog lank lewe! Al die hoofde in die ryk, die hoofgoewerneurs, die hoofamptenare, die raadgewers en die goewerneurs beveel by u aan dat die koning ’n dekreet uitvaardig en bekragtig dat enigeen wat gedurende die volgende 30 dae enige god of mens behalwe die koning vereer, in ’n hok met leeus gegooi sal word. U Majesteit moet die wet opstel en dit onderteken sodat dit kan staan as wet van Mede en Perse wat nie verander kan word nie.” Koning Darius het die wet uitgevaardig en dit onderteken. Toe Daniël hoor dat die wet onderteken is, het hy huis toe gegaan. Hy het daar ’n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ’n dag op sy knieë gegaan om tot sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen.