DEUTERONOMIUM 6:1-15

DEUTERONOMIUM 6:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Dit is die wet, die voorskrifte en die bepalings, wat die Here julle God my beveel het om vir julle te leer, sodat julle daarvolgens kan lewe in die land wat julle in besit gaan neem. “So sal jy die Here jou God jou lewe lank kan dien en gehoorsaam wees aan sy voorskrifte en gebooie wat ek jou gegee het, jy en jou hele nageslag, en dan sal jy 'n lang lewe hê. As jy luister, Israel, en as jy gehoorsaam is en lewe volgens my gebooie, sal jy voorspoedig wees en uitermate baie word in die land wat oorloop van melk en heuning. Dit is wat die Here die God van jou voorvaders jou beloof het. “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. “Die Here jou God sal jou bring in die land waarvan Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om vir jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie, huise vol voorrade waarvoor jy nie gewerk het nie, putte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy sal kos in oorvloed hê. Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het nie. Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam 'n eed aflê. “Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie, want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee.

DEUTERONOMIUM 6:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Moses het toe gesê: “Hier is die wette van julle God die Here. Hy het gesê ek moet dit vir julle leer, sodat julle sal doen wat die wette sê in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat. Dit beteken julle en julle kinders en kleinkinders moet julle God die Here dien en julle moet alles doen wat die wette sê wat ek vir julle gee. Julle moet dit doen so lank soos julle lewe. As julle luister na die wette wat ek vir julle gee, dan sal julle lank lewe. Israeliete, julle moet luister en julle moet doen wat die wette sê, sodat dit goed sal gaan met julle en sodat julle 'n groot volk sal word. Die Here, die God van julle voorvaders het dit vir julle belowe, julle sal dit alles kry in 'n land waar daar baie melk en heuning is. “Israeliete, julle moet luister, ons God die Here is een Here. Daar is nie nog so 'n Here nie. En julle moet lief wees vir die Here, julle moet lief wees vir Hom met julle hele hart, met al julle krag. Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê en julle moet dit vir julle kinders leer. Julle moet oor hierdie dinge praat wanneer julle in julle huis sit en wanneer julle op die pad loop, wanneer julle lê en wanneer julle staan. Julle moet dink aan hierdie dinge wanneer julle iets met julle hande doen en wanneer julle na iets kyk en wanneer julle uitgaan en ingaan by die deure van julle huise en julle poorte. “Julle God die Here sal julle bring na die land wat Hy belowe het vir julle voorvaders, Hy het dit belowe vir Abraham, Isak en Jakob. Hy sal vir julle groot en mooi stede gee wat julle nie gebou het nie. Hy sal vir julle ook huise vol goed gee wat julle nie bymekaargemaak het nie, watergate wat julle nie self uit die klip gekap het nie, wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie. Wanneer julle genoeg het van alles, dan moet julle versigtig wees dat julle nie die Here vergeet nie. Julle was slawe in die land Egipte, maar die Here het julle uit Egipte gebring. Julle moet julle God die Here eer en dien, en wanneer julle iets belowe, dan moet julle net sý Naam noem, Hy moet die getuie wees. Julle moenie ander gode dien nie, julle moenie die gode van ander volke rondom julle dien nie. Want julle God die Here is by julle, Hy wil hê julle moet net vir Hom dien. As julle ook aan ander gode wil behoort, dan sal die Here kwaad word vir julle en Hy sal julle laat verdwyn van die aarde.

DEUTERONOMIUM 6:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIT is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem; dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou — jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word. Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met 'n eed beloof het om jou te gee — groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie — en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer. Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie — want die HERE jou God is 'n jaloerse God by jou — sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.

DEUTERONOMIUM 6:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Dit dan is die gebod, die vaste voorskrifte en beslissings wat die HERE julle God my beveel het om julle te leer, dat julle dit kan uitleef in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem – sodat jy ontsag mag hê vir die HERE jou God, deur al sy vaste voorskrifte en gebooie wat ek jou beveel, na te kom so lank jy leef, jy en jou kinders en jou kleinkinders, en sodat jy 'n lang lewe mag hê. Jy moet luister, Israel; kom dit nougeset na dat dit met jou goed mag gaan en dat julle baie meer mag word soos wat die HERE die God van jou voorouers jou beloof het – 'n land wat oorloop van melk en heuning.” HERE “ LUISTER, ISRAEL, DIE HERE IS ONS GOD, DIE HERE ALLEEN. Jy moet die HERE jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as 'n teken om jou hand en laat dit 'n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. “ Wanneer die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob, met 'n eed beloof het om vir jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, huise vol met alles wat goed is, wat jy nie gevul het nie, uitgekapte opgaarputte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy dan eet en versadig word, moet jy oppas dat jy nie die HERE vergeet wat jou uit Egipteland, uit 'n plek van slawerny, uitgelei het nie. Vir die HERE jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer. “Julle mag nie agter ander gode aanloop nie, gode van die nasies rondom julle; want die HERE jou God wat in julle midde is, is 'n besitlike God. Anders sal die toorn van die HERE jou God teen jou ontbrand, en dan gaan Hy jou van die aardbodem af uitdelg.

