JEREMIA 25:3-12

JEREMIA 25:3-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van die dertiende jaar van koning Josia van Juda, seun van Amon, af tot nou toe, drie en twintig jaar lank, het die woord van die Here tot my gekom. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie. Die Here het vroeg en laat sy dienaars die profete na julle toe gestuur, maar julle het nie geluister nie, julle het nie eers probeer luister nie. Hy het gesê: Julle moet julle bekeer van julle slegte lewe en van julle verkeerde dade. Dan sal julle bly woon in die land wat die Here lank gelede al vir altyd aan julle en julle voorvaders gegee het. Julle mag nie ander gode aanhang, dien en vereer nie. Julle mag My nie tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het nie, want dan sal Ek rampe oor julle bring. Maar julle het nie na My geluister nie, sê die Here. Julle het My bly tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het, en so het julle 'n ramp oor julleself gebring. So sê die Here die Almagtige: Omdat julle nie geluister het na wat Ek gesê het nie, vat Ek al die volke van die noorde, sê die Here, en Ek stuur hulle en my dienaar koning Nebukadnesar van Babel en Ek laat hulle optrek teen hierdie land en sy inwoners en teen al die nasies van die omgewing. Ek sal hulle uitroei en Ek sal hulle name vir altyd laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek. Hulle lande sal vir altyd puinhope wees. Ek sal blydskap en vreugde van hulle af wegvat: die huweliksfeeste, die klank van die maalklippe en die lig van die lampe. Hierdie land sal 'n verlate puinhoop word en al hierdie nasies sal sewentig jaar lank die koning van Babel se onderdane wees. Maar wanneer die sewentig jaar om is, sal Ek die koning van Babel en daardie nasie in Galdeërland straf vir al hulle sondes, sê die Here. Ek sal hulle land vir altyd verwoes laat lê.

JEREMIA 25:3-12 Die Boodskap (DB)

“Dit is nou vir 23 jaar wat die Here vir my boodskappe gee. Vandag nog sê Hy steeds vir my wat om vir julle te sê. Dit het begin in die dertiende jaar wat Josia koning van Juda was. Koning Josia was die seun van Amon. Ek het altyd vir julle gesê wat die Here sê, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie. Die Here het weer en weer sy profete na julle toe gestuur, maar dit het nie gehelp nie. Julle het nie na hulle geluister nie. Om die waarheid te sê, julle het nie eens probeer om te hoor wat hulle wou sê nie. Die boodskap was duidelik: Julle is op die verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het. Maar julle moenie agter ander gode aanloop nie. Moet hulle ook nie dien of voor hulle buig nie. Julle maak My baie kwaad as julle dit doen, want julle het hierdie gode met julle eie hande gemaak. As julle hierdie gode nie so vereer nie, sal Ek niks slegs aan julle doen nie. “Maar julle het nie na My geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle aanbid het. So het julle vir julleself moeilikheid gemaak.” Die Here is sterker as alles en almal, en Hy sê: “Omdat julle nie na My wou luister nie, sal Ek al die volke uit die noorde bymekaar laat kom. Ook vir koning Nebukadnesar van Babel wat vir My sal werk. Ek sal hulle teen hierdie land en almal wat in die land bly, laat baklei. Hulle sal ook teen die volke wat in die omgewing is, baklei. Ek sal julle heeltemal vernietig. Mense sal skrik as hulle julle sien. Hulle sal minder as niks van julle dink en met julle spot. Ek sal sorg dat julle nie meer bly sal wees en lag nie. Selfs die vrolikheid by troues sal nie meer gehoor word nie. Die meule waarmee koring gemaal word, sal stil wees. Daar sal ook nie meer in die aand lig in die huise wees nie, want daar sal nie meer mense oor wees nie. Die hele land sal ’n verlate plek wees. Net ’n klomp murasies sal oorbly. Al hierdie nasies sal vir 70 jaar vir die koning van Babel werk. “Na die 70 jaar sal Ek die koning van Babel en sy mense straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek sal hulle land vir altyd verwoes.

JEREMIA 25:3-12 Bybel vir almal (ABA)

Jeremia het gesê: “Ek het 23 jaar lank gehoor wat die Here vir my gesê het. Dit het begin in die dertiende jaar nadat Josia seun van Amon koning van Juda geword het. Ek het aangehou om met julle te praat, maar julle het nie geluister nie. En die Here het al sy dienaars, die profete, na julle toe gestuur. Hy het aangehou om dit te doen, maar julle het nie geluister nie, julle was ongehoorsaam. Die Here het gesê: ‘Julle moet asseblief terugkom na My toe. Julle moet ophou om sleg te lewe en verkeerde dinge te doen. Dan sal julle altyd woon in die land wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het. Julle moenie ander gode dien en aanbid nie. Julle moenie vir My kwaad maak met beelde wat julle self gemaak het nie. As julle gehoorsaam is, dan sal Ek julle nie laat swaarkry nie. Maar julle het nie geluister nie. Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle self gemaak het, en daarom kry julle swaar.’ “Die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Omdat julle dit gedoen het, omdat julle nie gehoorsaam was aan My nie, daarom stuur Ek nou 'n boodskap na al die volke in die noorde, en na my dienaar Nebukadnesar, koning van Babel. Ek sal daardie mense bring teen hierdie land en teen almal wat hier woon en ook teen die volke rondom hierdie land. Hulle sal julle aanval en so sal Ek hierdie mense doodmaak. Ek sal julle land verwoes, mense sal skrik as hulle die land sien en hulle sal loop en fluit. Die stede sal hope klippe word wat altyd hier sal lê. Niemand sal hier feesvier nie en niemand sal trou nie, niemand sal in die oggend koring maal en niemand sal in die aand 'n lamp opsteek nie. Die hele land sal vol hope klippe lê en niemand sal hier woon nie. Die mense wat hier was, sal vir die koning van Babel moet werk, 70 jaar lank. Maar wanneer die 70 jaar verby is, dan sal Ek die koning van Babel en sy mense in Galdeër-land straf oor wat hulle gedoen het. Dan sal daar nie meer mense in daardie land woon nie.

JEREMIA 25:3-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Vanaf die dertiende jaar van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, tot op hierdie dag — nou drie-en-twintig jaar lank — het die woord van die HERE tot my gekom; en ek het julle toegespreek, vroeg en laat, maar julle het nie geluister nie. Ook het die HERE al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat — maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie — met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu; en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie. Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE — om My te terg met die werk van julle hande, julle tot skade. Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak 'n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope. En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp. En hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien. En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak.

JEREMIA 25:3-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Vanaf die dertiende regeringsjaar van Josia, seun van Amon, koning van Juda, tot op hierdie dag, drie-en-twintig jaar lank, het die woord van die HERE tot my gekom. Ek het aanhoudend met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie. Die HERE het al sy dienaars, die profete, aanhoudend na julle gestuur, maar julle het nie geluister nie. Julle het nie julle ore oopgemaak om te luister nie. Die boodskap was, ‘Draai tog om, elkeen weg van sy verkeerde pad, weg van julle bose dade, sodat julle kan bly woon op die grond wat die HERE van altyd af en vir altyd aan julle en julle voorouers gegee het. Moenie agter ander gode aanloop om hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig nie! Moet My nie tart met julle handewerk nie, sodat Ek julle nie kwaad aandoen nie. Maar julle het nie na My geluister nie,’ is die uitspraak van die HERE, ‘sodat julle My getart het met julle handewerk, tot julle eie nadeel.’ Daarom, so sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Omdat julle nie na my woorde geluister het nie – kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die noorde ontbied,’ is die uitspraak van die HERE, ‘ook Nebukadresar, koning van Babilonië, my dienskneg, en Ek sal hulle bring na hierdie land en sy inwoners, en na al die omliggende nasies. Ek sal hulle met die banvloek tref, en hulle 'n skrikbeeld maak, die rede vir 'n gefluit, en puinhope vir altyd. Ek sal by hulle die klank van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geskuur van maalklippe en die lig van lampe. Hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babilonië sewentig jaar lank dien. “ ‘Maar as die sewentig jaar verby is,’ is die uitspraak van die HERE, ‘sal Ek oor hulle sondeskuld rekenskap eis van die koning van Babilonië en van daardie nasie, en van die land van die Galdeërs. Ek sal dit vir altyd woestenye maak.