DEUTERONOMIUM 6:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit is die gebooie, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem: sodat jy die HERE jou God kan vrees, om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te onderhou, jy en jou seun en jou seun se seun, al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word. Hoor dan, o Israel, en let op om dit te doen; dat dit met jou goed mag gaan en julle mag vermeerder, soos die HERE, die God van jou vaders, jou beloof het, in die land wat oorloop van melk en heuning. Hoor, Israel, die HERE onse God is een HERE. En jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, sal in jou hart wees: En jy moet dit ywerig vir jou kinders leer en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad loop en as jy gaan lê en as jy opstaan. En jy moet dit as 'n teken op jou hand bind, en dit moet soos 'n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. En dit sal wees as die HERE jou God jou ingebring het in die land wat Hy aan jou vaders, aan Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het, om jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie, En huise vol van alle goeie dinge wat jy nie gevul het nie, en putte wat jy nie gegrawe het nie, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie; as jy geëet en versadig word; Pas dan op dat jy nie die HERE vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien en by sy Naam sweer. Julle mag nie agter ander gode aan loop nie, van die gode van die volke wat rondom julle is; (Want die HERE jou God is 'n jaloerse God onder julle) dat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en jou van die aarde af vernietig nie.

DEUTERONOMIUM 6:1-15 Die Boodskap (DB)

Moses het weer vir die volk gesê: “Hier is die wet en die voorskrifte wat die Here gesê het ek vir julle moet leer. Leef daarvolgens in die land wat julle binnekort gaan binnegaan. Jou hele lewe lank moet jy die Here liefhê en sy wil uitleef. Jy en jou nageslag moet dit doen sodat julle lank kan leef en oud kan word. Israel, luister altyd na die Here se gebooie en gehoorsaam dit. Dan sal jy ’n groot nasie word, soos die Here destyds al vir jou voorvaders beloof het. En jy sal lekker in die mooi en vrugbare land leef. “Israel, onthou altyd dat die Here en net die Here alleen ons God is. Jy moet die Here jou God met alles binne-in jou, ja, met jou hele wese liefhê. Al die woorde wat ek jou vandag leer, moet jy in jou hart bêre en altyd daaraan dink. Jy moet ook jou kinders daarvan vertel en jy moet oral daaroor praat. Of jy nou in jou huis sit, of jy op pad is, of jy ’n bietjie gaan lê of weer opstaan, jy moet altyd dink oor wat die Here van jou vra. Maak sy voorskrifte aan jou arms vas en bind dit styf vas om jou voorkop. Skryf dit op jou huis se deurkosyne en op die groot hekke van die stad.” “Wanneer die Here julle in die land bring wat Hy lank gelede al aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, sal julle in mooi, groot stede woon; stede wat julle nie self gebou het nie. Julle sal in huise vol mooi dinge bly, maar wat julle nie self mooi gemaak het nie. Daar sal ook waterputte wees wat julle nie self uitgekap het nie en wingerde en olyfbome wat julle nie self geplant het nie. In die nuwe land sal daar altyd kos wees. Sorg dus dat jy nooit die Here vergeet nie. Dink altyd aan Hom wat jou uit Egipte waar jy verdruk is, kom wegvat het. Jy moet die Here altyd liefhê, Hom dien en net in sy Naam beloftes aflê. Moet nooit die gode van die ander nasies rondom jou aanbid nie. Die Here jou God duld geen ander gode nie en as jy hulle aanbid, sal die Here se woede jou soos ’n vuur vernietig.

DEUTERONOMIUM 6:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Dit is die bevele, voorskrifte en bepalings wat die HERE julle God aan my meegedeel het om vir julle te leer. Die bedoeling hiervan is dat julle Hom gehoorsaam kan wees in die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem. “Jy, jou kinders en jou kleinkinders moet die HERE dien so lank as wat jy lewe. As jy al sy voorskrifte en bevele gehoorsaam, sal jy ’n lang lewe geniet. Luister noukeurig daarna, Israel, dat jy dit kan doen sodat dit met jou goed kan gaan en jy baie kinders kan hê. Die HERE God het aan jou voorouers ’n baie vrugbare land beloof. “Luister, Israel! Die HERE ons God is die enigste HERE. Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag. Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee. Skerp hierdie woorde by jou kinders in en praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit aan jou hande vas as ’n herinnering en dra dit op jou voorkop. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en teen jou stadspoorte. “Die HERE jou God bring jou binnekort in die land wat Hy aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het. Dit is ’n land met groot en mooi stede, stede waaraan jy nie gebou het nie. Die huise is vol met goeie goed waarvoor jy nie gewerk het nie. Jy sal water skep uit putte wat jy nie self gegrawe het nie. Jy sal van wingerde en olyfbome eet wat jy nie self geplant het nie. Wanneer jy jou in die land versadig geëet het, sorg dan dat jy nie die HERE vergeet nie. Dit is Hy wat jou van die slawerny in Egipte gered het. Betoon eerbied aan die HERE jou God en dien Hom. Wanneer jy ’n eed sweer, mag jy net sy Naam gebruik. “Jy mag geeneen van die gode van die naburige nasies aanbid nie, want die HERE jou God wat naby jou is, is ’n God wat onverdeelde lojaliteit vereis. As jy ander gode aanbid, sal sy woede teen jou opvlam en Hy sal jou van die aarde af wegvee.