JEREMIA 25:3-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Van die dertiende jaar van Josia, die seun van Amon, die koning van Juda af, tot vandag toe, dit is die drie en twintigste jaar, het die woord van die HERE tot my gekom, en Ek het met julle gespreek, vroeg opgestaan en gespreek; maar julle het nie geluister nie. En die HERE het al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg opgestaan en hulle gestuur; maar julle het nie geluister en julle oor nie geneig om te hoor nie. Hulle het gesê: Bekeer julle tog, elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en aan julle vaders gegee het vir ewig en altyd. En moenie agter ander gode aan loop om hulle te dien en hulle te aanbid nie en My nie terg met die werke van u hande nie; en Ek sal jou geen kwaad doen nie. Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE; sodat julle My kan terg deur die werke van julle hande tot julle skade. Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle my woorde nie gehoor het nie, Kyk, Ek stuur en neem al die geslagte van die noorde, spreek die HERE, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar, en Ek sal hulle bring teen hierdie land en teen die inwoners daarvan en teen al hierdie nasies rondom, en Hy sal hulle met die banvloek tref en hulle 'n verbasing en 'n gespot en 'n ewige verwoesting maak. Verder sal Ek van hulle wegneem die stem van vreugde en die stem van blydskap, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die meulstene en die lig van die kers. En hierdie hele land sal 'n wildernis en 'n verbasing wees; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar dien. En as sewentig jaar verby is, sal Ek besoeking doen oor die koning van Babel en daardie nasie, spreek die HERE, oor hulle ongeregtigheid en die land van die Chaldeërs, en Ek sal dit ewige verwoestings maak.

JEREMIA 25:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Dit is nou al 23 jaar dat die HERE vir my boodskappe gee. Vandag gee Hy my nog boodskappe vir julle. Dit het begin in die dertiende jaar dat Josia seun van Amon koning van Juda was. Ek het altyd al hierdie boodskappe aan julle oorgedra, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie. “Die HERE het by herhaling sy diensknegte – die profete – na julle gestuur, maar julle het nie na hulle geluister nie. Julle het nie eers probeer hoor wat hulle wou sê nie. Die boodskap was: ‘Julle is op ’n verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het. Moenie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle maak My baie kwaad wanneer julle buig voor gode wat julle met julle eie hande gemaak het. As julle dit staak, sal Ek geen kwaad aan julle doen nie.’ “Maar julle het nie na My geluister nie,” sê die HERE. “Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle gemaak het. So het julle julleself skade aangedoen. “Die HERE, die Almagtige, sê: Omdat julle nie na my boodskap wou luister nie, sal Ek al die leërs uit die noorde bymekaar laat kom, sê die HERE, en koning Nebukadnesar van Babel wat in my diens is, sal hulle lei. Ek sal hulle teen hierdie land en almal wat in die land bly en teen die volke in julle omgewing laat optrek. Ek sal julle heeltemal vernietig en vir altyd verwoes. Mense sal skrik as hulle julle sien. Hulle sal julle verag en met julle spot. Ek sal sorg dat julle nie meer sal bly wees en lag nie. Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal ook nie meer opklink nie. Julle besighede sal bankrot wees en julle huise stil en donker. Die hele land sal ’n verlate plek wees. Net ’n klomp murasies sal oor wees. Julle en julle bure sal vir 70 jaar in diens van die koning van Babel wees. “Ná die 70 jaar sal Ek die koning van Babel en sy mense straf oor hulle sonde, sê die HERE. Ek sal hulle land vir altyd verwoes.